|
IN
HIERDIE NUUSBRIEF:
Werk in NZ - Verandering in fokus.
Werk in NZ - Poste vir Verpleegkundiges.
Woon in NZ - Gratis Lewenskoste Pryslys en ander Inligtingstukke.
Immigrasie - SA Plakkerskamp in NZ?
Immigrasie - ANZSCO - Kwalifikasie of Ervaring?
Werk in NZ - Verandering in fokus in indiensnemingsproses van
professionele persone.
Die afgelope jaar merk ek 'n verskuiwing in fokus van waarna werkgewers in NZ
kyk as hulle onderhoude voer of wanneer hulle CV's deurgaan vir geskiktheid van
kandidate.
Ek voer baie onderhoude met SAners wie werk soek in NZ en baie van hulle skryf
ook vir my. Daarby het ek heelwat kontak met werwingsagente en agentskappe en
vra hulle gereeld uit na die fokus van werkgewers en HR-bestuurders. Ek vra ook
werksoekers om vir my notas te maak van hulle onderhoude en die vrae aan my deur
te gee en ek vergelyk dit dan met my vorige navorsing . By sommige werksoekers
kry ek soms soveel as 10 of meer onderhoudsnotas en ek ek is regtig baie dank
aan die mense verskuldig. Ek bel ook maatskappye wie SAners in diens geneem het
en vra hulle direk wat hulle fokus is en op watter eienskappe hulle die meeste
konsentreer en die hoogste aanslaan as hulle mense aanstel.
Tot so 'n jaar gelede was die fokus baie gerig op die persoonlikheidseienskappe
("Traits" in Engels) van applikante (of die eienskappe wat applikante GEDINK het
hulle het!) en was dit baie belangrik dat jy in jou CV pertinent jou
persoonlikheidseienskappe sou meld en ook hoe dit in jou werksituasie (klink ek
nou amper soos ou "Spike" in "Orkney Snork nie"!) tot voordeel van die werkgewer
is en gaan wees. Daar was ook erg klem gelê (veral in NZ) of jy 'n "team player"
is en in harmonie saam met ander mense kan werk. Hierdie "team player" vragie
was so afgesaag en algemeen en voorspelbaar dat ek voornemende applikante
aangesê het om sommer klaar hulle CV daarmee te "laai", want ek het net geweet
dit gaan kom.
Sonder om te diep in te gaan oor die redes (en daar is 'n hele paar) oor hoekom
daar 'n klem verskuiwing was wil ek my eerder bepaal by die nuwe fokus van
werkgewers.
Ek merk nou op dat die klem sterk val op jou werksgeskiedenis en veral dit wat
jy bereik het en ook dit wat jy NIE bereik het nie. Daar word nou erg klem gelê
op wat jou doelwitte was, hoe jy dit bereik het en hoe jy jou ervaring en
opleiding gebruik het om dit te bereik. Hulle stel ook baie belang om te hoor
hoe jy jou ervaring en opleiding gaan gebruik om hulle besigheid/maatskappy te
bevoordeel en die beste diens te lewer. Daarom is dit BAIE BAIE belangrik dat jy
jou huiswerk oor die maatskappy waar jy aansoek doen vir werk goed sal doen om
jouself reeds binne die maatskappy te plaas tydens die onderhoud. Dit is
belangrik vir hulle om te weet JY weet wat aangaan in hulle besigheid en dat jy
regtig belang stel om spesifiek vir hulle te werk (al is dit nie heeltemal so
nie).
Tensy jy van 'n werwingsagent of werksoekagent gebruik maak wat jou waarskynlik
in die regte rigting gaan lei met jou CV (hopelik!) moet jy nie 'n generiese CV
opstel en dit na honderde werkgewers stuur of e-mail in die hoop dat iets iewers
gaan werk nie. Stel 'n behoorlike CV op en teiken (target) spesifieke
maatskappye (waaroor jy hopelik goeie navorsing gedoen het) met 'n pasgemaakte
(taylor made) CV wat presies in hulle behoeftes gaan pas.
Ten slotte 'n paar vragies wat deesdae opduik en waarvoor jy jou moet voorberei
is:
1. Wat het jy in jou vorige werk gedoen wat jou kreatiwiteit gedemonstreer het?
2. In jou laaste werk wat was dit wat jy die graagste wou bereik het, maar NIE
kon bereik nie?
3. Hoekom kon jy dit nie bereik nie?
Baie sterkte.
POSTE VIR VERPLEEGKUNDIGES IN NEW ZEALAND - Southern Cross Hospitaalgroep
Southern Cross Hospitaalgroep is Nieu-Seeland se grootste privaat chirurgiese
hospitaalnetwerk, is die naam in kwaliteitsorg en innovasie en is ‘n leier in
die
privaat sektor.
