|
IN
HIERDIE NUUSBRIEF:
1. Omskakeling van SA bestuurderslisensies na NZ
bestuurderslisensies - GOEIE NUUS!
2. Werksoek vangplekke en gedrag van Immigrante
3. Medies - Eggenotes van werkpermithouers.
4. NZ Expo in Johannesburg 19 & 20 Julie 2008 - Was dit die moeite werd?
5. Kostes - Vraghouer (container) en Medies.
6. Plaaswerkers - poste
7. Verpleegsters - poste
8. Immigrasieagente - "Fly by nights".
9. LSD-toere - Belangrik of moet jy dit liefs self doen?
REAKSIE OP VERLEDE MAAND SE ARTIKEL - "SA PLAKKERSKAMP IN NZ?"
WOW!! My artikel "SA PLAKKERSKAMP IN NZ?" in verlede maand se
Kiwiboer Nuusbrief het ongelooflike reaksie ontlok en ek sal NOOIT al die
e-mails kan beantwoord wat ek daaroor ontvang het nie. Ek het nie eens geweet
soveel mense lees regtig die nuusbrief met soveel aandag nie!
Meeste van die e-mails was baie positief, maar 'n hele paar mense het hulle
skoonste stel onderkleertjies erg bemors en hulle ou speelgoedjies vreeslik uit
die kot gegooi het!
Natuurlik het dit die blindes van die "KOM HUISTOE (om vermoor te word!)"
veldtog 'n vreeslike inspuiting gegee en het vele van hulle (en lede van 'n
sekere vakbond in SA) met groot vermakerigheid vir my geskryf dat dit net
bevestig dat SAners se toekoms nie in die buiteland lê nie. My antwoord daarop
is eenvoudig - SAners is so deperaat om uit die omstandighede in SA te ontsnap
dat dit hulle DWING om sulke desperate stappe te neem!
Hoe dit ookal sy, ek wil nie 'n geveg begin nie, maar dis BAIE BAIE duidelik dat
immigrasie 'n baie teer puntjie in SA is!
1. GOEIE NUUS!!
Vanaf 1 September 2008 is die nie meer nodig vir SAners om enige toetse te skryf
om hulle SA
bestuurderslisensies om te skakel na NZ Bestuurderslisensies nie. Dit geld egter
net vir "Class 1" (ligte
M/voertuig) en "Class 6" (motorfiets) lisensies. Jy moet 'n "full" lisensie hê,
met ander woorde jy kan nie jou leerlinglisensie omskakel nie. Enige SAner met
geldige permanente SA bestuurderslisensie kan sy/haar lisensie laat omskakel by
enige LTSA "licensing agent".
Volle bewoording van die wetsverandering - (From 1
September 2008, drivers applying to convert their overseas licence to a New
Zealand Class 1 (light four-wheeled vehicle) or Class 6 (motorcycle) licence
will not have to pass a theory test if their overseas licence was issued by one
of the specified countries whose licence holders are currently exempt from
passing a practical driving test in New Zealand. Applicants who are applying to
convert heavy vehicle licence classes to New Zealand’s equivalent classes (ie,
Classes 2-5) will still have to pass an appropriate theory test in New Zealand.)
Bron
2. WERKSOEK VANGPLEKKE & GEDRAG VAN IMMIGRANTE
Meeste
voornemende immigrante weet darem noual dat jy so 'n bietjie navorsing moet doen
om uit te vind of daar poste in NZ is vir die tipe werk wat jy wil doen. Hulle
besoek dan ook die mees gewildste werksoek webwerwe in NZ en soek vir poste in
hulle rigting en as hulle 'n pos of twee daar kry is hulle tevrede hier is werk
vir hulle en koop die vliegtuigkaartjie.
Werksoek op die Internet is basies die mees elementêre navorsing wat jy kan doen
en is net die BEGIN punt van jou navorsing, want om poste op die Internet te
sien beteken lank NIE jy gaan dit kry nie! Ek kry weekliks 'n hele klompie
e-mails van gekwalifiseerde mense wie al weke en soms 'n maand of meer hier sit
sonder dat hulle 'n enkele werksonderhoud kon kry en nie kan verstaan hoekom
nie, want daar is dan so baie poste beskikbaar.
