KIWIBOER NUUSBRIEF - OKTOBER 2008

 

 

IN HIERDIE NUUSBRIEF:

1. "TUPPERWARE" Seminare
2. Wat doen nuwe aankomelinge in NZ?
3. Immigrasiekonsultante sonder "Bull"
4. New Zealand Lewenskoste pryslys
5. Plek in vraghouer beskikbaar vanaf SA
6. Poste geadverteer die afgelope maand

7. Voordele van LSD-toere

 

NUUSBRIEF - OKTOBER 2008

 

Saam met Lente en “daylight savings time” het ook die besef gekom dat die afgelope paar jaar se wonderlike groei en oorvloed werksgeleenthede tot ‘n einde gekom het.

 

Die deure word al meer toe gemaak vir immigrante en dit is nie ongewoon vir SAners met goeie kwalifikasies / opleiding en ervaring om maande vir werk te soek nie. Maatskappye en besighede begin afskaal en hoewel daar amptelik nog ‘n “skills shortage” is sit dit nie om in vakatures of indiensnemings nie. (Lees: “Skilled CVs flowing in, vacancies aren't” – NZ Herald 29 Sept.2008).

 

Werk word meer en meer gereserveer vir Kiwi’s en gevestigde immigrante en feitlik sonder uitsondering sal jy op werksoek Webwerwe soos SEEK en TRADEME JOBS ‘n voorwaarde kry wat lees: “Only people with the right to work in New Zealand may apply for this position”. Hierdie voorwaarde sluit effektief  immigrante werksoekers uit wat nie reeds ‘n werkspermit of PR het nie.

 

"TUPPERWARE" Seminare  

 

Van begin 2008 af het ek die meeste klagtes ooit ontvang oor Immigrasieagente en dit lyk my daar is nou letterlik honderde "konsultante/agente" wat nou op die Immigrasie soustreintjie gespring het en 'n paar Rand uit desperate SAners probeer maak. Een maatskappy waaroor ek gereeld en aanhoudend klagtes ontvang kom hier uit die Baai van Eilande in NZ. Ongelukkig mag ek nou nie hulle naam noem nie, maar die maatskappy se naam sê waarvandaan hulle kom en as jy my e-mail sal ek hulle naam vir jou stuur.

 

In elk geval wat ek wou sê is dat Immigrasieagente uit NZ deesdae Immigrasie "Seminare" hou in SA soos "Tupperware Parties" en dat beloftes van werk en werkspermitte en Permanente verblyfreg links en regs uitgedeel word om net die mense se hand op papier te kry en die deposito in hulle sak. Die grootste klomp stront word aan voornemende (desperate?) immigrante verkoop net om geld uit hulle te kry en die mense kom dan op grond van die beloftes wat die Immigrasieagente aan gemaak het hulle op die seminare in NZ aan en raak hier gestrand! As jy dan op die Immigrasieagent se nommer druk om jou te help staan hulle uit die water uit en haal net hulle skouertjies op, dan is dit te laat!

 

Ek ontvang maandeliks dosyne e-mails van SAners wat hier sit en nie werk kan kry nie nadat hulle die son, maan en sterre belowe was in SA op een van hierdie "Tupperware Seminare". Wat vir my die "cherry" op die koek sit van sommige van hierdie konsultante/agente se verwaantheid is dat jy vir sommige van hierdie "Tupperware Seminare" 'n fooi moet betaal om dit by te woon!!

 

Voordat jy ENIGIETS teken of ENIGE geld oorbetaal doen NAVRAAG of navorsing oor die maatskappy en maak seker dis nie een van die "Tupperware" manne nie. 

 

Dit het nou belangriker as ooit tevore geword dat jy eers ‘n LSD-toer kom doen voordat jy in die diep kant in spring en halsoorkop immigreer. Of jy nou op een van ons toere kom of op jou eie kom toer dit maak nie saak nie, dis net belangrik dat jy eers doodseker kom maak van jou besluit. Dit is geld wat jy BAIE goed belê!

 

WAT DOEN DIE NUWE AANKOMELINGE IN NZ??

 

Die afgelope 18 maande het ek met dosyne nuwe aankomelinge uit SA te doene gekry en ook die vestiging en aanpassing van ‘n hele paar oor die tydperk dopgehou en gedokumenteer. Ek kan nie alles hier herhaal nie, want dit sal ‘n dik boek kan vol maak, maar ek wil tog ‘n paar dinge op ‘n humoristiese wyse aanhaal wat ek in die algemeen by meeste waargeneem het.

 

  1. Die meeste van hulle is darem dankbaar dat hulle uit SA is en veilig in NZ kan bly, maar dis omtrent waar hulle dankbaarheid ophou.

