OP HIERDIE BLAD

 

IN DIE "NUWE" SUID-AFRIKA IS DIE ENIGSTE VERSKIL TUSSEN 'N IMMIGRANT EN 'N VLUGTELING NET ..... TYD !! Hierdie is nie my woorde nie, ek het dit geleen by iemand anders wie voor my tot dieselfde gevolgtrekking gekom het, maar sedert 2001 sê ek dit op my webwerf en ten spyte van honderde e-mails van mense wie hulle "skirte" daaroor beskyt het, het dit by die dag net meer en meer waar geword. Hou die horlosie dop, dit gaan nie verander nie!!

In 1994 na die "Rainbow Nation" tot stand gekom het, het 'n vriend van my die verkiesingsuitslae in die koerant gesit en lees en toe sê hy die volgende woorde wat my vir altyd sal bybly:

"Ou Louwrens, lyk my met hierdie nuwe regering gaan ons baie vêr kom!! MAAR hoe de fok ons gaan TERUG kom weet niemand nie!!".

Profetiese woorde broer, profetiese woorde!

 

DIE HEEL EERSTE VRAE WAT JY MOET VRA VOORDAT JY IMMIGREER

Voordat jy nog daaraan dink om 'n vliegtuigkaartjie na NZ te koop is daar TWEE vrae wat jy vir jouself moet beantwoord en dit is:

 

1. Waarom wil jy immigreer? Wil jy permanent in NZ kom bly of wil jy net tydelik kom?

2. As jy permanent wil kom HOE GAAN JY TE WERK GAAN OM DIT TE BEREIK??

Enige mens met 'n gesonde verstand kan moes vir homself / haarself dink dat daar een of ander Immigrasiebeleid in NZ bestaan waarvolgens permanente immigrasie plaasvind en dat daar sekere voorwaardes is waaraan jy sal moet voldoen ten einde permanent hier te bly. Is dit nie so nie?? Nee nogal nie! Duisende SAners kom klim elke jaar hier af met geen idee hoe hulle te werk moet gaan of te werk wil gaan om permanente verblyfreg in NZ te kry nie. Meeste mense dink as jy net 'n werk hier kan kry is alles reg en kan jy permanent bly. Jy kan nie meer verkeerd wees as jy dit dink nie.

 

Begin deur vertroud te raak met die Immigrasiebeleid! Maak seker jy KWALIFISEER vir permanente verblyfreg en moenie net hoop dit werk uit nie. Moenie vertrou op vae beloftes van familie en vriende wie reeds in NZ is nie - MAAK SEKER! Jy gaan vir jouself baie hartseer op die hals haal. ASSEBLIEF kry die regte feite.

 

Hou ook asseblief ALTYD in gedagte dat NIKS in die Immigrasieproses goedkoop is of verniet kom nie en dat nog minder dinge vinnig gebeur. Jy sal vir elke stap langs die pad die Wet van Transvaal teëkom. Almal gaan geld uit jou wurg op vele eerlike en oneerlike maniere. Die spreekwoord wat sê: "Niks vir niks en 'n bietjie vir 'n tiekie" is beslis die waarheid as dit op immigrasie toegepas word. Immigrasie gebeur nie oornag nie, dis 'n uitgerekte proses met baie pyne en tonne stress, MAAR dis alles die moeite werd!

 

Saam met hierdie blad MOET jy asseblief ook die blad "Werk in NZ" lees. Hulle gaan saam.

 

PROBLEME OP AUCKLAND LUGHAWE EN SUMMIERE DEPORTASIE

 

Ek is seker julle het al almal die stories gehoor van SAners wie op Auckland lughawe voorgekeer is en met die volgende vlug uit NZ teruggestuur is na SA. Hoekom gebeur dit? KLIEK HIER om die redes te sien - die blad maak in 'n aparte venster oop.

