KIWIBOER NUUSBRIEF - FEBRUARIE 2009

 

Elke keer as ek die nuusbrief opmaak dan wonder ek hoe dit gebeur dat ek weer 2 weke laat is! Die Januarie nuusbrief het in die helfte van Februarie uitgegaan en die Februarie nuusbrief in die helfte van Maart! Sorry mense, ek weet nie hoe ek dit regkry nie, maar ek is konstant 2 weke agter. My seun sê daar is ‘n mooi Afrikaanse woord daarvoor, ek is pleinweg net mooi “deur die ..k!”

 

Anyway,  hier is dit nou.

 

WAT IS IN DIE NUUSBRIEF?

 

  1. HOE AFFEKTEER DIE RESESSIE IMMIGRANTE

  2. IMMIGRASIE EN ARBEIDSMARK UIT SYNC!

  3. WAAR IS AL DIE JOBS?

  4. INTERESSANTE IMMIGRASIEGOETERS

  5. HOEKOM KRY JY WEER DIE NUUSBRIEF PER e-POS?

 

Soos sekere mense wil ek ook ander mense blameer vir dinge wat in my lewe skeef loop i.p.v om self verantwoordelikheid te vat, maar regtig as ek net reguit antwoorde uit mense kan kry sal dit ook baie dae se werk spaar. Elke maand voordat ek my bek uitspoel oor wat in die arbeidsmark aangaan bel en e-pos ek eers ‘n klomp mense van Auckland tot Christchurch om te hoor wat die situasie op grondvlak  in die arbeidsmark is. Onder die mense is Immigrasieagente, Werwingsagente (recruitment agents), Werkgewers, Joernaliste en sommer net gewone mense (Kiwi’s en SAners).

 

Van die “gewone” mense kry ek altyd reguit antwoorde, maar die ander span wil altyd ‘n vreeslike omslagtige antwoord gee en elke antwoord verduidelik. Die vrae wat ek die afgelope maand vir almal gevra het is: 1) Kan jy die effek van die Internasionale resessie in jou werkplek sien/ ervaar jou besigheid ‘n resessie? 3). Wat is die effek?  3) Is daar nog poste beskikbaar vir immigrante? 4) Beplan julle om mense af te dank?

 

Deur al die newel en rook het ek nou die antwoorde bymekaar gesit en is my samevatting van die huidige situasie in ons arbeidsmark nou min of meer so:

 

  1. Kiwi besighede/werkgewers/maatskappye begin die resessie nou aan hulle gatte voel en dit gaan erger raak. Daaroor het almal min of meer konsesus.

  2. Daar is nog poste vir immigrante beskikbaar, maar in baie gespesialiseerde ambagte en professies. Ek wil nie in detail daarop ingaan nie, want dan moet ek ‘n lys maak en ek kan nie.

  3. Die meerderheid van besighede voorsien nie dat hulle binne die volgende 6 tot 9 maande nuwe poste gaan vul nie. Hulle sal waarskynlik poste vul wat vakant raak, maar hulle gaan NIE nuwe poste skep nie.

  4. Omtrent die helfte van besighede (wat ek weet immigrante in diens neem), wat ek gebel het beplan vir afleggings en dink dit gaan onvermydelik wees om mense af te dank of minder ure te laat werk.

  5. Oortydwerk het feitlik opgedroog by fabrieke.

  6. Die boubedryf en grondverskuiwingsbedrywe is reeds ernstig in die knyp en ambagsmanne in daardie bedrywe begin volop raak in die arbeidsmark.

  7. Die toeristebedryf  het heel eerste die effek van die resessie gevoel en het plek plek ernstige probleme en besprekings by die duurder “upper class” gastehuise en hotelle het baie afgeneem of heeltemal opgedroog. Selfs die toeriste wie voorheen in die duurder plekke tuisgegaan het soek nou goedkoper opsies van verblyf en vervoer.

  8. Daar is ‘n ooraanbod van immigrante wie bereid is om “enigiets” te doen en dit veroorsaak dat poste vir ongekwalifiseerde persone soos arbeiders, ens. hier by die “minimum wage” vlak rond hang en nog vir lank daar gaan bly. Veral immigrante uit die “Pacific Islands”, Sjina en die Fillipyne is orals te siene. Jy kan NIE op die  “minimum wage”oorleef NIE, maar hierdie immigrante bly in groot getalle bymekaar en gooi hulle inkomstes saam om te oorleef. Vir baie van hulle is die lewe onder sulke omstandighede in elk geval ‘n duisend maal beter as in hulle tuislande, so dit is nie vir hulle ‘n probleem nie.

  9. Dit kan soms maande vat om ‘n werk te kry en immigrante wie nou hier aankom word omtrent almal gesien as “desperate” en gaan beslis nie die beste salaris kan beding nie.

  10. Die Arbeidsmark en die Immigrasiebedryf en beleid in NZ is HEELTEMAL uit sinchronisasie uit en dit veroorsaak nog meer probleme vir werksoekers – ek sal dit hieronder meer breedvoerig verduidelik.  