Ons belegging in professionele ontwikkeling en opleiding initiatief tesame met
ons strewe na die opbou van ‘n bemagtigde, positiewe kultuur is die rede
waarom baie voornemende Nieu-Seelandse immigrante op ‘n loopbaan by ons
besluit. Ons het konsewkwent in die hoogste vlakke presteer na ‘n onlangse
meningspeiling van ons werkers wat teen 300 ander gesondheidsorganisasies
in Australasië gemeet is.
As jy van plan is om jou loopbaan in verpleegkunde te ontwikkel en gebruik wil
maak van die geleentheid om ‘n nuwe leefstyl wat duisende na Nieu-Seeland
lok, wil ons graag van jou hoor.
Ons werf tans Geregistreerde verpleegkundiges vir ‘n groot verskeidenheid
werksomgewings soos die teater, herstelkamer en chirurgiese sale (om aansoek
te doen moet jy kwalifiseer vir registrasie by die Nieu-Seelandse Verpleeg-
Raad).
Nieu-Seeland se buitelug-leefstyl, gesondheid- en onderwysstelsels, en
vriendelike verdraagsame kultuur is baie aanloklik vir voornemende immigrante.
Ons hospitale strek van die besige sakesentrum van Auckland in die Noorde tot
in the prentjiemooi Invercargill in die Suide, en in verskeie stede tussen-in.
Met
so ‘n verskeidenheid is jy gewaarborg om die perfekte plek te kry wat jou sal
laat tuis voel.
Vir meer inligting oor beskikbare geleenthede deur die netwerk, kontak
ons vandag!
Kontak Leani Viljoen per e-pos op
leani.viljoen@southerncrosshospitals.co.nz of besoek
www.southerncrosshospitals.co.nz vir meer inligting.
Kies ‘n verpleegloopbaan in Nieu-Seeland
Fantastiese geleenthede en ‘n wonderlike leefstyl.
GRATIS WAARDEVOLLE INLIGTING
Op South African Kiwi Ltd (www.southafricankiwi.co.nz) het ons nou die
Lewenskoste Pryslys GRATIS beskibaar gemaak aan besoekers en kan voornemende
immigrante 'n pryslys met meer as 300 PRYSE van enige denkbare ding in NZ te
siene kry.
Die inligtingsdokumente "HOW TO RENT A HOUSE IN NZ" en "GUIDE TO THE NZ HEALTH
SYSTEM" kan ook gratis van die South African Kiwi webwerf af aangevra word.
SA PLAKKERSKAMP IN NZ?
Wel ..... amper! Daar is nog nie 'n plakkerskamp van SAners in NZ nie, maar as
die huidige tendense voortduur is dit seker nie lank voor ons so 'n plakkerskamp
het nie!! Ek dik seker nou erg aan, maar ek is redelik ontsteld oor sekere
verwikellinge die afgelope paar maande.
Die afgelope 3 maande het ek nie minder as 40 "Noodkreet" e-mails ontvang van
SAners wie in NZ aangekom het uit SA en sonder werk en geld (en sommige selfs
sonder heenkome) sit nie! Uit verskeie oorde (Immigranteorganisasies, kerke,
welsynsorganisasies en privaat persone) verneem ek van SA immigrante wat in een
of ander nood verkeer omdat hulle net in SA op 'n vliegtuig geklim het en hier
kom afklim het en gedink het dat alles gaan uitwerk. Dit het toe nie uitgewerk
nie!!
'n Vriend van my wie in Auckland by 'n besige banktak werk vertel dat daar
sommige dae tot 4 SA gesinne aankom wat wil geld leen om vir basiese goed te
betaal soos hulle aansoeke vir werkspermitte en behuising! Hy sê dat daar al
SAners by die bank aangedoen het vir hulp wie se situasie so benard was dat
hulle $1.80c oorgehad het om van te lewe! Die ergste van alles is dat die bank
nie vir hulle geld kan leen nie, want hulle het nie eens werkspermitte nie. Hoe
beland 'n mens in so 'n situasie??
Ek dink nie daar is een enkele SA immigrant in NZ wat nie ons broers en susters
uit SA 'n veilige heenkome gun nie. Ek is bly saam met ELKE SAner wie hulle
veilig en suksesvol hier vestig en my hart bloei vir diegene wie dit nie kan
doen nie. Ons almal besef dat die situasie in SA uiters benard is en dat mense
nou letterlik uit SA vlug om weg te kom van die moord en doodslag, MAAR om so
onverantwoordelik te raak om sommer net op 'n vliegtuig te klim met jou hele
gesin en halfpad om te wêreld in 'n vreemde land te kom afklim en te HOOP alles
gaan uitwerk is BESLIS nie die oplossing nie!! Jy spring regtig uit die pan uit
in die vuur in! Die noodwendige uiteinde van so 'n onverantwoordelike stap is
maar net dat jy sal moet terugkeer na SA en dat jou situasie dan net 'n 1000
keer erger gaan wees.
