![]() |
KIWIBOER NUUSBRIEF - NOVEMBER 2008
|
|
|
||
|
IN
HIERDIE NUUSBRIEF: WERWINGSAGENTSKAPPE WAT JOU GELD STEEL
Dit raak nou net al erger. Een of twee werwingagentskappe (Recruitment Agencies) steel nou openlik die mense se geld by seminare in SA. Die SApolisie kan of wil niks daaromtrent doen nie en die koste en tyd verbonde daaraan om hulle in NZ op te spoor en te vervolg ontmoedig omtrent almal en hulle verloor baie geld.
Daar is veral ‘n dame in Auckland (Bucklands Beach) wat ‘n Werwingsagentskap het wat bekend is daarvoor dat hulle werk aan mense belowe, hulle geld vat en dan verdwyn hulle net. Sy hou gereeld seminare in SA.
Moet NIE geld vooruit betaal vir Vliegkaartjies of akommodasie nie!! Jy kan niks baat daarby nie en jy kan jou geld verloor. Betaal vir jou werkspermit se aansoek en dit is AL. Niks meer nie.
VERMY ten alle koste werwingsagente en VERAL Immigrasieagente wat nie op hulle website ‘n STRAATADRES en alle kontakbesonderhede op het nie – telefoonnommers, kontakpersone, posadres en e-mail adresse.
SA IMMIGRANTE EN HULLE GEKHEID OOR KARRE
Ek staan absoluut VERSTOM om te sien hoe lewensbelangrik dit vir Immigrante uit SA is om die REGTE kar te hê. SAners sal omtrent kos uit hulle kinders se monde vat om net die “regte” kar te kan hê.
Oor die afgelope jaar het ek dit male sonder tal gesien dat ‘n kar vir SA Immigrante belangriker is as werk of permanente verblyf. Hulle sal die laaste sent van hulle hervestigingsfondse spandeer om ‘n “smart” kar te kan hê. Dis vir hulle ALLES, ALLES!! Glo my, ek het manne gesien wie hulle huisdeposito uitgegee het om net die beste kar te kan hê.
Die eerste vraag wat by my opkom is – WAAROM?? Dit moet ‘n ding wees wat hulle uit SA saamgebring het, want die Kiwi’s en ouer gevestigde immigrante gee nie ‘n snars om wat jy ry nie. Dis veel belangriker watse soort mens jy is as wat jy ry. Dit lyk vir my naas jou werk en huis is jou kar die grootste aanduider van sosiale status in SA?
As jy nou in ‘n nuwe land kom met baie ander SAners en jy het nie ‘n werk of ‘n huis nie, is die enigste ding wat jou status kan aandui sekerlik jou kar en daarom gaan hulle voluit vir die beste en duurste wat hulle kan bekostig of op huurkoop kan koop om hulle pêlle in SA te beïndruk en om te PROBEER om bo die ander Saners in NZ uit te styg.
Die SAners se mannewales om tog net die beste kar te kan hê neem soms uiters lagwekkende en belaglike afmetings aan en hulle is bereid om duisende op ‘n “trade in” te verloor as hulle net kon opskuif na ‘n duurder en beter model. Dit maak nie saak wat die verlies is in geldwaarde nie, solank hulle net ‘n styging in sosialestatus kan kry is dit heeltemal die verlies werd.
Onlangs het ‘n nuwe immigrant naby aan ons binne twee maande drie keer ‘n ander kar gekoop en ‘n hele paar duisend dollar verloor elke keer as hy karre omruil, maar hy voel so tevrede met homself soos ‘n kat met ‘n piering melk! Einde verlede jaar het ‘n man by my gespog (bid jou aan dat ‘n mens daaroor kan spog!) dat hy al in die voorafgaande 6 maande al $7000 verloor het aan “trade ins” om die “regte” kar te kry. Waar de m…r lê sulke mense se prioriteite?? Met $7000 kan jy jou kind SKULDLOOS vir 2 jaar op universiteit hou!