 

 

DIE IMMIGRASIEPROSES

 

Die Immigrasieproses kan baie tydsaam wees (tot 9 maande en selfs langer) -  Daarby moet jy jou ook nog voorberei daarop dat die Immigrasiebeamptes redelik onbeskof kan wees as hulle wil. Sien artikel in koerantberigte. Jy KAN jou immigrasieaansoek self hanteer of van 'n Immigrasieagent gebruik maak - LW: Ek sê nie jy moet enige Immigrasiediens of Immigrasieagent spesifiek gebruik nie, jy gebruik die een waarmee jy gelukkig voel.

 

Uit terugvoer wat ons van dosyne immigrante ontvang het blyk dit dat die immigrasiediens wat PROTEA PACIFIC  bied konstant van hoë gehalte is en dat hulle 'n eerlike diens lewer.  Hulle is beslis nie goedkoop nie, maar jy kan reken op hulle diens.

 

Berei jou ook daarop voor dat die immigrasieproses sy erg vernederende en angstige oomblike het. Jy GAAN op een of ander tyd soos 'n stuk vleis met 'n nommer behandel word en dit GAAN vernederend wees en jy kan nie daarvan weg kom nie. Byt maar net vas en skel hulle onderlangs, want hulle het die hef in die hand en NZ Immigrasie beskou jou nie as 'n aanwins vir die land nie, maar eerder soos 'n indringer en administratiewe las. Byt maar net vas, jy sal wel die vrugte pluk. Dis eintlik jammer dat dit die toedrag van sake is, want NZ is BAIE afhanklik van immigrante.

Die Immigrasiedepartement se webwerf het 'n redelike goeie uiteensetting van die nuwe beleid en jy kan ook nou jou "Expression of Interest" aanlyn voltooi. Die webwerf is goed op die bol en jy kan antwoorde op omtrent al jou vrae kry in hulle werf. Kliek op die skakel om soontoe te gaan: http://www.immigration.govt.nz/

Artikels rondom onlangse woelinge in immigrasie kan ook op die blad Koerantberigte gelees word.

  WAARSKUWING: In die afgelope paar maande het Immigrasieagente / agentskappe soos paddastoele opgeskiet en nie almal lewer 'n professionele diens nie. Wees asseblief versigtig in jou keuse van 'n immigrasieagent/agentskap. Doen navrae en vra verwysings asseblief. Agente wie 'n diens van hoogstaande gehalte lewer sal nie skaam wees om verwysings te verskaf nie. Vanaf Mei 2008 moet immigrasieagente ook begin registreer en aan minimum vereistes voldoen, maar dit is nog net 'n vrywillige registrasie tot Mei 2009 wanneer alle Immigrasieagente geregistreer moet wees. Jy kan op die webwerf van die Immigration Advisers Authority gaan kyk of agente geregistreer is.

 INLIGTING

 

As gevolg van die hoeveelheid navrae wat ek ontvang het, het ek 'n blad geskryf - Immigrasie: Hoe om die proses te begin. Kliek op die skakel om soontoe te gaan. (Die blad is alles behalwe 'n handleiding ,maar dit gee jou 'n goeie idee waar om te begin en spaar jou 'n paar e-mails.)

 

 

 

BAIE BELANGRIK!!!

 

HIER IS 'N PAAR BAIE, BAIE BELANGRIKE DINGE WAT JY ASSEBLIEF NIE MOET IGNOREER NIE, DIT KAN JOU BAIE DUUR TE STAAN KOM. 

 

1. As jy hierheen kom op 'n werkspermit en jy wil permanent hier kom bly MAAK SEKER jy kwalifiseer vir permanente verblyfreg VOOR jy kom. As jy nie voor jou koms kwalifiseer vir permanente verblyf (PR) nie gaan jy NIE op grond van jou werksvisa of die tyd wat jy hier was vir PR kwalifiseer nie en GAAN dit beteken dat jy na 'n paar jaar sal MOET terugkeer na SA. Maak seker dat dinge vir jou gaan uitwerk VOORDAT jy kom, moenie hierheen kom en hoop dat dinge vanself gaan uitwerk as jy eers hier is nie - dit is wensdenkery en dinge kan vir jou BAIE verkeerd loop. Ek suig nie die goed uit my duim nie ek kry elke dag daarmee te doen.

