KIWIBOER NUUSBRIEF - JANUARIE 2009

 

 

WAT IS IN HIERDIE MAAND SE NUUSBRIEF?

 

  1. WERK RAAK SKAARS.

  2. TOENEMENDE MOEILIKHEID MET WERKSPERMITTE

  3. CV’s MOET NOU BETER AS OOIT TEVORE WEES

  4. IMMIGRANTE KAN MAANDE LANK WERK SOEK

  5. IMMIGRASIEAGENTE VEROORSAAK NOG STEEDS PROBLEME

  6. WERK SPAARSAMIG MET DAAI RANDJIES!

  7. SLEG TYD OM TE IMMIGREER GOEIE TYD OM TE KOM KYK

  8. LAASTE NUUSBRIEF IN HIERDIE FORMAAT – Ek is gatvol om uitgeskel te word.

 

WERK RAAK SKAARS - ERNSTIG

 

Die verswakking van die NZ Ekonomie begin nou merkbaar word en ons begin dit nou aan ons lywe voel. Dit vat heelwat langer om werk te kry en op baie aansoeke kry jy nie eens ‘n antwoord nie. Dit is geensins ongewoon vir Immigrante wie werk soek om 20 of 30 aansoeke met een slag in te sit nie. ‘n Onderwyservriend van my se broer (ook ‘n onderwyser) het oor ‘n tydperk van 2 maande vir 80 poste aansoek gedoen en 4 onderhoude gekry. Dit klink miskien erg, maar dit is maar die realiteite in NZ.

 

Dieselwerktuigkundiges was die afgelope paar jaar van die mees gesogte vakmanne in NZ en hulle kon kies en keur onder die poste wat aangebied is. Deesdae vind selfs dieselmacs dit moeilik om gou werk te kry, hoewel hulle darem nog redelik in aanvraag is. As jy beplan om binne die volgende maand of wat oor te kom om te kom werk soek sal ek ernstig aanbeveel dat jy jou gereed maak om heelwat langer te bly as wat jy beplan het.

 

In sekere beroepe is daar nog tekorte soos geregistreerde Geoktrooieerde Rekenmeesters, verpleegsters, radioloë, onderwysers, ens, maar dit is meestal in gespesialiseerde beroepe. Dit wil egter voorkom of die beroepsrade waar meeste professionele mense moet registreer soos bv. die  NZ Nursing Council, NZ Teachers Council, Physiotherapy Board of New Zealand, ens. uit hulle pad gaan om dit so moeilik as moontlik te maak vir oorsese applikante om te registreer. Eerstens vat hulle baie lank om kwalifikasies te evalueer en hou jou weke lank besig met oneindige dokumentasie oor jou opleiding en kwalifikasies en tweedens vereis hulle dat jy ‘n “band 7” punt kry in die Engelse IELTS-toets (Academic module). Selfs mense uit Engelssprekende lande moet nou die IELTS-toets skryf. Die IELTS Academic Module is nie ‘n maklike toets nie en self mense uit Engeland vind dit moeilik om ‘n “band 7” punt met die eerste slag te behaal.  

 

TOENEMENDE MOEILIKHEID MET WERKSPERMITTE

 

Sommige SAners wie nie dadelik vir PR gekwalifiseer het nie, het voorheen vir jare op werkspermitte hier gebly in die hoop dat hulle sal vorder tot ‘n punt waar hulle wel sal kwalifiseer, maar nou is daardie hoop ook ernstig geknou met die strenger vereisdes vir die hernuwing van werkspermitte. Vir alle werke wat nie op een van die “skills shortage lists” is nie moet die werkgewer eers bewys dat hy nie ‘n Kiwi vir die pos kon kry nie (en dit is nogal ‘n pyn om deur te gaan) voordat hy ‘n immigrant mag aanstel. Sekere poste wat hulle basies as “ongeskoold” sien soos sekuriteitswagte ,arbeiders, ens, is dit feitlik onmoontlik om ‘n werkspermit te hernu.

