|
MEDIESE DIENSTE
Ek kan 'n
hele webwerf daaraan afstaan om mediese dienste in NZ te beskryf, maar gaan net
die noodsaaklikste sê. Basiese mediese dienste word deur die staat verskaf of
word deur die staat gesubsidieer. Behandeling in staatshospitale is gratis en
die meeste voorgeskrewe medisyne word deur die staat gesubsidieer en jy betaal
net 'n voorskriffooi wat gewoonlik so in die omgewing van NZ$20 beloop en 'n
minimale bedrag vir die medisyne.
Besoeke aan jou huisdokter kos so ongeveer NZ
$50 per besoek en kinders onder 6 jaar is gratis. Operasies in staatshospitale
geskied op 'n basis van dringendheid en waglyste is lank. Om jouself te dek vir
elektiewe sjirurgie moet jy maar liewer vir jou privaat medieseversekering
uitneem. Daar is privaat hospitale omtrent in elke groot dorp, maar jy moet self
betaal vir behandeling/operasies daar. Vir bevallings In NZ het hulle 'n stelsel
wat van vroedvroue (midwifes) gebruik maak en moet jy die bevalling deur 'n
vroedvrou laat doen. As jy jou eie ginekeloog of dokter wil hê moet jy uit jou
eie sak betaal daarvoor.
PRIVAAT MEDIESEVERSEKERING: Die grootste maatskappy wie
medieseversekering in NZ verskaf is SOUTHERN CROSS HEALTH CARE. Besoek hulle
webwerf by:
http://www.southerncross.co.nz
SAners wie jou ook kan
help met privaat mediese versekering en Inkomsteversekering is: Fritz Swart (www.fritzswart.co.nz),
Herman Roodt (www.futureplan.co.nz/herman)
en Johan Pretorius
(johanpretorius@xtra.co.nz)
.
NB:
Fritz Swart het ook die volgende goeie advies gestuur oor medieseversekering:
"Jy moet assseblief ook
aanbeveel op jou website dat immigrante hul mediese rekords uit SA moet
saambring. Verkieslik moet hulle minstens 5 jaar se geskiedenis bring aangesien
die versekerings mpye al hoe strenger word met keuring van hierdie tipe polisse
vir mense wie nog nie Permanente Verblyfreg het nie en van die mpye dring aan op
SA mediese geskiedenis andersins medies en bloedtoetse op die klient se eie
koste vir die wie net op werkspermitte is."
|
Mediese
voordele vir persone op werkspermitte?
As jy 'n
werkspermit vir 2 jaar of langer het kwalifiseer jy vir al die mediese voordele
wat burgers en "residents" het. Met ander woorde jy/julle sal gratis (in
Staatshospitale) behandeling ontvang en ook die medisynevoordele kry wat ons
almal het.
WAARSKUWING:
Die
eggenote/s van persone met 2 jaar werkspermitte is NIE geregtig op gratis
medies nie! Die permithouer en alle kinders onder 19 jaar is wel geregtig op
gratis medies, MAAR NIE die eggenote/s nie. 'n Onlangse voorval met familie van
GWEN HERBST het die feit pynlik onder almal se aandag gebring en hulle sit nou
met 'n rekening van NZ $11 000!! Lees ook die
koerantberig oor
die tragiese geval van die Lategan-gesin.
Hier is 'n uittreksel van die
brief wat Gwen van die NZ Dept. van Gesondheid ontvang het:
"Dear Gwen
Thank you for your email
which has been passed on to me for response.
The Eligibility Direction states that each person has to prove eligibility in
their own right. The exception to that is children aged 19 and under. In the
case of dependent children, an eligible partner may confer their eligibility to
that child/ren.
In order to be eligible for publicly funded health services in
New Zealand you must, at the
very least, be the holder of a 2 year work permit. Our website,
www.moh.govt.nz/eligibility details who is eligible under the Direction.
In your case, as it appears that only your husband will be granted a work
permit, I would strongly suggest that you seek some for of travel insurance to
cover you for the time you are in New Zealand. If you were to become ill, you
would be liable for the full costs of the treatment.