 

2. Maak seker dat jy 'n gebeurlikheidsplan (plan B) in plek het as jou immigrasie nie uitwerk nie en jy moet teruggaan. Dit is 'n kort sinnetjie, maar sekerlik een van die belangrikstes.

 

3. Moet ASSEBLIEF nie jou hele lewe in SA opgee en sak en pak hier kom afklim met die gesin en ouma en die troeteldiere terwyl jy net 'n besoekerspermit het nie!! Dis 'n GROOT fout en al meer SAners het dit in die afgelope tyd agtergekom, want die NZ Immigrasiediens begin die skroewe al stywer aandraai. Die GROOTSTE hartseer van hierdie storie is, is dat al meer SAners uit desperaatheid oor die situasie in SA net hier kom afklim en dink alles gaan net gebeur. My hart bloei vir die mense, maar jy gaan die lewe vir jouself (en jou gesin) oneindig kompliseer, want jy loop die groot risiko om gedeporteer te word en dan sit jy sonder 'n lewe in SA en met 'n groot klomp skuld. ONTHOU net as jy een keer uit 'n land gedeporteer is jy amper geen kans het om ooit na enige ander land te immigreer nie.

 

ASSEBLIEF DOEN DIE DINGE REG, EK WIL NIE HÊ JY MOET KOM SWAARKRY NIE!

 

 

HUISE, KARRE , MEUBELS & VRAGHOUERS (CONTAINERS)

 

'n Vraag wat deesdae al meer in navrae opduik is: "moet ons, ons meubels oorbring?".

Om daardie vraag te beantwoord hang deesdae vir my net af van hoeveel waarde jou meubels (finansieël of sentimenteel) vir jou het. As jy voel dit is onmoontlik om van jou meubels afstand te doen en jy voel dit is darem vir jou iets bekends om jou tuis te laat voel in die vreemde, bring dan maar jou meubels oor.

 

As jy sonder jou meubels kan klaar kom en dit is nie vir jou 'n vreeslikle ding om sonder dit te wees nie, sal ek sê verkoop jou meubels en gebruik die geld van die meubels en die geld wat jy vir 'n vraghouer (container) sou betaal het om hier vir jou nuwe meubels te kom koop. Dit behoort dan sekerlik minstens so in die R60 000 omgewing te wees wat jou so ongeveer NZ $12 000 sal gee teen 'n wisselkoers van R5.00c tot NZ $1.00. Daarvoor kan jy verseker weer 'n 3 slaapkamer huis meubileer (as jy nou nie uitspattig wil wees nie).

 

Jy kan BAIE meubels vir $12 000 koop as jy bereid is om 'n bietjie rond te kyk en veral goeie (feitlik nuwe) tweedehandse meubels is ongelooflik goedkoop in vergelyking met nuwes. As jy net nuwe meubels wil koop gaan $12 000 so effens te kort skiet, maar as jy vindingryk is en 'n bietjie rond kyk kan jy 'n hele huis vol ordentlike meubels maak met $12 000. Ons het dit gedoen en het nog baie van die meubels wat ons 2de hands gekoop het toe ons hier aangekom het. Nou praat ek natuurlik nie met die ouens wat met hulle "Kruger-miljoene" uit SA hier aangekom het nie en daar is deesdae BAIE van hulle, ek praat nou net met die gewone "commen, garden variety" SAners soos ek.

 

Om 'n vraghouer (container) met meubels te bring het 'n paar nadele wat jy in gedagte moet hou, nl:

1. Van die elektriese apparate, soos TV's en Video's, gaan dalk nie hier werk nie en jy gaan nie diens of onderdele vir hulle kry nie.

2. Julle sal onmiddelik 'n huis moet huur wat groot genoeg is om al julle meubels te kan vat of dit ten duurste moet laat stoor.

3. Dit gaan jou verplig om onmiddelik te vestig in 'n sekere gebied/dorp/stad voordat jy dalk gereed is en gaan dit moeilik maak om maklik na 'n ander dorp/stad te beweeg waar daar dalk beter moontlikhede of werksgeleenthede is. Om te trek in NZ is 'n DUUR storie (as jy dit laat doen).