 

Ek wil weereens waarsku dat as jy binnekort na NZ te kom om te kom werk soek en jou beroep is nie op een van die “Skills shortage lists” wees daarop voorbereid dat jy dalk probleme met jou werkspermit kan hę en dat dit dalk lank kan vat om ‘n permit te kry.

 

INTERESSANTE GEVAL: Twee weke gelede bel ‘n man my met ‘n baie interessante probleem. ‘n Probleem waarvan hulle nie deur immigrasie ingelig was nie of ooit kon voorsien dat dit ‘n probleem kon wees nie. Die man het na NZ gekom en werk gekry en ook sy werkspermit vir 3 jaar. Die werkspermit het hom (alleen) geregtig gemaak op gratis medies in NZ. Op grond van sy werkspermit het sy vroutjie by hom aangesluit en ook vir haar werkspermit aansoek gedoen. Die enigste vangplek was dat die dame 35 weke swanger was!

 

Die dame se aansoek om werkspermit is geweier op grond van haar swangerskap en sy sit nou in NZ en kan nie na SA terugkeer om daar te kraam nie, want haar dokter wil nie toestemming gee dat sy vlieg nie!! Die enigste uitweg is nou dat die vroutjie hier moet kraam en dat hulle vir alle kostes moet betaal. Die bevalling en alles wat daarmee saamgaan kan enigiets van $4000 vir ‘n normale bevalling sonder komplikasies tot $12 000 vir ‘n keisersnit wees en hulle gaan vir alle kostes verantwoordelik wees.

 

Wees maar net bedag daarop dat, hoewel jou eggenoot/te ‘n werkspermit het, jy nie outematies een gaan kry nie en dat enige gesondheidstoestand maklik kan aanleiding gee tot die weiering van ‘n werkspermit.

 

CV’s MOET NOU BETER AS OOIT TEVORE WEES

 

Moet nie eens daaraan DINK om ‘n CV voor te lę vir ‘n werk in NZ as dit nie behoorlik versorg en TAALKUNDIG korrek is nie. Dit gaan verseker in die asblik beland. My ervaring die afgelope tyd met Kiwi werkgewers is dat baie CV’s sommer oor die voorkoms van die eerste blad al in die asblik beland. Op my website het ek ‘n voorbeeld van hoe ‘n redelike goeie Kiwi “Siewee” moet lyk. Jy kan ook ouens betaal om jou CV te skryf (enigiets van NZ $100 tot $240 per CV!), maar ek glo enige redelike intelligente ou kan ‘n goeie CV skryf, daar is tonne en tonne hulp op die Internet beskikbaar.

 

Vergeet van CV’s wat soos Konsalik boeke lyk. Kiwi werkgewers is LUI om te lees en wil binne die eerste twee of drie paragrawe sien wie jy is wat jy kan doen en wat jou kwalifikasies is. Hulle stel bitter min belang in jou stokperdjies, jou skoolvakke of halfvoltooide kwalifikasies.

 

Die eerste blad van jou CV is KRITIES!! Jy MOET eenvoudig binne die eerste paragrawe ‘n indruk maak of jy het geen kans nie.

 

Gee ook aandag aan jou dekbrief (Cover letter) wat jy saam met jou CV stuur. Moenie jou hele CV daarin herhaal nie en stel jouself kort en bondig daarin voor en vertel hoekom JY die man/vrou vir die job is. Ek het al tydens die sortering van CV’s gesien dat ‘n CV op die vloer val net omdat die dekbrief swak is! Doen moeite met elke stap van jou CV, dit sal jou loon.

 

Vergeet van CV’s in Excel, PDF of selfs MS Publisher (!) sit jou CV in MS Word-formaat en dit is dit.

 

Ek kan lank oor CV’s skryf, maar het nie nou die tyd daarvoor nie en hoop die paar punte wat ons geraak het sal jou help.

 

IMMIGRANTE KAN MAANDE LANK WERK SOEK

 

As jy vertroud is met my website sal jy weet dat ek op verskeie plekke sę jy moenie net in NZ kom afklim en hoop vir die beste nie! Beplan, doen jou huiswerk en MAAK seker jy gaan dit maak.

