Mârrâg - KAK!

 

My vriend Koos Snyman het die storie geskryf oor 'n storie wat ek weer vir hom vertel het. Beter kon ek dit self nie gedoen het nie! Geniet!

 

Louwrens vd Merwe vertel hierdie storie van sy seun De Wet en ons winter-reën.

 

Hy sê daar in Suid Afrika het hulle in die Kaap naby ‘n wynplaas gebly en op die wynplaas het ‘n baie nors bejaarde oujong-kêrel gewerk wat baie min gepraat het.

 

Maak nie saak watter tyd van die dag jy hom raakgeloop het nie, as jy hom gegroet het, het hy altyd net een woord gesê naamlik "Mârrâg!". Sonder om in jou rigting te kyk het hy 'n “Mârrâg!” in   jou rigting gegooi, of dit nog oggend, middag of aand was hy het ALTYD net gesê "Mârrâg!".

 

En dan het hy nog net een ander woord gepraat en dit was die som-totaal van sy woordeskat.

As jy hom gevra het hoe dit met hom gaan het hy weereens, sonder om op te kyk, net een woord gesê nl: ” Kâk !”

 

So as jy die omie iewers raakgeloop het en jy groet hom met 'n "môre oom, hoe gaan dit?" Dat het jy "mârrâg, KâK!!" as 'n antwoord gekry.

 

Nou vertel Louwrens dat so week of wat gelede kom De Wet die middag laat, net so voor sononder, van die skool af daar by die huis aan.

 

Maar hy sê dit reën katte en honne en daar waai ‘n ysige stormsterk wind so reg van Antarktika af.

 

Hy sien toe hoe kom de Wet daar in die straat af op sy scooter aangery en die laaitie lê sommer so skuins teen die wind en reën om nie om te val nie en hy besluit toe om maar solank vir die arme nat kind die garage deur oop te maak.

 

De Wet ry die garage binne en Louwrens sê die kind bewe van die koue soos ‘n bang poedel wat ‘n Rotweiler gesien het. Hy is sopnat van kop tot tone en die water loop sommer so by sy skoene uit.

 

Louwrens sê hy voel toe tog so innig jammer vir die kind want hy weet De Wet is koud, moeg en dood van die honger en hy vra toe so ewe vaderlik vir hom: “Hello seuna, en toe, hoe gaan dit?”

 

Hy sê De Wet druk sy valhelm se skerm so al bewende met sy regterhand op en die water in sy handskoen stroom teen sy arm binne in sy papnat hemp se mou af. Met sy linker handskoen vryf hy die snotwater van sy neus af en hy terwyl hy so onderlangs na sy pa kyk sê hy net een woord: “Mârrâg!”

 

Dit het ALLES gesê!!

 

Groetnis.