Die meeste van die tyd kan 'n mens dit terug voer na onvoldoende navorsing EN
onvoldoende
VOORBEREIDING. Werksoekers maak nie seker dat hulle geregistreer is by
beheerliggame nie, hulle laat nie hulle kwalifikasies by die NZQA evalueer nie,
hulle kyk nie of hulle beroepe/ambagte op die "Skills Shortage Lists" is nie en
hulle maak nie seker dat hulle "skills set" voldoen aan dit wat die NZ
arbeidsmark verwag nie. Hulle volg 'n "shotgun approach" en stuur dosyne
generiese CV's uit in 'n mogge troffe houding in plaas van om spesifieke firmas
of bedrywe uit te sonder, na te vors en doelgemaakte CV's na hulle teikens uit
te stuur.
As jy gou-gou wil weet of jy die kwalifikasies en/of ervaring het wat in die NZ
arbeidsmark gesoek word stuur jou CV na 'n goeie werwingsagentskap (recruitment
agency) en jy sal baie vinnig weet! Hierdie agentskappe weet PRESIES wat gesoek
word en omdat hulle vir 'n komissie werk soek hulle spesifiek net daardie mense
wat bemarkbaar is en sal jou vinnig laat weet of jy reg of weg is.
Veral SAners moet ook nou nog daarby byvoeg die toenemende ongewildheid van
SAners by
Kiwi-werkgewers. Dit is 'n vreeslike hartseer verwikkeling wat toenemend die
afgelope paar maande sy kop begin uitsteek het en baie probleme vir voornemende
immigrante veroorsaak. Ek kan nie vreeslik daarop uitbrei nie, want dit sal 'n
hele nuusbrief op sy eie vat om alles daaroor te sê. Kortliks kom dit daarop
neer dat baie SAners met kwalifikasies hier aankom met een MOERSE "chip" op die
skouer en met alles ongelukkig is en verwag alles en almal moet vir hulle reg
staan. Dit gee baie aanstoot by die Kiwi's en ons word nou heeltemal tereg
gesien as BAIE arrogant en ONSMAAKLIK om mee te werk.
'n Voorval wat orals opslae gemaak het was 'n sekere groepie SAners wie probeer
het om in 'n sekere
staatsdepartement hulle gewig rond te gooi en hulle eie "privaat vakbond" of
drukgroep te stig om vir hulle voordele te beding omdat hulle gedink het hulle
is vreeslik ougat, uitsonderlik en uniek! Hulle het begin eise en voorwaardes
stel ( "We DEMAND"! - soos hulle mooi by die vakbonde in SA geleer het!- Viva
Comrade!!) en het deur hulle optrede onberekenbare skade berokken aan die beeld
van SAners in daardie staatsdepartement spesifiek en in die NZ Staatsdiens in
die algemeen.
Die spesifieke staatsdepartement het aan baie SAners 'n uitkoms gegee en die
kans om permanent in NZ te vestig en dit was wat hulle in dank daarvoor ontvang
het! Die arrogansie van sommige nuwe immigrante slaan baie keer jou asem weg en
die ergste van alles is hulle dink dis NORMAAL!! Nodeloos om te sê dat ,danksy
ons broertjies, is nog 'n deur vir SA immigrante nou dig toegemaak en dink
daardie staasdepartement nou meer as twee keer voordat hulle weer 'n SAner
aanstel!
Asof die bostaande nie genoeg is om 'n mens moedeloos te maak nie begin SAners
ook nou vinnig om 'n naam te kry as "job hoppers". Skaars het 'n werkgewer deur
al die moeite gegaan om die NZ Immigrasiediens aan te durf en 'n SA immigrant in
diens te neem of ons soek 'n ander werk en los die arme man net so! Lyk my nie
ons is meer 'n nasie van VASBYTERS nie! Ek het nie nou tyd of plek om hierop uit
te brei nie, maar dit gee 'n mens iets om aan te dink.
New Zealand is 'n klein plekkie en nuus, VERAL slegte nuus, versprei blitsvinnig
en daar is min goed wat nie uiteindelik uitkom nie EN op die TV-nuus uitgesaai
word nie!
Ek het al voorheen oor hierdie onderwerpe geskryf en letterlik honderde e-mails
teruggekry van mense vir wie die skoen baie duidelik gepas het, maar ek is maar
net die boodskapper ek is NIE die ou wat hierdie soort van AAAAA aanjaag nie en
ek rapporteer maar net wat aangaan en wat mense aan my rapporteer in amper 300
e-mails elke maand.