I hope this information is of use.
Regards
KS"
|
TANDHEELKUNDE:
Kinders onder 13jr kan basiese tandheelkundige behandeling soos die stop van
klein gaatjies en trek van tande by die "Dental Nurse" kry wat die skool besoek.
Vir meer gevorderde werk word hulle na 'n tandarts verwys wat die behandeling
gratis doen (Staat betaal). Tussen 13jr en 18jr kan kinders verniet
tandheelkundige behandeling kry by 'n tandarts (nie alle tandarts wil egter die
staatsfooi vir hierdie "gratis" diens aanvaar nie en bykans altyd moet die ouers ekstra
opbetaal vir die "gratis" behandeling).
Volwassenes moet self betaal vir
tandheelkundigebehandeling en dit word NIE deur die staat gesubsidieer
NIE. Jy betaal deur jou nek vir tandheelkundige behandeling en die koste van
tandwortelverwydering en die insit van 'n tandkroon beloop in die omgewing van
NZ $750 tot $1500 (ongeveer R3700 tot R6300) en die gemiddelde koste vir die stop
van 'n tand so tussen NZ $80 tot $170 (ongeveer R400 tot R850). Die trek van 'n
tand is so ongeveer NZ $90 - $150 (ongeveer R400 tot R630).
As jy hier kom dan
waardeer jy jou "goedkoop" tandarts in SA, want hier kan jou tandarts jou regtig
finansieël ernstig knou. Ek en Ina laat nou maar net die nodige by die tandarts
doen en het 'n beleid van "geen krone" en "net trek", want ons spandeer eerder
die geld op ons kinders se tande as ons s'n. As jy baie tandheelkundige
behandeling nodig het gaan die koste van tandheelkunde in NZ jou na valstande
laat verlang soos nog nooit tevore nie. As jy gereelde besoeke aan SA bring wil
ek voorstel dat jy groot herstelwerk aan jou tande liewer daar laat doen, want
gereelde werk in NZ kan in 'n kort tyd opmaak vir 'n vliegkaartjie na
Suid-Afrika.
Vir my is daar nog net twee uitweë na goeie bek tande en dit is die
Lotto en valstande!! As jy in ag neem dat die gemiddelde loon in die omgewing
van $15 per uur is dan moet 'n werker 'n hele dag se werk insit om net vir een
tand se trek te betaal. Vir 'n tandkroon van $950 sal 'n verpleegster wat $26
per uur verdien een HELE week se salaris (na belasting) moet opgee om dit te
betaal! Werk dit self uit. Ek kan dit werklik verstaan hoekom
baie Kiwi's met bekke vol vrot tande loop, hulle kan doodeenvoudig net nie
tandheelkundigebehandeling bekostig nie.
O'ja, net
so terloops - daar is nie arm tandartse in NZ nie!!
NB: Net nogiets - daar word van jou verwag om dadelik jou
dokters-of tandartsrekening te betaal voordat jy die spreekkamer verlaat.
Nog voordat die lewe terug is in jou bek is die geld in die dokter se sak. Jy
kan reëlings tref om 'n rekening te kry of om jou behandeling af te betaal, maar
dit kos alles ekstra en jy moet vooraf met die dokter/tandarts reël.
BESERINGS
ENIGIEMAND (selfs toeriste) wie in NZ mediese behandeling moet ontvang as gevolg
van ENIGE besering - motorongelukke, werksbeserings, ens. (selfs by jou
huis terwyl jy met jou privaat werk besig is) se mediese koste word deur die
ACCIDENT
COMPENSATION CORPORATION betaal. Jy is net verantwoordelik vir die
eerste betaling wat so tussen $30 tot $50 kan beloop. As jy vir 'n lang tyd van
die werk afwesig is as gevolg van jou besering sal hulle selfs 80% van jou
salaris betaal vir die tydperk wat jy nie kan werk nie. Alle opvolg behandeling
wat jy moet ontvang is ook gratis. |