Spaar eerder daai geld en koop vir jou ‘n huis! $7000 is 25% van ‘n deposito vir ‘n $300 000 huis. MAAR nou aan die anderkant ‘n $300 000 se huis sal nie naastenby goed genoeg wees om aan daai manne se “status” reg te laat geskied nie! ‘n Kar het ‘n meer onmiddelike impak, want jy kan dit orals met jou saamneem om te vertoon.
Weereens is daar eintlik niks verkeerd daarmee om ‘n duur en luukse kar te ry nie en is dit seker maar net weer my naywer wat my sulke dinge laat opmerk omdat ek dit eerstens nie kan bekostig nie en dit tweedens beslis nie my prioriteit is nie. Ja swaer, is maar swaar, swaer!!
Lyk my SAners is deesdae meer materialisties as Amerikaners en dit wil wragtag gedoen wees. Ek moet sê hier kom darem ook arm SAners wie nie dadelik alles kontant kan koop nie en een ou het my vertel dat hulle so arm was dat hulle nie vir hulle beddens kon koop nie, hulle moes in bokse slaap!! Die tweeling babas het in die Satteliet TV dekodeerder en die nuwe 50” Plasma TV se boks geslaap en hy het ‘n bed gebou vir hom en sy vrou uit die krat waarin die nuwe Jetski gekom het! Hulle was regtig Flippen arm!!
OP DIE IMMIGRASIEFRONT
Op die immigrasiefront lyk dinge alles behalwe rooskleuring. Ons vind dat SAners steeds in toenemende getalle na NZ stroom en dat al hoe minder immigrasiepogings werklik goed beplan word. Wat nog erger is is dat sommige wat wel beplan word ook deur vals of oordrewe beloftes van immigrasieagente in die wiele gery word.
Berigte van SAners wat op die punt van deportasie staan verskyn selfs by tye in plaaslike koerante en dit is tragies, absoluut tragies. Verlede week het daar weer ‘n berig in ‘n koerant op die North Shore verskyn van ‘n familie wie na 2 jaar in NZ moet terug gaan omdat hulle nie kwalifiseer vir Permanente Verblyfreg (PR) nie.
Die arme mense is so desperaat om te bly dat hulle selfs bereid is om hulle kinders op te gee vir aanneming as om hulle terug te neem SA toe. LEES DIE BERIG HIER . Hierdie geval moet as ‘n ernstige waarskuwing gesien word teen onbeplande immigrasie. Ek en almal in NZ weet dat die situasie in SA benard is, maar om net op ‘n vliegtuig te klim na NZ sonder deeglike beplanning is werklik om uit die pan in die vuur te spring en ‘n groot risiko te loop om na SA gedeporteer te word en wat maak jy dan??
Ten spyte van wat familie en vriende in NZ (en sommige Immigrasieagente) te vertelle het, het WERK SKAARS GEWORD. In ‘n handjie vol gespesialiseerde beroepe en ambagte sal jy nog redelik maklik werk kry, maar oor die algemeen begin dit al taaier en taaier raak om die regte werk te kry. BAIE SAners met goeie kwalifikasies sukkel soms MAANDE om werk te kry en om eerlik te wees, maak party van hulle dit vir hulle self moeilik omdat hulle “Jobsnobs” is en baie kieskeurig te werk gaan met die poste wat hulle wel aangebied word.
Vele van ons mense sit in SA en kyk na poste in NZ op die Internet en na die NZ Immigrasie se “Skils shortage Lists” en as hulle poste sien waarin hulle dink hulle sal pas koop hulle ‘n kaartjie en kom. Om ‘n pos op die Internet of die “Skills shortage lists” te sien beteken laaaank nog nie jy gaan daardie pos kry nie. Die “Skills shortage lists” is op die beste van tye 6 maande agter met wat werklik in die ekonomie en arbeidsmark aangaan.