 

IMMIGRASIE EN ARBEIDSMARK UIT SINC!

 

Enigiemand wie al iets te doene gehad het met die Immigrasieproses of die NZ Immigrasiedepartement WEET dat die maatstaf van jou Immigrasiepunte rondom die sogenaamde “Skills Shortage Lists” draai. Ons weet ook dat die “Skills Shortage Lists” MINSTENS 6 maande agter die werklike arbeidsmark is en selde regtig weerspieël wat in die arbeidsmark aangaan.

 

Voeg by hierdie agterstand nog minstens 6 tot 9 maande om die immigrasieproses af gehandel te kry en dit  gebeur dat  jy met jou PR in NZ aankom met die idee dat daar vir jou werk is, maar jou kennis van die arbeidsmark is minstens ‘n jaar agter en in ‘n jaar kan (en HET)  BAIE dinge verander.

 

Goed gekwalifiseerde immigrante wie in die eerste helfte van 2008 genoeg punte gehad het om vir PR te kwalifiseer sonder ‘n werksaanbod het hulle punte gekry op die “Skills Shortage Lists” wat in November/Desember 2007 uitgekom het en die arbeidsmark weerspieël het soos dit in die middel van 2007 was en toe ons in ‘n bloeitydperk was! Hierdie immigrante het nou hulle PR gekry en is nou besig om in NZ aan te kom in die middel van ‘n RESESSIE en kan nie verstaan hoekom dinge nou so radikaal anders is nie. Verlede jaar was daar nog groot tekorte aan hulle tipe ambag/professie en nou kan hulle nie werk kry nie! Dis ‘n baie ongelukkige situasie en my hart gaan uit na hierdie mense.

 

Ek gee nie om wat enigiemand anders vir jou oor hierdie saak sê nie, maar ek sê dit weer (seker vir die 1000ste keer) MOENIE net alles oppak en hier in NZ kom afklim IN DIE HOOP dat alles gaan uitwerk nie. Dit GAAN nie. Belê in BEPLANNING  - KOM KYK en vind uit – en met “kom kyk” bedoel ek nie huur ‘n campervan en ry deur NZ nie. Jy gaan jou geld mors, want al wat jy gaan sien is hoe mooi NZ is en al wat jy gaan voel is hoe graag jy wil kom. Dit gaan jou egter nie help om jou immigrasie beter aan te pak nie! Met “kom kyk” bedoel ek eintlik “kom praat” met die regte mense. Kom praat met werkgewers, Immigrasiekonsultante, werwingsmaatskappye, ander immigrante, ens. en maak seker jy gaan reg kom en aanpas. Ons doen al hierdie goed en nog meer op ons LSD-toere , maar ek sê nie jy moet op een van ons toere kom nie, doen dit net voordat jy kom, al doen jy dit self.

 

 WAAR IS AL DIE WERK?

 

Iets wat ek nie kan verklaar nie (en ook niemand anders met wie ek gepraat het nie!) is WAAR IS AL DIE “JOBS”??

 

Ek kry elke maand dosyne e-mails van mense wie hier aangekom het en nie kan werk kry nie, maar as jy vinnig na die grootste werksoek websites kyk sal jy sien daar is ongeveer 11 000 poste op SEEK, 6600 op TRADEME en 4000 op HERALD JOBS. Ten spyte van die resessie blyk dit dat daar volop poste is vir ‘n klomp mense, maar immigrante kan nie werk kry nie!

 

Waar lê die probleem? Almal begin Uhmm en Ahhh as ek die vraag vra en gorrel die grootste klomp st…nt wat my nie by die antwoord kry nie, maar ek het darem ‘n paar redes so deur alles uitgevind.

 

  1. ‘n Teësinnigheid (“averseness” = Engels) om immigrante aan te stel en om betrokke te raak by die immigrasieproses en NZ Immigrasiedepartement. By die oorgrote meerderheid van poste wat op die Internet geadverteer word (ek sal sê dis noual eerder die norm as ‘n uitsondering) staan die voorwaarde: “Only people with the right to work in New Zealand may apply for this position.” -  As jy hierdie voorwaarde sien moet jy weet hulle wil nie immigrante in diens neem nie.

  2. Reservering (nie amptelik!) van poste vir Kiwi’s of immigrante uit Engelssprekende lande – veral Engeland.

  3. Reservering van poste (amptelik) vir werklose Kiwi’s  – veral poste waar jy nie veel kwalifikasies nodig het nie soos arbeiders, sekuriteitswagte, kelners, ens. By hierdie poste gaan jy sukkel om ‘n werkspermit te kry en as jy een kon kry gaan jy sukkel om jou permit hernu te kry.

  4. Groot getalle Kiwi’s keer as gevolg van die resessie terug na NZ  uit Ozzie, Engeland, Dubai, die Emirates en Amerika. Hierdie Kiwi’s kry voorkeur bo immigrante en hulle getalle begin nou ‘n verskil maak.

