|
KIWIBOER NUUSBRIEF – Mei 2009
Dis baie duidelik dat ons ‘n baie koue en nat winter gaan hê hierdie jaar en dat
ons maar die warm kombersies en warm (Thermals) onderklere moet uithaal. ‘n Mens
kan nie bekostig om die hele huis vol heaters te maak nie (altans nie ons nie)
,want in die winter skiet elektrisiteit se prys gewoonlik die hoogte in hier in
NZ. Gas was voorheen nogal ‘n opsie gewees vir verhitting, maar die het net so
duur geraak, so die enigste goedkoop opsie is maar om lekker warm toe te draai!
Verder weet mens ook nie wie om te glo nie, want
die eiendomsagente sê die ressie is oor en die mense moet huise koop, maar die
banke sê ons moet wag! Wie kan jy nou eintlik glo? As ek die situasie op die
grond so uitkyk dan is my geld op die banke, want dis net uit die eiendomsagente
se geweste waar dinge mooi lyk, elders gaan dit maar beroerd. Kiwi’s stroom in
rekordgetalle terug na NZ en kom sit lekker op die “Dole” (werkloosheidtoelaag)
terwyl hulle met nuwe immigrante om poste meeding! Hoe kan ons wen?
IN HIERDIE NUUSBRIEF
1. Die “VOETSLAANFASE”.
2. Registrasie van Immigrasieagente veroorsaak magdom probleme.
3. Goeie ervaring , GEEN wins.
4. Kom maak kwaai vriende in NZ.
5. Oor “Millwrights” en salarisse by werkadvertensies.
6. Paar wenke om jou lewe in NZ goedkoop te begin.
1. DIE “VOETSLAANFASE”
Mense wie my al uit desperaatheid gekontak het sal
weet wat die “Voetslaanfase” is. Die “Voetslaanfase” is daardie fase wat jy
bereik (gewonlik die HEEL laaste fase voordat jy terug vlieg SA toe) nadat jy
reeds maande in NZ sit en nie werk kan kry nie. Geen werwingsagent het na jou
terug gekom nie en jy kon net ‘n paar onderhoude kry waarin jy nie belang gestel
het nie en jy slaan nou voet van deur tot deur in ‘n laaste poging om werk te
vind. Dis die “Voetslaanfase” (baie beskrywend al moet ek self so sê)!!
Die “voetslaanfase” is gewoonlik die laaste stuiptrekkings van jou
werksoekpoging in NZ en dis ironies dat dit baie keer die mees effektiewe manier
is, maar halfhartig aangepak word as jy uit tyd en opsies is. Die
“Voetslaanfase” moet een van heel EERSTE opsies wees as jy hier aanland en nie
die LAASTE nie.
Suid-Afrikaners se werksoekpogings volg gewoonlik
so ‘n baie voorspelbare paadjie en die een na die ander volg dieselfde roete
soos ‘n klomp koeie oppad na die melkstal toe. Heel eerste stel hulle ‘n
“shotgun” CV op wat omtrent elke moontlike werk in hulle vakgebied of
kundigheidsraamwerk dek en stuur dit aan elke moontlike werwingsagent en
agentskap. Daarna hou hulle so ‘n week of wat vakansie en kla aanmekaar hoe
AAAAA die werwingsagente is omdat hulle nie vir hulle kan werk kry nie.
As hulle nou die werwingsagente klaar gevloek het
dan stuur hulle dieselfde “shotgun” CV na elke moontlik vriend of kennis of
familielid in NZ en om sommer net seker te maak almal in NZ het ‘n afskrif gekry
gaan die CV aan elke Afrikaanse Klub of website of kerk wat ‘n nuusbrief het (ek
weet want ek kry gewoonlik so ‘n dosyn of wat CV’s elke week).
As dit nie werk nie begin hulle op die Internet
poste soek en skiet dan met die “shotgun” na elke werkgewer wie moontlik in
hulle mag belangstel se e-pos adres. Dis amper so erg soos om te “spam” –
niemand kyk daarna nie.
Op hierdie stadium kom hulle gewoonlik agter dat
“shotgun” nie werk nie en begin hulle (na weke) eers werklik gefokus werk soek.