Die NZ ekonomie is beslis besig om redelik vinnig af te koel en werkloosheid is aan die toeneem. NZ Immigrasiediens weier al meer en meer om immigrante se werkspermitte te hernu en dring daarop aan dat Kiwi’s gevind moet word om die poste te vul. Hulle maak dit ook moeiliker vir NZ Werkgewers om immigrante in diens te neem en kyk met baie kritiese oë na nuwe aansoeke vir PR. Veral die mediese aspekte rondom immigrasie word met ‘n vergrootglas nagegaan en vir die geringste dingetjie sal hulle spesialisverslae soek. Ek sê nie dit is in alle gevalle so nie, maar in vergelyking met 2 of 3 jaar gelede het die aantal gevalle wat probleme oplewer aansienlik toegeneem.
Ons het darem nou weer ‘n nuwe regering ingestem en hulle maak redelike positiewe geluide teenoor immigrasie en ons hou maar duimvas. My persoonlike gevoel is dat die ekonomiese realiteite maar redelik die immigrasiebeleid gaan dikteer en dat hulle maar hulle eie belange en arbeidsmark gaan beskerm. Ons sal maar sien, maar ek hoop van harte ek is verkeerd.
IMMIGRASIE SONDER VERSIERSUIKER:
Hieronder volg ‘n uittreksel uit een van die e-mails wat ek onlangs van iemand ontvang het en die beskrywing is so goed dat ek dit met die nuusbrieflesers wil deel:
Hallo Louwrens Dankie vir die nuusbrief, ek wag gewoonlik met die grootste afwagting vir dit ... ek weet jy kry seker hordes terugvoer oor al die goed, maar ek wil graag net se dat ek en my man ons nou nie eintlik kan vereenselwig met die RYK Saners nie... ons is maar van die armgatte wat hier aangekom het, en ek moet se dit was 'n erge ontnugtering... want ons het ons huis net so in PE gelos en laat verhuur met die dat die SA huismark dood is ... so ons het met ons laaste geldjies hier aangekom en die bietjie pensioengeld en verlofgeld het nie naastenby gehou nie... en dan sit ons nog met 'n huis paaiement in SA wat ons ook maar moet afbetaal... My man werk hom simpel, naweke ingesluit, ons het nie veel van familie tyd nie, ek sit by die huis omdat die creches te duur is, ons lewensstandaard het moerse geval, nie dat dit my pla nie... maar mens sukkel om net op een salaris jou kop bo water te hou... en dan is dit nog die PR stories en medicals en werkspermit kostes en al daai goed ook, wat vrek duur is... dit klink seker nou vir jou of ek vreeslik moan, maar dit is die realiteit van immigrasie ... Ons is aangese deur die maatskappy waar my man werk dat ons NZ toe moet kom want hier vat 'n werkspermit 5 dae... en so was ons ook maar desperaat en bang hulle gee die werk vir iemand anders en is ons ore in die nek hier !!! Maar hulle vertel nie vir jou die kostes daarna vir permitte en medicals en NZQA en al daai goed nie... en as jy aansoek doen vir PR gaan jy weer al daai geld uitgee vir medicals en police clearance en goed.. as ek beter geweet het sou ons eers PR in SA gekry het en dan oorgekom het, maar nou ja, ons was gedruk vir oorkom en die werk wat my man aangebied is... en ons is nou hier.... Die SAners aan hierdie kant is baie clicky... mens sukkel om vriende te maak en dit is nogal erg as mens die eerstes van jou familie en vriendekring is wat hier aankom... die alleeheid om so heeldag in die huis te sit is erg... ons ry nou 'n ouer kar (1994 model) as wat ons in SA gehad het en ek wou al telke male my goed pak en teruggaan... gelukkig is my man 'n positiewe mens en ons is nou al 2 maande hier en vat dit nou maar dag vir dag.... Ons het hier by 'n Afrikaanse Kerk aangesluit en ons vorms ingevul en alles, en tot vandag toe het ons nog