4. Terwyl jy wag vir jou vraghouer om aan te kom sal jy meubels, breekgoed, kombuisware en elektriese ware moet koop om jou huis/woonstel te meubileer waarvan jy weer ontslae sal moet raak of opgaar.

 

'n Vraghouer (container) kan 'n GROOT meulsteen om jou nek raak as jy nie jou beplanning mooi gedoen het nie.

 

ONTHOU ek praat net van 'n huis se meubels ,ek praat nie van 'n man wie sy eie besigheid by die huis gehad het en nou met miljoene rande se masjiene en gereedskap sit nie, dis heeltemal iets anders. Kom ons hou maar net by die meubeltjies vir nou.

 

Moet ASSEBLIEF nie karre bring nie, bring net meubels as jy iets wil bring! Karre is goedkoop en volop en ingevoerde karre uit SA voldoen nie altyd aan die vereistes wat daar gestel word nie en dan sit jy dalk nog met nuttelose voertuig om van ontslae te raak. Einde 2005 was daar 3.8 miljoen voertuie in NZ (Bron: LTSA) en dit raak net meer (jy sal dit gou agterkom as jy hier kom, want dit is asof dit permanent spitstyd is in NZ). Lees ook by VRAGHOUERS (CONTAINERS) wat 'n onlangse immigrant te sê het oor die inbring van voertuie.

 

Na aanleiding van baie navrae wat ek ook oor skeepshouers/vraghouers (containers) gekry het, het ek raad by vriende van my gevra wat die afgelope paar maande hier aangeland het en hulle e-posse met praktiese wenke op die volgende blad saamgevat: VRAGHOUERS (CONTAINERS)

 

BAIE BELANGRIK: As jou vraghouer (container) uit SA in NZ aankom en jy het nie reeds PR (residence) nie GAAN jy invoerbelasting betaal op die waarde van die inhoud van jou hele vraghouer. Vir 'n gewone huishouding se meubels, ens. kan dit tot $10 000 beloop. 

 

Die enigste uitsondering op hierdie rëel is mense wie in NZ AANGEKOM het op 'n Werksvisa, met ander woorde jy het 'n werksaanbod (job offer) gehad in NZ en 'n Werksvisa gekry VOORDAT jy na NZ gekom het. As jou Werksvisa vir 'n tydperk van 12 maande of langer is, is jy vrygestel van die betaling van GST op die waarde van jou goedere.

DUS: as jy in NZ aangekom het SONDER 'n werksvisa of op 'n Besoekersvisa en vind daarna werk in New Zealand en kry jou werkspermit terwyl jy IN New Zealand is en jou "container" kom daarna hier aan dan is jy streng gesproke verplig om die GST te betaal op die waarde van jou goedere in die "container".

 

 

HUUR VAN HUISE

 

Die grootste gros immigrante sal nie onmiddelik met aankoms 'n huis koop nie en sal 'n huis moet huur. Die huur van huise word deur 'n wet beheer genaam die TENANCY ACT en 'n staatsdepartement hanteer die deposito's (Bonds) en besleg geskille tussen Huurders en Verhuurders. Die TENANCY SERVICES het 'n volledige webwerf waar jy die wet kan aflaai en alles omtrent jou regte kan uitvind.

 

Voor ek verder gaan wil ek net sê dat huishuur PER WEEK betaal word. Daar word gewoonlik van jou verwag om minstens 3 weke se huur as 'n deposito/waarborg (Bond) neer te sit (die Wet beperk dit tot hoogstens vier weke se huur). Dan moet jy daarby gewoonlik ook nog twee of 3 weke se huur vooruit betaal en as jy deur 'n agent huur hef die agent nog 'n fooi gelyk aan een week se huur + belasting. So as jy beplan om 'n huis wat vir $350 per week verhuur word deur 'n agent te huur sal jy $2100  gereed moet hou VOORDAT jy jou voet in 'n huis gesit het ($1050 = 3 weke se huur vir die "Bond" PLUS $700 = 2 weke se huur vooruit PLUS $350 = agentkomissie). Dit is 'n klomp geld vir ons gewone armgatte en jy eet die eerste paar weke net pap-en-tik in jou nuwe huis.