Dan kom die ernstige CV’s sonder tierlangtyntjies vorendag en dan word
werkgewers en maatskappye op sinvolle wyse ge-“target”.
Werksoek in NZ is nie iets wat jy op “outo pilot” kan sit en hoop dit gaan
outomaties uitwerk nie.
Nee, jy moet elke oomblik SELF die “plane” vlieg
(om dit so te stel)!! Jy moet vir jou ‘n stategie en plan van aksie uitwerk
VOORDAT jy hier kom en dan jou strategie en plan van stapel stuur en nie hande
gevou sit en wag dat werk soos manna uit die hemel moet val nie! PLAN YOUR WORK
& WORK YOUR PLAN.
Jy moet tegelyk die sakie uit verskeie hoeke begin
aanval. JA, Stuur jou CV aan die agente - JA, stuur jou CV aan familie en
vriende - JA, stuur jou CV aan werkgewers. Dis alles verskeie aanvalshoeke, MAAR
begin DADELIK die “Voetslaanfase”!
Nou wat behels die voetslaanfase?
“Cold calling” (ek weet dit is uiters onsmaaklik
en ongemaklik, maar dit werk!) – Die geleerde mense sê die sukseskoers is in die
omgewing van 10% - Dis goed genoeg vir my want dit beteken dat een uit elke 10
onderhoude moontlik in ‘n werksaanbod kan eindig. “Cold calling” het egter ‘n
paar voorwaardes en dit is dat jy jou sê moet kan sê in ‘n baie kort tydjie en
dat jy WEET waarvan jy praat. Ek gaan nie verder uitbrei oor “Cold Calling” nie
want jy kan op die Internet tonne inligting en hulp kry met “Cold calling”, maar
wat jy ookal doen jy MOET dit oorweeg.
As “Cold calling” per telefoon jou in koue sweet
laat uitslaan (veral as dit nog in Engels is) dan is daar darem die alternatief
van ‘n “koue besoek” waar jy ‘n afspraak maak met die baas of CEO van die
maatskappy of besigheid wat jy teiken om so jou punt oor te dra. ONTHOU jy het
letterlik net ‘n minuut of twee om te sê wat jy moet sê en jy SAL jou strategie
en toespraak moet uitwerk en oefen. Daar is ook tonne inligting daaroor op die
Internet te kry. Die is egter UITERS BELANGRIK dat jy by die mense sal uitkom
wat die BESLUITE neem. Probeer so vêr as moontlik om die HR-departement /
personeelbestuurder te omseil, want hulle gaan jou net weer in ‘n “kanaal” gooi
waaruit jy net mooi boggerôl gaan kry. As jy die moeite doen om “cold
calling”doen kan jy net sowel die moeite doen om resultate te kry en by mense
uit te kom wie werklike besluite kan neem en nie mense wie net “aanbevelings”
kan maak nie.
Maak vir jou ‘n soort van besigheidskaartjie wat
bondig en puntsgewys jou ervaring, kwalifikasies en vaardighede saamvat (en jou
kontakbesonderhede). Iets wat jy vinnig kan oorhandig en wat aandag sal trek.
Doen moeite om jouself te verkoop in ‘n paar reëls. Moenie loop en spog met al
jou grade en kwalifikasies nie en die kaartjie vol dinge maak wat vir JOU
belangrik lyk nie, maak die kaartjie vol dinge wat vir die WERKGEWER belangrik
is en wat hom twee keer sal laat kyk en nie dadelik die kaartjie in die
snippermandjie sal laat gooi nie.
WEET wat jy het om die werkgewer te bied en WEET
wat jy soek. Vergeet van BULLSHIT jy kom nêrens daarmee nie.
Doen deeglike navorsing oor die besighede en
maatskappye wat jy “target” – Hulle geskiedenis, behoeftes, toekomsplanne en
mikpunte.
Behou kontak, al was jy nie suksesvol nie en maak
die persone wie jy kontak mee het deel van jou netwerk.