niemand gekry wat kom huisbesoek doen of voorstel of niks nie... mense doen seker maar dinge anders hier as in SA ... Die een vrou hier vra $270 om 4 bladsye te vertaal... dis vir ons nog amper R1600 ... dis verskriklik baie geld as mens dit nie het nie....die ding is om hier aan te kom en geld te gee vir huur, 'n kar, telefoon aansluit en al daai goed, die AA en kar lisensies ... dis alles baie geld en dan kom al die permit kostes ook nog bo-op dit... Die ergste is dat familie en vriende aan daardie kant sit en jou aanpor om terug te kom, wil selfs jou container en vlugkaartjies vir jou terug betaal, jy moet net terugkom... hulle verlang en NZ is nie 'nice' nie... dit maak die wortel voor die neus so aantreklik.... Maar ons het besluit ons BLY.... ons leef maar soos arm blankes ... bly op ons kniee en bid maar dat alles sal uitwerk en leef maar dag tot dag... ons het in die eerste plek nie geld gehad vir 'n LSD toer nie... maar ons wou uit SA uitkom ter wille van ons twee kinders (2 en 4) ... party keer kan ek nie regtig sien of ons beter af is nie, want ons is definitief nie... (nie nou nie... hopelik vorentoe ...) maar die kredietwet, die ressessie, die hoe kos pryse, brandstof pryse, al daai goed is maar hier ook... maar ten minste is hier nie sulke slegte misdaad nie... Sjoe, nou voel dit soos 'n ou regte moanbrief, maar die ontnugtering was groot en die bekommernisse oor geld en oorleef was en is maar vir my erg.... maar ons survive, ons het kos om te eet en soveel om dankbaar te wees, of ek dit weer so sal oordoen ... ek dink nie so nie....
Groete M
Hierdie brief is uit die hart geskryf en ek weet presies waarvan die leser praat.
LSD – TOERE
Die toerebesprekings deur die wintermaande het maar redelik afgeplat en dit was duidelik dat die kredietkrisis ook die mense in SA redelik hard getref het. Die besprekings vir die Nuwejaar het egter baie goed weggespring en is seker ook die gevolg van die Rand van aansienlik versterk het teenoor die NZ Dollar of is dit nou die NZ Dollar wat verswak het? Hoe dit ookal sy die wisselkoers is op hierdie oomblik wat ek hier sit en tik NZ $1.00 = R5.43c. Ek besef dat die toere miskien vir baie mense vreeslik duur klink, maar ons glo weer dat dit baie goeie waarde vir geld is. Jy kan beslis self deur NZ toer vir heelwat minder, maar ek wil my kop op ‘n blok sit dat jy nie eens die helfte van dit gaan sien of ervaar wat jy op ons toere gaan sien en ervaar nie.
Jy gaan nie ‘n fraksie van die mense ontmoet waaraan ons jou gaan voorstel nie en jy gaan BESLIS nie ‘n klaargemaakte ondersteuningstelsel van mense kry wat jou kan help nie. Op ons toere is jy nie net ‘n gas nie, jy word ‘n vriend en as jy eindelik jou immigrasie aanpak kan jy seker wees jy het reeds ‘n hele paar vriende in NZ wat die aanpassing vir jou baie makliker gaan maak en op wie se ervaring en raad jy kan staatmaak.
Op ons toere hoef jy niks te doen behalwe om saam te ry nie en ons verskaf alles behalwe aandetes. Alles word vir jou gedoen deur mede Saners wie al jare hier woon en jou elke oomblik bystaan.
Dit is beslis beter om in ‘n LSD-toer te belê as om ‘n mislukte immigrasiepoging aan te pak of om dood ongelukkig in NZ gestrand te sit. Kom kuier vir ons, ons wag vir jou!!
SPESIALE LSD-TOERPAKETTE
Vir Januarie, Februarie en Maart het ons ‘n gesinspakket waar ‘n gesin van 4 (ma, pa en 2 kinders tussen 10 en 18 jr) 50% afslag kry vir die kinders en toer die kinders teen halfprys.
Vir groepbesprekings van 4 tot 6 persone is daar ‘n 20% afslag.