Ek kan 'n lang stuk skryf oor hoekom SAners dit doen, maar ek gaan nie, ek gaan
net kortliks die hoofredes wat aan my verskaf is saamvat. Een van die GROOTSTE
sondebokke is VRIENDE en FAMILIE in NZ wie vriende en familie in SA aanmoedig om
te kom met : "kom net, dis maklik, hier is baie werk, jy sal gou regkom!". Nogal
nie!
Ander redes is werwingsagente / personeelagentskappe en immigrasieagente wie
vals of vae beloftes aan mense maak van werk en permanente verblyf om 'n paar
dollar uit hulle te maak en hulle dan net so los. Ek hoor deesdae van
werwingsagente en immigrasieagente van wie ek nog NOOIT gehoor het nie en as jy
navraag doen oor die mense kom jy agter dat hulle net agter 'n dun
papiergordyntjie sit en dat die besigheid nie veel om die lyf het nie. Hopelik
sal dit einde kry wanneer registrasie van immigrasieagente verpligtend raak.
'n Laaste rede is dat mense NZ sien as 'n "sagte teiken" omdat dit feitlik die
laaste behoorlike immigrasiebestemming is waar SAners net kan kom "afklim"
sonder 'n visa of enige soort van keuring. Almal dink dis sommer maar net lekker
en los, terwyl die waarheid is dat dit NIE so maklik is om werk te kry en deur
die hele immigrasieproses te gaan nie.
Vir meer as sewe jaar sê ek al DOEN JOU HUISWERK en KOM KYK eers voordat jy die
GROOT SPRONG van immigrasie vat, want dit kan jou hele lewe verander of
VERNIETIG!!
Hoe kry ons die boodskap deur?
KWALIFIKASIES OF ERVARING?
Diegene wie nog besig is om hulle navorsing of "huiswerk" te doen oor immigrasie
na NZ of Ozzie moet tog ook asseblief oplet na die ANZSCO-dokument.
Die ANZSCO-dokument (The Australia and New Zealand Standard Classification of
Occupations) is vanaf 4 Februarie 2008 in werking en omskryf die kwalifikasies
en ervaring vir alle beroepe wat as "skilled" geklassifiseer word. Let ook op
dat kwalifikasies in sommige gevalle met ervaring vervang KAN word. Dit SAL nie
noodwendig so wees nie. Maak doodseker by jou immigrasieagent wat die toedrag
van sake is.
Jy kan die volledige dokument HIER aflaai. Die dokument is 9.3Mb groot en in
PDF-formaat. Dit neem 'n hele rukkie om af te laai.
(http://www.immigration.govt.nz/migrant/general/generalinformation/anzsco.htm).
LSD-TOERE - ONS MAAK DIT MAKLIK!
As jy dit oorweeg om later vanjaar of vroeg volgende jaar dalk op een van ons
LSD-toere te kom wil ek jou vriendelik versoek om vroegtydig te bespreek, want
die plekke raak nou min.
ELEKTRONIESE LSD-TOER? Amper! Ons eDokument "Life in New Zealand"
is 'n omvattende dokument van 47 bladsye oor lewe in NZ wat amper as 'n
elektroniese LSD-toer beskryf kan word. Besoek ASSEBLIEF die webwerf van South
African Kiwi om meer te wete te kom oor hierdie fantastiese dokument.
WATTER POSTE IS TANS REDELIK BESKIBAAR? (Verskoon die Engelse
posbenamings)
Diesel Werktuigkundiges
Produksie Passer en Draaier
Sweiser
Industriele Elektrisiën
Instrument Tegnici
Vlekvrye Staal Fabrikator sweiser
Verpleegsters
Kliniese Sielkundige
Fisioterapeut
Arbeids terapeut
Narkotiseur
Bestralingstegnikus
Radiografis
Transport Engineers/Planners
Chartered Accountants
Civil Engineers
SAP Consultants
SAP Contractor
Control Systems Engineer
Mechanical, Electrical Engineer
Control & Instrumentation Design Engineers
Electrical Design Engineer
Electricians
Plumbers
Gasfitters
Locksmiths
Riggers
Fitter and Turners
CNC Operators
CAD Draughtsmen
Linesmen
Farm Managers
BAIE STERKTE EN GROOOOOOOOOOT GROETE UIT CAMBRIDGE!
|