 

Ek kry heelwat leedvermakerige e-mails van mense wat vir my skryf hulle het net hier kom afklim, binne ‘n paar dae ‘n werk en huis gekry en alles het sommer fantasties vir hulle uitgewerk. Mooi so en baie geluk vir diesulkes en ek hoop hulle wen sommer die Lotto ook terwyl hulle “luck” nou so in is. Ongelukkig gebeur dit nie altyd so nie en vir elkeen vir wie dit so wonderlik uitgewerk na hulle net hier kom afklim het is daar 5 of 6 vir wie dit nie so lekker uitgewerk het nie. Ek kry gereeld e-mails van SAners wie soms maande hier sit (met goeie kwalifikasies) en in nood verkeer omdat hulle nie werk kan kry nie en dan moet ons inderhaas planne maak.

 

Ek kan nie genoeg beklemtoon dat jy jou immigrasie moet BEPLAN nie. SAners kom klim nog steeds net hier af omdat hulle sonder ‘n visa na NZ kan kom en hoop en vertrou alles gaan uitwerk. Dit gaan nie sommer van self uitwerk nie, jy moet dit LAAT uitwerk!

 

Net omdat jou beroep op die “skills shortage lists” verskyn beteken beslis ook nie jy gaan verseker ‘n werk kry nie. Onthou die “skills shortage lists” is op hulle beste minstens 6 maande agter die werklike gebeure in die huidige arbeidsmark.

 

As jy moet registreer om in NZ te kan werk doen dit VOORDAT jy na NZ kom. Moenie kom en hoop jou registrasie (Verpleegsters, Fisios, Elektrisiëns, ens, ens.) kom gou deur nie.

 

ONTHOU ook Kiwi’s in die buiteland is besig om in groot getalle na NZ terug te keer en hulle vul ook die getalle van die werksoekers aan en het ‘n baie beter kans om ‘n werk los te slaan as ‘n immigrant.  

 

IMMIGRASIEAGENTE VEROORSAAK NOG STEEDS PROBLEME

 

Lyk my daar is geen einde aan immigrasieagente se “schemes” om SAners van hulle swaarverdiende geldjies te verlos nie. Die nuutste “scheme” wat onder my aandag gekom het is ‘n eiendomsontwikkelaar in die Suid-Eiland wat sy besigheid na ‘n bekende gevleulde perd vernoem het en wat tydens immigrasieseminare in SA beloftes maak van werk, werksvisas, PR, ens. Jy moet net eers ‘n huisdeposito van R450 000 neersit, dan is die saak reg. Hulle noem hulle plan “Assisted Immigration Programme”. Daar is GEEN mens op aarde wat jou kan waarborg dat jy PR in NZ gaan kry nie.

 

NIEMAND kan dit waarborg nie en wat gebeur met jou R450 000 “deposito” as jy dit betaal het en jy kan nie permanent in NZ bly nie? Hoe gaan jy dit terug kry en wat gaan jy doen as jy dit nie kan terug kry nie? Nog ‘n paar honderd duisend Rand aan regskoste spandeer?

 

Kry maar eers daai PR in jou paspoort voordat jy met die gevleulde perdjie vlieg!

 

Die mense van die “Bay of Islands” maak maar nog steeds hulle beloftes aan voornemende immigrante wat hulle nie kan nakom nie en die klagtes stroom steeds in.

 

WERK SPAARSAMIG MET DAAI RANDJIES!

 

Ek sien nog gereeld SAners wie hier kom afklim met mijoene in die sak en lewe soos oor’le Arri Onassis en wat die geld laat vloei soos water.