MOENIE kritiek en terleurstellings persoonlik vat
nie – vat daaruit wat jy kan, verbeter jouself en gaan aan! Om Vadersnaam moenie
daaroor sit en tob nie en moenie dit vir jou aantrek nie!! Die mense ken jou nie
eens nie. Male sonder tal (hopeloos te veel male) sien en hoor ek van
werksoekers wat sommer gou ontmoedig en verneder voel deur die proses en hulle
verloor die stryd en gaan terug. BYT VAS, jy het ‘n goeie kans om suksesvol te
wees as jy volhard.
Ek dink julle het noual ‘n deeglike begrip wat die
“voetslaanfase” behels en ek is seker julle sal ‘n hele paar dinge/strategië kan
byvoeg en dit maak werk.
2. REGISTRASIE VAN IMMIGRASIEAGENTE
VEROORSAAK ‘N MAGDOM PROBLEME
Op die 4de Mei het die wet in werking getree wat
Immigrasieagente verplig om te registreer by die Immigration Advisers Authority
. Sonder registrasie kan ‘n immigrasieagent geen dokumente by NZ Immigrasie
indien nie. Die gevolg is dat daar duisende ongeregistreerde agente met
immigrante se dokumente en geld sit en niks kan doen nie. Baie van die skelm
agente eis nou betaling by immigrante (pers hulle as’t ware af) voordat hulle
hulle oorspronklike dokumente en paspoorte terug gee. As jy dit oorgekom het of
van iemand weet wie dit oorgekom het of deur ‘n skelm immigrasieagent ingeloop
word kontak asseblief vir Anton de Vrije (anton@riskadvise.co.nz)
Sel: 027 2222 374 of kantoor (09) 479 8448.
3. GOEIE ERVARING – GEEN WINS
Ek kry baie e-mails van mense (veral jongmense)
wie graag in NZ wil kom werk om te spaar vir hulle studies of om hulle mense in
SA finansiëel te probeer help en ek sê altyd vir hulle dat hulle goeie ervaring
hier gaan opdoen, maar ongelukkig geen geld gaan maak nie.
NZ se ekonomie staan nie verniet bekend as ‘n “low wage economy” nie en dis
presies wat dit is – LOW WAGES! As jy tydelik in NZ wil kom werk as ‘n
seisoenswerker of arbeider gaan jy net net genoeg verdien om jouself te onderhou
(as jy gelukkig is) en ek kan jou verseker jy gaan nie geld terug kan stuur nie.
As jy net vir die avontuur wil kom werk as ‘n seisoenswerker doen dit gerus en
geniet die vakansie, maar onthou daar is geen geld daarin nie. Vir seisoenswerk
in NZ besoek gerus hierdie webwerf -
http://pickapicker.co.nz/
4. KOM MAAK KWAAI VRIENDE IN NZ
Hierdie stukkie skryf ek uit goeie ervaring en as
‘n ligte waarskuwing vir voornemende immigrante.
BAIE (meeste) immigrante wie uit SA na NZ kom kom bly óf by familie óf by
vriende tot hulle ‘n werk gekry het en/of vir hulle ‘n eie plekkie kan huur of
koop. Dit maak baie sin in die opsig dat dit baie geld kan spaar en ‘n “sagte
landing” kan wees vir nuwe immigrante. Dit klink baie idillies en na groot pret
en baie plesier, maar dit het ook ‘n lelike angel in die stert.
‘n GROOT gros van hierdie saamblyreëlings eindig
in kwaai vriendskap en baie hartseer en dit moet met baie sorg aangepak word.
Die meeste struwelinge ontstaan oor ouers of kinders wie nie met mekaar kan
regkom nie en natuurlik oor GELD en die bydrae wat die “bywoner” gesin tot die
huishouding maak. Selfs al sou die vriende of familie goed by mekaar aanpas en
saamleef sal die blote stress en druk van die “oorbevolking” van die gashere se
huis en die gebrek aan privaatheid noodwendig tot botsings lei en daar is
eintlik niks wat jy daaromtrent kan doen nie behalwe om jou verblyf by jou
gashere so kort as moontlik te hou.