  2. Hulle kom hier aan met BAIE geld, want al die polisse in SA is afgekoop, die huis is teen ‘n groot wins verkoop, die werk se pakket met verlofgeld en pensioengeld het uitbetaal en hulle rol in die geld.

  3. Hulle wil NIE raad hê oor hoe om goedkoop te lewe of goedkoop ‘n begin te maak nie en koop alles nuut en NET van die beste. Dis die grootste “Flat Screen” TV’s, nuwe rekenaars en Blu Ray DVD-spelers en my vriend Cheezy sê hulle koop nie ‘n kar (sorry 4x4) as daar nie minstens ‘n spaarwiel op die agterdeur sit nie!! As hulle nie ‘n nuwe Prado kan koop nie is dit ten minste ‘n RAV4 en as hulle nie ‘n nuwe Mitsi Pajero vir die motorhuis kan kry nie sal hulle “settle” vir ‘n Honda CRV, maar ook net net!

  4. Die “container” uit SA lyk soos “Aladdin’s Cave” en jy kan sien dis daarop gemik om ‘n moerse indruk te kom maak met sy aankoms. Dis van hoek tot kant vol geelhout, akkerhout,  embuia en leer meubels gepak (nog so in die fabriek plestiek!) en daar sal gewoonlik ‘n paar “Quad Bikes” en ‘n Jetski ook uit die container kom, net om dit goed onder ons armgatte se neuse te vryf!

  5. Hulle is salig onbewus daarvan dat al hulle pogings om die “ou” immigrante en Kiwi’s te beïndruk eintlik net ‘n windgat vertoon is en nie eintlik saak maak nie, want dis nie goed wat hier baie belangrik is nie en net die indruk versterk dat SAners uiters materialisties en windgat is.

  6. Hulle vind dit BAIE moeilik om weer onder te begin en wil gewoonlik by die werksplek inval op die vlak waar hy/sy in SA was en sukkel gevolglik om gou werk te kry of in die werksplek aan te pas. Baie van hulle het meer van ‘n “altitude” problem as ‘n “attitude” problem!

  7. As gevolg van hulle goeie finansiële posisie kan hulle gewoonlik ‘n lekker “soft landing” kom maak en dadelik ‘n nuwe huis en karre koop en ervaar hulle gewoonlik dat Immigrasie eintlik net ‘n lekker avontuur is, soos een man vir my by die kerk gesê het: “Ek weet nie eintlik waaroor die hele immigrasie-affêre gaan nie, vir my was immigrasie na NZ soos om van Welkom na Durban te trek en die enigste verskil is dat ek nou moet Engels praat, big deal!”.

  8. Die Mamma van die gesin het gewoonlik genoeg goud en diamante aan haar lyf om die ekonomie van Fuji of Vanuatu vir ‘n jaar aan die gang te hou en ek is feitlik doodseker sy het nie in SA gewaag om haar so met die juweliersware te tooi dat sy soos ‘n krismiskoek lyk nie.

  9. Hulle verloor uit die oog dat jou belangrikste doelwit moet wees om HEEL EERSTE permanente verblyfreg te kry in NZ te kry en DAARNA te begin om eiendom, ens te koop en hulle verwag dat hulle beleggings en eiendom in NZ sal bydra tot die verkryging van PR, wat natuurlik net ‘n droom is.

  10. Laastens, hulle spandeer geld asof more nie gaan aanbreek nie en vergeet dat daar nie meer ‘n polis is om af te koop of pensioen is wat gaan uitbetaal nie en dat nuwe krediet moeilik bekombaar is en vele beland in finansiële verknorsing ten spyte van al die geld waarmee hulle hier aangekom het.   

 

Eintlik is daar niks verkeerd daarmee om baie geld te hê nie en is dit seker maar net ek wat baie naafgat is oor die nuwe aankomelinge uit SA baie beter daaraan toe is as ek en dat hulle nie sulke armgatte soos ons is nie!! (As ek dit nie skryf nie, gaan iemand anders SEKERLIK vir my skryf en dit onder my neus vryf!)

 

IMMIGRASIEKONSULTANTE SONDER “BULL”

 

As jy dalk ook op een van die “Tupperware” seminare was en voel dis net ‘n hoop “bull”om jou uit jou swaarverdiende geldjies te verneuk kan jy gerus kontak maak met die mense by Baker Law in Auckland. Ten spyte van die Engelse naam is dit ‘n prokureursfirma wat deur SAners besit word en wat jou in Afrikaans kan help en wat self die immigrasiepaadjie geloop het. Die man by Baker Law wat jou vinnig en sonder “Bull” op die regte pad sal sit is Chris Reyneke en hy kan gekontak word by Baker Law in Mairangi Bay op Auckland se North Shore. Die telefoonnomer is 09 476 8000 en die e-posadres is  chris@bakerlaw.co.nz Webwerf: www.bakerlaw.co.nz .