 

Daar is niks wat hulle nie kan koop nie en hulle beďndruk die hel uit die ander SAners uit hier in NZ met alles wat hulle het en alles wat hulle kan koop en doen en hulle het BAIE, BAIE pęlle terwyl die geldjies vloei en die bewondering hou, maar so baie kere in die verlede het ek gesien wat gebeur as die geldfonteintjie opdroog en hulle van ‘n NZ inkomste moet begin lewe wat hier in die omgewing van $20/uur is of baie kere net op ‘n enkel inkomste moet klaarkom omdat “meneer miljoenęr” nie werk kan kry nie. Die lewe begin dan baie anders lyk en die baie pęlle wat hulle gehad het verdamp soos mis voor die son!

 

Werk maar spaarsamig met daai Randjies as jy hier kom! ONTHOU daar is nie nog ‘n huis om te verkoop of ‘n pensioenfonds wat gaan uitbetaal of polisse om af te koop nie! Die geld wat jy het is die geld wat jy het!

 

SLEG TYD OM TE IMMIGREER GOEIE TYD OM TE KOM KYK

 

Op hierdie stadium van die geveg sal ek sę dit is ‘n baie sleg tyd om na NZ te immigreer gesien in die lig van die huidige gebeure rondom die węreld. Dit is egter ‘n puik tyd om ‘n LSD-toer te doen, want tans is die toerismebedryf in NZ ook effens aan die afkoel en is die belangrikste toeriste attraksies nie so erg onder druk nie en kan jy dit meer geniet as wat busvragte vol Oosterse toeriste die plekke oorstroom. Brandstof is ook goedkoper en verblyf is makliker om te kry. Ons LSD-toere se pryse is nog presies dieselfde as twee jaar gelede en ons het ‘n groepafslag van 20% vir groepe van 4 of meer. Beslis ‘n tyd om jou LSD-toer te doen!!

 

LAASTE NUUSBRIEF

 

BELANGRIK : Hierdie is die laaste Kiwiboernuusbrief wat per e-pos uitgestuur gaan word. Van volgende maand af sal ek net die skakel (link) uitstuur waar die nuwe maand se nuusbrief op my webwerf gekry kan word en as jy dan so voel kan jy die nuwe nuusbrief gaan lees op jou tyd.

 

Hoekom gaan ons dit nou so doen? Ons gaan dit so doen omdat ek net mooi gatvol, keelvol, dik, noem dit wat jy wil, is van SAners (gewoonlik die anti-immigrasie Kappiekomando) wie per ongeluk my nuusbrief kry of die nuusbrief van vriende / familie kry en dan besluit dis nou ‘n goeie tyd om hulle anti-immigrasiesentimente op skif te stel (of sommer maar net vir my as persoon wil takel) en my in die vieslikste taal uitskel.

 

Verskoon maar die langdradigheid, maar ek moet net iets duidelik maak. Ek kry ‘n persoon se e-mailadres net as hy/sy hulle e-mail adres op my navraagvorm invul. Ek kan nie help as familie en/of vriende besluit mense sal graag die nuusbrief wil hę en hulle e-mail adres daar invul nie! Ons verwyder DADELIK alle e-mail adresse wie “unsubscribe” van die nuusbrief en ons “oes” nie aktief  e-mail adresse van enige ander bronne af nie.

 

Die Kiwiboer website bestaan al sewe (7) jaar en ek het al meer as 60 nuusbriewe uitgestuur in 7 jaar en nog nooit was ek so gevloek en sleggesę soos die afgelope 6 maande nie, wat gaan met ons mense aan?

 

Ons nuusbrief verskaf maar net inligting oor immigrasie na NZ, die lewe van immigrante in NZ en persoonlike waarnemings van gevestigde immigrante. Ons verkoop nie V…gra-pilletjies of kaalgatfoto’s nie en ons smeer nie maermaakpoeiers of seksieonderklere aan jou af nie, so bedaar maar net as jy my nuusbrief per ongeluk kry. Sluk ‘n “chillpill” of ‘n dop, vee jou trane af en druk “DELETE” op die nuusbrief!

 

NUUSBRIEWE IS OOK AANLYN BESKIKBAAR BY:

http://www.kiwiboer.virafrikaans.com/nuusbriewe.htm

 

BAIE GROOT GROETE UIT CAMBRIDGE - LOUWRENS