 

ONTHOU tog net dat ALLE huise in NZ feitlik permanent in die mark is (of so voel dit altans vir ons) want skaars het ons gewoonlik in 'n huis ingetrek of die eienaar (landlord) verkoop hom onder ons gatte uit. Ons het 6 keer getrek in die eerste 4 jaar wat ons in Cambridge gebly het, so moenie te gemaklik raak in 'n huurhuis nie! As 'n Kiwi (of SAner) voel hy kan 'n paar dollar wins maak op 'n huis SAL hy dit in die mark sit en huurders is NIE 'n faktor nie, GELD is! BAIE MIN ,indien enige, oorweging word aan huurders gegee by die verkoop van huise en huurders is maar net gatte op betaalde sitplekke wat die rente betaal op die huis totdat hy vir meer geld van die hand gesit kan word. Moenie illusies daaromtrent hê nie, dit werk nou maar net so.

 

Daar word deur die Tenancy Act baie duidelikelike voorskrifte gegee van hoe lank en op watter wyses jy kennis gegee moet word - ALTYD skriftelik en gewoonlik nie korter as 6 weke nie. Die verhuurder (landlord or his agent) MOET die deposito (Bond) binne 23 werksdae nadat hy/hulle dit van jou onvang het (en jou 'n kwitansie gegee het) by die Tenancy Office van die staat inbetaal en hulle hou dit in trust, NIE die verhuurder NIE.

 

Die Tenancy Office stuur ook vir jou en die verhuurder 'n bewys van ontvangs van die geld. As die verhuurder nie die geld by die Tenancy Office inbetaal nie begaan hy 'n kriminele oortreding. Verhuurders of hulle agente moet normaalweg ook vir jou minstens 48-uur kennis gee as hulle die perseel wil inspekteer (wat hulle om verstaanbare redes baie gereeld doen). Vergewis jou asseblief van al jou regte voordat jy 'n huis huur deur die webwerf van die TENANCY SERVICES te besoek.

 

NB: Binne 'n week nadat jy by 'n huurhuis ingetrek het moet jy 'n lys van gebreke, skade & tekorkominge by die "landlord" of sy agent ingee. Doen asseblief die moeite om 'n VOLLEDIGE lys te maak, want dit kan jou letterlik duur te staan kom as jy dit nie doen nie. Hulle sal enige verskoning gebruik om nie jou "bond" vir jou terug te gee nie, maar dit eerder te gebruik om die huis op te knap.

 

Ek doen die moeite om foto's te neem met my digitalekamera van elke moontlike en onmoontlike ding en het al 'n CD met 139 foto's aan 'n sekere "landlord" oorhandig saam met die lys. Moenie net op die lys na die foto's verwys nie, beskryf elke foto op die CD. Deesdae ,met die beskikbaarheid van die klein videokameratjies, vind ek dit nog makliker om doodeenvoudig net 'n volledige video te neem van alles in en om die huis en 'n kopie aan die "landlord" te oorhandig. Onthou om verskeie persone op die video vas te lê wat later as getuies kan optree. Ek laat my vriende die skade uitwys of sommer maar net in die kamer staan as ek begin om die opname te maak. Neem tog asseblief alle kolle en skade aan matte af, want hulle gebruik graag matte as 'n verskoning om jou geld te hou.

 

Laastens, moet ook nie geskok wees oor die toestand van sommige huise wat te huur aangebied word nie. Enigiets van krotte en pleinweg sommer net "Varkhokke" word te huur aangebied tot paleise en plase.

 

Dit is ook algemene gebruik dat verhuurders verwysings vra van jou vorige "landlords" en jou selfs by jou huis besoek om te sien of jy netjies genoeg is vir hulle huis. Ons het een keer 'n besonderse nuuskierige "landlady" gehad wat verwysings gevra het, ons in besonderhede oor ons herkoms en aktiwiteite uitgevra het en selfs deur ons huis kom snuffel het om te kyk of ons netjies genoeg na haar smaak is. Nodeloos om te sê dat dit my gat so effens rou geskaaf het en toe vertel ek haar wat sy met haar huisie kan doen en toe vryf my dogter dit nog in deur te sê ons sien nie kans vir die volgende stap op haar lys nie nl. "fingerprints and dental records"! Sy het nie gedink dis snaaks nie, maar ons het ons gekraak. Aan hierdie openlike diskriminasie teenoor immigrante raak 'n mens ook gewoond.