‘N PAAR GOETERS OM IN GEDAGTE TE HOU EN ‘N PAAR KLIPPIES IN DIE BOS
NOG IETS
‘n Gebruik wat so oud soos immigrasie self is, is dat een gesin oorkom en hulle in NZ kom vestig, ‘n groot huis huur en dan vriende of familie ,wie ook wil immigreer, laat oorkom en by hulle laat bly terwyl hulle werk soek of wag dat hulle “container” in NZ moet aankom. Die kostes word dan gedeel en dit is ‘n goedkoop manier om jou hier te vestig. Dosyne immigrante doen dit en ek weet van min immigrante wie nie op een of ander stadium so ‘n saambly “verhouding” gehad het nie. Op papier lyk dit baie, baie oulik en maak dit selfs sin, maar in die praktyk is dit so vol dorings dat dit amper nie die moeite werd is nie.
Die praktyk het geleer dat so ongeveer 3 weke se saambly min of meer die perk is en dat jy daarna begin om jou “welcome” te “overstay”. Gooi nog kinders en troeteldiere in hierdie “mix” en jy begin aan die einde van 3 weke ‘n redelike plofbare situasie kry! Ek het vele immigrantepare gesien wat as boesemvriende hier aangekom het en vir ‘n hele paar weke in een huis saamgepers is en as kwaai vriende uitmekaar is. Dink maar twee keer voordat jy soiets probeer. Die saamblyery van ‘n paar gesinne in een huis is ook 9 uit 10 teenstrydig met jou huurkontrak en kan jou op die straat laat sit.
Ek sê maar net!!
KIWIBOER EN SOUTH AFRICAN KIWI SE PAADJIES HET GESKEI
Ek en my vennoot, Deon Wessels, het besluit om vanwëe werksverpligtinge die South African Kiwi webwerf van die hand te sit en die bekende Immigrasiekonsultant Leonie du Plessis van Auckland het die webwerf by ons oorgeneem. Skakel gerus met Leonie oor enige immigrasie aangeleenthede.
POSTE VIR SANERS WAT DIE AFGELOPE MAAND GEADVERTEER IS
Transport Engineers/Planners Chartered Accountants Civil Engineers Mechanical Engineers with Heavy Industrial experience SAP Consultants SAP Contractor cProjects / xRPM Snr SAP Consultants SAP FI; PP; PM; HR; PP-PI. Min 6 years implementation and configuration. K4/K5 level skills in any of these modules will secure you a position with this top firm SAP FI/CO Consultant Top corporate end user requires a consultant with solid FI/CO design and configuration experience. This company provides excellent ongoing training and super benefits Testers SAP XI Developer JAVA Developers SAP BASIS Consultant Calling ALL C++ developers Enterprise Application Architect Snr Electrical Design Engineer Tradespeople - Sheetmetal fabricators Mechanics (2) Production Manager: Science / Microbiology Mechanical Engineer/Designers / Qualified Designers: Marine Industry Sale Engineer: Automotive Diagnostic Equipment Senior Electrical Engineer – Engineering Services, South Island New Zealand Mining Engineer – Technical Services, South Island New Zealand Fitter / Welders Hydraulic Sales Engineer Design Engineer Project Manager / Engineer Stormwater Engineer Transportation Asset Manager Water and Wastes Asset Manager Mechanical Design Engineer Water Resources Engineers Physiotherapist Fabricator Speech Language Therapist Occupational Therapist Electronics Technician Sheet Metal Engineer Nurses Electricians Mine Geologist Mechanical Fitter Electrical Fitters Instrument & Electrical Designer Mechanical Engineer Electrical Engineer Electrical Designers SCADA & Metering Engineer Instrumentation Technician Doctors (GP's) Psychologist Diesel Mechanics Process Engineers CNC Operator Printer Technician Fitter/Welder Civil Engineer Fitter Automation Engineer
NUUSBRIEWE IS OOK AANLYN BESKIKBAAR BY: http://www.kiwiboer.virafrikaans.com/nuusbriewe.htm
Sterkte en groot groete uit Cambridge
Louwrens van der Merwe |
||
|
|
||
|
|
||
|
|
||
|
|
||