3. MEDIES - WERKPERMITHOUERS EN HULLE EGGENOTES EN KINDERS.
Vir SAners
met NZ Werkpermitte om te kwalifiseer vir gratis mediesevoordele MOET jy 'n
werkspermit hê wat vir 2 jaar of langer geldig is. Net die werkspermithouer en
kinders onder 19jr. is geregtigtig op gratis medies.
Die
eggenote/eggenoot of "partner" van die werkspermithouer moet op haar/sy eie
kwalifiseer vir gratis medies deur 'n werkspermit te kry vir twee jaar of
langer, MAAR gewoonlik kry jou "partner"' n "oop" werkspermit (as hy/sy aansoek
doen!) vir dieselfde tyd as wat joune geldig is en as dit vir twee jaar of
langer is sal hy/sy ook kwalifiseer vir gratis medies.
Gaan kyk by:
http://www.moh.govt.nz/moh.nsf/indexmh/eligibility-guide-workpermit2years
4. NZ EXPO IN JOHANNESBURG - 19 & 20 Julie 2008 - WAS DIT DIE MOEITE WERD?
Ek was nie
self daar nie, maar het tonne e-mails daaroor gekry. Soos ek verstaan was dit
amper totale chaos en het die oraginiseerders die belangstelling hopeloos
onderskat.
Mense het vir ure gewag om in te kom en toe hulle uiteindelik in is kon hulle
nie by die werkgewers of
werwingsagentskappe uitkom nie. By sluitingstyd het die mense blykbaar net hulle
CV's op 'n hoop gepak by die stalletjie waar hulle gestaan het en ek verstaan by
sommige stalletjies het die CV's soos miershope gestaan. Hopelik het daardie
mense darem al 'n terugvoer brief gekry! Yeah Right!
Belangstellendes het selfs van die Kaap af gevlieg om by die expo uit te kom en
moes daarby nog R150.00 betaal het en heel dag wag om NIKS uit te rig nie. Die
cherry op die expo-koek was blykbaar dat die NZ Immigration Service nie eens
daar teenwoordig was nie en ek sou sê dis amper die belangrikste mense op so 'n
expo. Hopelik is die volgende expo 'n beter beplande affêre.
5. KOSTES - VRAGHOUER (container) ,MEDIES & NZQA.
Ek word baie gevra na die kostes van vraghouers na NZ en die kostes van die
medieseverslae en NZQA.
Hier is die kostes kortliks (met dank aan Anton Pienaar):
Vraghouer (40 vt) - R110 000.00 - Insluitende versekering
Om jou meubels in SA te laat stoor vir 'n jaar - Ongeveer R6500.00
Om jou Immigrasiemedies te laat doen (gesin van 4) - Ongeveer R8000.00
NZQA asessering van kwalifikasies (per persoon) - Ongeveer R3000.00
6. POSTE VIR PLAASWERKERS IN NZ
As jy 2 jaar of meer ervaring het van melkboerdery of beesboerdery is daar 'n
goeie kans dat jy werk sal kry op 'n melkplaas in NZ en as jy nie bang is vir
harde werk en lang ure nie kan jy gerus die dames kontak by FARMRITE NZ -
www.farmrite.co.nz
7. VERPLEEGPOSTE IN NZ
Geregistreerde verpleegsters wie in NZ wil kom werk moet my DADELIK kontak. Ek
kan jou direk in verbindig bring met die personeelbeampte van 'n groot privaat
hospitaalgroep in NZ en jy hoef nie deur 'n werwingsagent te gaan of ENIGE
kostes te betaal nie. Skakel onnodige rompslomp uit en praat direk met die
werkgewer!!
8. IMMIGRASIEAGENTE - "FLY BY NIGHTS".
Wees
ASSEBLIEF versigtig vir die honderde immigrasieagente wat mense nader met
vreeslike oulik beloftes van Immigrasie na NZ. Daar is so baie van hulle deesdae
dat 'n mens nie kan bybly nie. Vra asseblief rond en doen 'n bietjie navorsing
oor die agentskappe en moet ASSEBLIEF nie enige geld aan die mense oorbetaal
voordat jy nie 100% seker is van hulle nie!