 

LW: As jy 'n swak huurder is met geen of swak verwysings van jou vorige "landlords" gaan jy sukkel om 'n ordentlike huis te huur en gaan jou "bond" of deposito waarskynlik "gelaai" word om vir die risiko op te maak!

 

HOE EN WAAR VIND JY 'N HUIS OM TE HUUR?

 

Die eerste paar dae na jou aankoms sal jy waarskynlik in 'n Motel of by vriende of familie bly. As jy jouself wil geld spaar en jou familie en/of vriende wil behou moet jy dadelik begin om 'n huis of woonstel te soek om in te bly. Dit word algemeen onder gevestigde immigrante aanvaar dat vriende of familie wie immigreer en tydelik by jou tuisgaan nie vir langer as 3 weke (maks) van jou gasvryheid gebruik sal maak nie (ek het met dosyne gevestigde immigrante hieroor gepraat en meer as 90% het gesê 3 weke is omtrent die maksimum tydperk).

 

Nou waar begin jy om 'n huis te soek? Jou beste bronne vir huurhuise is:

 

1. Plaaslike eiendomsagentskappe.

2. Plaaslike koerante (omtrent elke dorp in NZ het sy eie koerantjie).

3. Die Internet - gaan kyk op die volgende webwerwe:

http://www.trademe.co.nz/
http://www.realestate.co.nz/
http://search4homes.co.nz/

 

 

HUISKOOP?

 

Huise is duur en net soos in SA het New Zealand ook die afgelope 7 jaar 'n "housing boom" gehad en het pryse van huise tussen 2000 en 2007 met 81.5% gestyg! Die gemiddelde prys (nasionaal) vir 'n 3 slaapkamer huis in NZ is nou $393 240. Op 21 Januarie 2008 het NZ se huise amptelik die mins bekostigbare huise geword as dit gemeet word aan inkomste. Lees hierdie artikel.

 

As 'n baie growwe maatstaf kan jy rofweg reken om maandeliks $850 per $100 000 van jou huislening te betaal, met ander woorde vir 'n huis van $350 000 (wat 'n baie basiese huis is met 3 slaapkamers, 2 badkamers en 'n enkel motorhuis) kan jy verwag om maandeliks in die omgewing van NZ $3000 te betaal (8% oor 20 jaar).

 

Jy moet daarby ook nog minstens $250 per maand byvoeg vir versekering en belastings.

 

Huiskoop in NZ is maklik en vinnig. Oordrag van die eiendom op jou naam geskied binne 2 tot 3 weke en die koste verbonde aan oordrag is BAIE billik en nie naastenby so duur (of tydsaam!) soos in SA nie. Die oordragkoste is gewoonlik $2000 tot $3000.

 

LW: Daar is ook drastiese verskille tussen huispryse in die stede en platteland.

 

As jy presiese statistieke wil hê oor die Eiendomsmark in NZ en oor huispryse in al die streke gaan asseblief na die webwerf van Quotable Value.

 

Om die huidige NZ rentekoerse te sien op alles van huislenings tot kredietkaarte en beleggings tot spaarrekeninge gaan na www.interest.co.nz .

 

 

NB: WEES VERSIGTIG - ASSEBLIEF !!