  5. Werwing van mense in Engeland het nog nie afgeneem nie en Hamilton word nog ernstig onder mense in Engeland bemark as ‘n plek met baie werk en ‘n fantastiese lewensstyl. Die lewensstyl gedeelte is waar, maar oor die “baie werk” kan ons debatteer.

  6. ‘n Groot toename in immigrante uit SA wie nie spesifieke kwalifikasies het nie of kwalifikasies het wat nie hier in aanvraag is nie.

 

Die probleem van immigrante uit SA wie nie in NZ kan werk kry nie of baie lank sukkel om werk te kry gaan nie gou gou opgelos word nie en gaan eerder nog erger word as ek so na dinge kyk en luister wat die mense vir my skryf, want familie en vriende moedig nog steeds hulle familie en vriende in SA aan om “net te kom” en hulle luister nie na raad of rede nie.

 

Wat ook die situasie gaan vererger is dat Australië sy immigrasiekwota met 14% verminder het van 133 500 tot 115 000 immigrante per jaar, terwyl die kwota in NZ dieselfde bly nl. op 45 000 immigrante per jaar. Baie immigrante gaan nou eerder na NZ kyk as ‘n immigrasiebestemming.

 

NS:

Ek wil ook net ‘n aanmerking maak oor die teësinnigheid van Kiwi werkgewers om SAners aan te stel en dit is dat dit nie as gevolg van enigiets is wat die Kiwi’s teen SAners het nie, maar as gevolg van probleme wat die immigrante uit SA self veroorsaak het. In die afgelope paar maande het ek van verskeie gevalle gehoor waar SA immigrante eensydig hulle werkskontrakte opgeskort het en sak en pak teruggekeer het na SA sonder om die werkgewer in te lig of op baie kort kennisgewing van ‘n paar uur of paar dae  of waar hulle oornag weggeloop het van plase waar hulle gewerk het en die boer net so gelos het om 600 koeie alleen te melk. Daar is baie ander voorvalle wat ek kan opnoem, maar hier is nie plek daarvoor nie.

 

NOG INTERESSANTE IMMIGRASIEGOETERS

 

Ek sou graag die onderstaande nuusbrokkies meer breedvoerig wou bespreek het, maar dan gaan die nuusbrief later soos ‘n rol toiletpapier lyk en daar is klaar reeds genoeg aaaaaaaa daar in!

 

IMMIGRASIE en GESONDHEID

 Lyk my as NZ Immigrasie nie ‘n ander rede kry om jou PR of werkspermit aansoek af te keur of te vertraag nie, dan klim hulle in jou gesondheid in. ‘n GROOT ophef word deesdae gemaak van mense wie oorgewig (obese – soos ek!) is en van mense met hoë bloeddruk en ‘n hoë cholesterol. So as jy in hierdie kategorië val moet jy ‘n plan maak voordat jy kom anders gaan jy hier vasval in die red tape.

 

NZQA- New Zealand Qualifications Authority - EVALUASIES 

Oor die NZQA-evaluasieproses van oorsese kwalifikasies het ek al honderde e-mails gekry en uit al die e-mails staan daar twee dinge uit soos ‘n paal bo water nl: 1 – Die tyd wat dit vat en 2 – Konstante lae aanslae. Eers het NZQA onderneem om evaluasies binne 21 dae af te handel, maar kon dit selde doen en deesdae sien ek hulle praat van 35 “working days” wat neerkom op 7 weke, maar ek sal eerder sê maak jou maar gereed vir 8 tot 10 weke. Die grootste klagte is egter dat oorsese kwalifikasies konstant laer aangeslaan word as ‘n gelykstaande NZ kwalifikasie. As jy voel dat jou kwalifikasie te laag aangeslaan is MOET jy daaroor kla en dit onder hulle aandag bring, dit is die enigste manier om hierdie ongelykheid reg te kry.

 

HOEKOM KRY JY WEER DIE NUUSBRIEF PER E-POS

Na ek in die laaste nuusbrief my speelgoed uit die kot gegooi het oor die ongeskikte mense wat hulle skirte vuilmaak as hulle per ongeluk die nuusbrief kry het ek amper ‘n 100 e-mails teruggekry van fantastiese mense vir wie die nuusbrief wel iets beteken en wat my ondersteun het. Ek vra verskoning oor my tantrum en sal my traantjies en my snot neus afvee en steeds die nuusbrief vir julle stuur.

 

NUUSBRIEWE IS OOK AANLYN BESKIKBAAR BY:

http://www.kiwiboer.virafrikaans.com/nuusbriewe.htm

 

BELANGRIKE NUUSBERIGTE OOR IMMIGRASIE / IMMIGRANTE:

 

OZZIE IMMIGRASIE AF MET 14% VAN 133 500 tot 115 000

 

16 FIRMAS PER WEEK BETAAL MENSE AF

 

POSTE VIR STUDENTE AF MET 20%

 

SA FAMILIE MOET NZ VERLAAT - WERSPERMIT WORD NIE HERNU NIE

 

VRIENDELIKE GROETE UIT CAMBRIDGE

 

LOUWRENS VAN DER MERWE

P.O. Box 559

CAMBRIDGE 3450

NEW ZEALAND