 

(LW - Ek is op geen manier verbind aan Baker Law nie en kry ook geen betaling of gunste van enige aard om hulle te adverteer nie, ek beveel hulle aan suiwer net op die positiewe terugvoer wat ek van ander immigrante ontvang het oor hulle goeie diens.)

 

NEW ZEALAND LEWENSKOSTE PRYSLYS

 

Ek het die NZ Lewenskoste pryslys verlede week bygewerk en jy kan die nuutste lys oor pryse van goedere en diense in NZ op die webwerf van South African Kiwi kry by www.southafricankiwi.co.nz  - daar is meer as 300 pryse op die lys!

 

PLEK IN VRAGHOUER BESKIKBAAR VANAF SA

 

Daar is elke twee tot drie maande plek in ons winkel se vraghouer (“container”) beskikbaar vanaf Johannesburg na Auckland vir mense wat ‘n paar meubelstukke of net ‘n paar kartonne wil oorbring en nie ‘n vol vraghouer benodig nie. Die volgende een is in Sept/Okt. Die agent is betroubaar en billik en sal vol vraghouers doen vir mense wat dit benodig. Skakel Jaco Bosman by 09 476 7056 of 021 187 3045

 

POSTE GEADVERTEER DIE AFGELOPE MAAND

 

Die Afgelope maand was die volgende poste onder immigrante geadverteer:

 

Automation Engineer

Business Analysts

Chartered Accountants

Civil Engineers

Clinical Psychologists

CNC Operators/Machinists or Programmers

Control & Instrumentation Design Engineers

Control Systems Engineer

Customer service / account managers

Design Engineer

Diesel Mechanic

Electronics Technician

Fabricator

Fabricator Welders

Fitter / Welders - New Zealand Wide!!!

HVAC Technician

Hydraulic Sales Engineer

Industrial Electricians

Instrumentation Technicians

Mechanical Design Engineer

Mechanical Engineer/Designers / Qualified Designers:  Marine Industry

Mechanical Engineers

Mechanics

Mine Geologist

Mining Engineer – Technical Services

Nurses

Occupational Therapist

Occupational Therapists

Physiotherapists

Production Fitter & Turner

Production Manager: Science / Microbiology

Project Manager / Engineer

Psychologist

Radiation Technicians

Radiographer

Refrigeration Controls Sales Engineer

Sale Engineer: Automotive Diagnostic Equipment

SAP Consultants

SAP Contractor

SAP FI/CO Consultant

SAP FI; PP; PM; HR; PP-PI.  Min 6 years

SCADA & Metering Engineer

Senior Electrical Engineer – Engineering Services

Sheet Metal Engineer

Snr Electrical Design Engineer

Snr SAP Consultants

Sonographer

Speech Language Therapist

Stainless Steel Fabricator Welders

Stormwater Engineer

Testers

Tradespeople - Sheetmetal fabricators

Transport Engineers/Planners

Transportation Asset Manager

Vuro-developmental Therapist

Water and Wastes Asset Manager - Taupo

Water Resources Engineers

 

VOORDELE VAN ONS LSD-TOERE

 

  1. ALLES is klaar vir jou gereël!

  2. Jy kom klim hier af en hoef jou nie te bekommer oor verblyf, vervoer en etes nie.

  3. Jy hoef nie uit te werk waarheen om te gaan of wat of wie om te sien nie.

  4. Afsprake word voor die tyd met die “Recruitment Agencies” en Immigrasiekonslutante van jou keuse gemaak en jy word voor hulle deur besorg.

  5. Indien jy verkies om verder te toer nadat jy op ons toer was kan ons ook daardie reëlings en besprekings vir jou doen.

  6. Jy sien al die vernaamste besienswaardighede in die kortste tyd en daar word nie tyd gemors nie omdat ons weet waarheen jy moet gaan en wat jy moet sien.

  7. Jy deel in ons plaaslike kennis en al jou immigrasievrae word beantwoord deur mense wie al deur die proses van immigrasie gegaan het en graag hulle ervarings met jou sal deel.

  8. Ons help jou om ‘n ondersteuningsnetwerk in NZ op te bou nog VOORDAT jy hier aangekom het en ons haal die vrees en onbekendheid uit die groot stap uit.  


 

Kry Kiwiboer Nuusbriewe by: http://www.kiwiboer.virafrikaans.com/nuusbriewe.htm

Mooi bly en vasbyt.

Louwrens vd Merwe - Kiwiboer.co.nz

 

 

e-Dokument

oor lewe in NZ

 

'n Omvattende dokument van 47 bladsye oor lewe in NZ. Die dokument sluit die  lewenskoste pryslys in ASOOK meer as 150 Webwerf skakels waar jy kan werk soek in NZ en Australië.

 

$29