 

Sê die minimum:


Die meeste van ons wat immigreer voel so verlig oor die moontlikhede van 'n nuwe lewe in 'n ander land dat ons nie kan wag om die regeerders van die land te vertel waar hulle die "nuwe" SA kan gaan in druk nie. Ongelukkig is daardie gat (verskoon tog maar die toevallige ooreenkoms met die regte plek) reeds oorvol en het "Die Regeerders" reeds ons ywerigheid om ons verligting uit te blaker teen ons begin inspan. As jy immigreer sê tog maar die minimum, want as "Big Brother" jou hoor verloor jy in 'n japtrap jou kosbegroting en tref allerhande peste en plae jou. Tot tyd en wyl jy burgerskap in 'n ander land aanvaar het en al jou bande met SA verbreek het is jy net "tydelik" oorsee om daar te "werk" of te "studeer". Jou ywerigheid om aan alles met ore te vertel jy immigreer kan jou letterlik "duur" te staan kom en BAIE onwelkome oë op jou vestig. Vat maar hierdie bietjie raad, dit kom uit die dure ondervinding van verskeie immigrante.

 

 

'n PAAR UITSTAANDE KWALITEITE VAN NEW ZEALAND

  • Dit is 'n BAIE VEILIGE land om in te bly.

  • Lae misdaadsyfer

  • Dit is 'n pragtige land - prentjiemooi.

  • 'n Goeie lewensstandaard.

  • Goeie medieseversorging.

  • Goeie skole en Universiteite.

  • Goeie infrastruktuur.

  • Puik dienste.

  • Skoon geriewe.

  • Wetsgehoorsame mense.

  • Stabiele Regering.

  • Bostaande lys kan baie lank raak en dit is maar net 'n paar waaraan ek die meeste waarde heg.

 

IMMIGRANTE SE EIE STORIES OOR HULLE ERVARINGS IN NZ

 

BIETJIE RAAD VIR JOU EERSTE AANKOMS IN NZ

 

 

VERVOER VAN DIE LUGHAWE AF

 

Van die lughawe na jou hotel/backpackers toe is dit beslis die goedkoopste om die Airport Schuttle te vat. Gewoonlik sulke mini-bussies met 'n toe bagasiesleepwa. Hulle lewer jou by jou bestemming af. Daar is ook busse van die lughawe tot in die stad, maar ek het nog nooit van hulle gebruik gemaak nie en jy moet ook die stad ken om te weet waarheen hulle gaan. Die Schuttle is die beste, vra maar daar op die lughawe waar jy die Airport Schuttle kan kry, almal ken dit. 'n Taxi is jou laaste uitweg, want hulle is die duurste en soms belaglik duur. Ek gee 'n bietjie meer besonderhede oor die "Airport Shuttle Service" 'n bietjie verder in die blad. KLIEK HIER om soontoe te gaan.

 

WAAR MOET EK BLY?

 

Jy gaan waarskynlik die eerste week of twee nie 'n keuse hê as om by vriende/familie of in 'n Hotel/Motel/B&B of Backpackers (goedkoopste, maar meer vir jonger mense) te bly nie. Gewoonlik kan jy jou maar regmaak (op die goedkoopste plekke) vir so $45 per nag vir enkellopendes en so $60 per nag vir pare wat deel. As jy by vriende/familie bly het jy nie eintlik so 'n groot probleem nie, maar as jy moet betaal vir jou verblyf gaan dit jou loon om onmiddelik vir 'n huurhuis of woonstel/kamer te soek. Koop vir jou die plaaslike koerante of soek op die Internet na huurakkommodasie. Gaan lees ASSEBLIEF die artikel oor huurhuise hier bo wat ek geskryf het om jou op hoogte te bring met wat jou regte is en wat van jou verwag word as jy huur. Normaalweg beveel ek gastehuise of B&B plekke aan wat deur SAners besit en bestuur word omdat jy daar gewoonlik baie meer tuis voel en jy in jou eie taal gehelp kan word deur mense wat jou omstandighede verstaan en hulle ervaring met jou kan deel en die aanpassing en verlange darem so 'n bietjie ligter kan maak.