Vroeë uitbarstings of kwaaivriendskap kan voorkom
word deur vroegtydig ‘n paar rëels of verstandhoudings tot stand te bring en
daarby te hou nl:
a. Die tydperk wat die nuwe intrekkers by hulle
gashere gaan bly – 3 weke word alom aanvaar as die maksimum tydperk. As die
ooreengekome tydperk verstreke is moet jy ALLES IN JOU VERMÖE doen om ander
verblyf te kry, want na 3 weke in ‘n ander man sê huis begin jy op ‘n tydbom sit
en is dit net ‘n kwessie van tyd voordat daar ‘n uibarsting gaan kom!
b. Die bydrae (finansiëel of anders) wat die
“bywoners” tot hulle lewenskoste gaan maak. Neem in ag dat die gashere se
telefoonrekening, water en krag feitlik gaan verdubbel met twee gesinne in die
huis. Moet ook nie vergeet van jou gasheer se brandstofuitgawes om jou by
werksonderhoude, Immigrasie ens. te kry nie.
c. Verdeling van die huishoudelike take. Wie gaan
wanneer bad, klere was, kook, stofsuig of opwas?
d. Huisrëels wat geld in die gasheergesin se
huishouding.
Jy kan nie bekostig om hier in die vreemde jou
familie of vriende van jou te vervreem of kwaai vriende te maak nie, jy gaan
hulle baie nodig kry met jou en jou gesin se aanpassing en vestiging so jy beter
hulle GOED behandel.
5. OOR “MILLWRIGHTS” EN SALARISADVERTENSIES.
Die ambag wat ons in SA ken as ‘n “Millwright” is
onbekend hier in NZ en ‘n “Millwright”staan hier bekend as ‘n “Electrical
Fitter”(die lesers wie nie weet wat ‘n “Millwright” is nie, dis eintlik ‘n hoogs
gekwalifiseerde ou , want hy is as’t ware ‘n dubbele ambasman – hy is ‘n
“Fitter” en hy is ‘n gekwalifiseerde elektrisiën).
‘n Millwright uit SA kan een van twee goed doen
hier in NZ – 1) Hy kan by die NZ EWRB (New Zealand Electrical Workers
Registration Board) registreer as elektrisiën en dan werk as ‘n elektrsiën of as
‘n “electrical fitter” of 2) Hy kan sonder registrasie by die EWRB as ‘n gewone
“Fitter”werk en later registreer as hy so voel. Ek antwoord die sakie in hierdie
nuusbrief, want ek kry baie navrae daaroor.
Die lesers wie al na werk in NZ gesoek het , hetsy
op die Internet of koerante, sou opgemerk het dat daar baie selde ‘n salaris of
salarisskaal by die advertensie is. As daar dalk iets van ‘n salarisaanduiding
is sal dit slegs ‘n vae aanduiding is en kry jy soms die belaglike gevalle waar
hulle sê die salaris is tussen $50 000 en $100 000 net om belangstelling te
wek!! Wees verseker dis nader aan $50 000 as aan $100 000 en kan selfs minder as
$50 000 wees!!
Die rede hiervoor is dat hulle doodeenvoudig die
ou soek wie bereid is om teen die laagste salaris die werk te doen en wil hulle
hulle nie bind met ‘n salarisaanduiding nie. Dis ‘n baie ou st…t besigheid en
frustreer die meeste Immigrante werksoekers eindeloos, want jy het nie ‘n clue
wat hulle gaan aanbied of wat jy moet voor vra nie. (As jy my nie glo nie gaan
kyk gerus op SEEK hoeveel advertensies dui die salaris aan).
6. PAAR WENKE OM JOU LEWE IN NZ GOEDKOOP TE
BEGIN.
Hierdie stukkie sal maar moet oorstaan tot die
volgende nuusbrief, want hierdie nuusbrief het ongelukkig te lank geraak. Word
vervolg ……………… (Die Huisgenoot doen dit, hoekom kan ek nie ook nie??)
GROOT GROETE VAN MY UIT ‘N BIBBERKOUD CAMBRIDGE!!!
LOUWRENS VAN DER MERWE
P.O BOX 559
CAMBRIDGE 3450
NEW ZEALAND
www.kiwiboer.co.nz |