9. LSD-TOERE
Natuurlik moet ek ook iets sê oor ons LSD-toere.
Eerstens - bespreek asseblief vroegtydig, want die besprekings begin nou
instroom vir die somer toere en besprekings vir so vêr as April 2009 is al
ontvang.
Tweedens - Hoekom sal jy nou juis op 'n LSD-toer van ons wil kom in plaas van om
lekker op jou eie te kom toer met 'n campervan?
Daar is baie redes, maar die vernaamste drie is GERIEF,TYD en WAARDE VIR GELD.
GERIEF - Jy word op die lughawe gaan haal en weer daar afgelaai! Ons sorg
ook vir alles tussenin en al wat jy moet doen is om dit te geniet! Geen kar
huur, geen taxi's, geen verblyfbesprekings, niks nie! Klim net op en ry saam,
makliker kan dit nie wees nie.
TYD - Ons kan jou in 5 dae alles laat sien wat ons dink nodig is om jou
te oortuig dat NZ die
immigrasiebestemming vir jou is. As jy 'n besigheid het of 'n baie besige
professionele lewe ly kan jy nie tyd mors om dinge te soek en navrae te doen
nie. Jy moet reguit na dit geneem word wat vir jou belangrik is en waarin jy
belang stel of wat jy wil weet of sien. As jy inligting soek kan ons dit
doelgemaak vir jou kry en ons kan jou in kontak bring met die regte mense. Dis
nie vir jou nodig om rond te val en kontakte te probeer opbou nie - ons het dit
KLAAR vir jou gedoen. Laat dit aan ons oor!
Jy kan op 'n Vrydagmiddag in SA op die vliegtuig klim, ons toer doen en weer die
volgende Maandag by die werk instap sonder dat enigiemand weet jy was weg!
WAARDE VIR GELD - As jy op jou eie 'n toer soos ons s'n wil doen
sal jy minstens dubbel die tyd moet neem om dit reg te doen. As jy die
avontuurlike tipe is wie graag verdwaal, daarvan hou om ure met jou neus in
kaarte te sit of honderde "way points" op jou GPS in te tik uit
toerismebrosjures, by karavaanparke te slaap en ure op die pad te spandeer
is jy nie 'n kandidaat vir ons toere nie en kan ek jou die name van 'n hele paar
Campervan-verhuurders stuur.
As jy egter
daarvan hou dat dinge glad verloop en jy nie met nonsens en allerhande ou
reëlingtjies opgeskeep wil sit nie kom gerus op ons toere, ons wag vir jou!
POSTE WAT DIE AFGELOPE MAAND GESIRKULEER IS:
Diesel Mechanic
Production Fitter & Turner
Fabricator Welders
Industrial Electricians
Instrumentation Technicians
Stainless Steel Fabricator Welders
CNC Operators/Machinists or Programmers
Nurses
Clinical Psychologists
Physiotherapists
Occupational Therapists
Radiation Technicians
Sonographer
Radiographer
Doctors
Civil Engineers
Customer service / account managers
Refrigeration Controls Sales Engineer
Transport Engineers/Planners
Chartered Accountants
Call centre Team Leaders
Business Analysts
Mechanical Engineers
SAP Consultants
SAP Contractor
Snr SAP Consultants
Control Systems Engineer
Mechanical, Electrical Engineering
Control & Instrumentation Design Engineers
Snr Electrical Design Engineer
Pre-Primary, Primary and Secondary School Teachers (English in particular)
Medical Radiation Technologist
Correctional Officers
Electricians, Plumbers, Gasfitters, Locksmiths, Riggers, Fitter and Turners
Farm Managers
Tradespeople - Sheetmetal fabricators
Mechanics
Production Manager: Science / Microbiology
CAD Designers
Sale Engineer: Automotive Diagnostic Equipment
Senior Electrical Engineer – Engineering Services
Mining Engineer – Technical Services
Fitter / Welders
Hydraulic Sales Engineer
Design Engineer
Stormwater Engineer
Transportation Asset Manager
Water and Wastes Asset Manager
Printer Technician
Automation Engineer
Kry
Kiwiboer Nuusbriewe by:
http://www.kiwiboer.virafrikaans.com/nuusbriewe.htm
Mooi bly en vasbyt.
Louwrens vd Merwe - Kiwiboer.co.nz
|