 

TELEFOON & INTERNET

 

Alle motelle/packpackers het hulle eie Internetkiosks en jy sal nie 'n probleem hê om vinnig 'n e-mail of twee te stuur nie. Internetkafees is ook orals te kry in die stede en dorpe en dit behoort redelik maklik te wees vir jou om met jou familie in aanraking te kom. Almal hier by ons gebruik maar die Internettelefoon (VOiP) SKYPE om met ons families in SA te praat, want dis ongelooflik duur om SA toe te bel. As jy jou eie skootrekenaar (laptop) saambring sal jy natuurlik weer hier 'n Internetdiensverskaffer moet kry, want jou SA diensverskaffer gaan nie hier werk nie. Jy kan vir jou 'n prepaid Internet kontrak kry tot tyd en wyl jy 'n permanente blyplek het en dan gaan die Internet vir jou baie goedkoop wees, want dan kan jy van enige telefoon in NZ op die Internet gaan. Diensverskaffers in NZ gebruik tolvryenommers en die oproep (dail-up) is verniet, so jy betaal net vir jou Internet-toegang.

 

Jy kan pre-paid Internet pakkette kry by Netsurf (http://www.netsurf.co.nz/netsurf_prepay.htm) en Earthlight (http://www.earthlight.co.nz/travellers.htm). Jy kan vir jou klaar 'n rekening skep in SA oor die Internet met jou kredietkaart.

 

Die maklikste en goedkoopste manier om jou familie te bel in SA is maar om vir jou een van die dosyne telefoonkaarte te koop wat by omtrent elke klein kafeetjie beskikbaar is (hier word 'n klein kafeetjie 'n "Dairy" - melkery - genoem) . Met die telefoonkaart kan jy jou telefoonuitgawes baie goed beheer, want as jy van die motel/backpackers/hotel se foon af gaan bel gaan jy gou-gou met 'n helse telefoonrekening sit. Met die telefoonkaart bel jy 'n tolvrye 0800-nommer, tik die kode op die kaart in en tik dan jou nommer wat jy wil bel in. Met 'n telefoonkaart van $10 kan jy na 'n gewone landlyn telefoon (NIE selfone nie!) in SA praat vir so tussen 30 tot 45 minute en soms langer. Dis beslis die goedkoopste manier en jy bel nie op skuld nie. As die geld op is is dit op en jy koop net 'n nuwe kaart. Ek dink die kaarte gaan tot by $50. Daar is so baie verskillende kaarte dat ek nie weet watter een om aan te beveel nie. Jy sal wel gou uitvind watter een die beste is. Vra maar die persoon by die "dairy" of winkel.

 

As jou SA selfoon se simkaart kan uithaal kan jy hom (die selfoon) saambring en net hier 'n nuwe pre-paid kaart kom koop. Om egter SA toe te bel op 'n selfoon of om oproepe hier te kry op 'n selfoon gaan 'n plaas se geld kos. Vir 'n noodmaatreël is dit egter 'n goeie idee. Jy kan natuurlik ook hier 'n goedkoop pre-paid selfoon koop (ongeveer $100) of een huur.

 

ONTHOU om jou kredietkaart by jou bank in SA te laat registreer en aktiveer vir buitelandse transaksies!!

 

 

KAR: HUUR of KOOP?

 

As jy nie dadelik 'n kar wil koop nie is die enigste ander opsies natuurlik publieke transport (busse & treine) of die huur van 'n goedkoop karretjie. Ek het 'n bietjie navorsing gedoen en gou agtergekom dat 'n "goedkoop" huurkarretjie nie eintlik bestaan nie, want selfs die kleinste karretjie (1000cc tot 1300cc) gaan jou enigiets van NZ $35 tot NZ $45 per dag uit die sak jaag sonder versekering en op sommige is daar selfs 'n km-beperking (jy mag slegs in die stad ry waar jy die kar gehuur het) en per-Km fooi wat bygevoeg word. Daar is letterlik honderde motorverhuuringsbesighede in NZ en honderde webwerwe vir huurmotors en ek weet nie eens waar om te begin nie.

 

Die onderstaande websites vir motorhuur kan dalk help. Dis maar net die paar wat vir my billik gelyk het. Ek het meer as 'n uur deur almal gesoek. Gaan kyk maar op die Internet.

 

In NZ kan jy vir so NZ $2500 vir jou 'n BAIE oulike karretjie koop wat jou lank kan hou en dit sal miskien die beste opsie wees om maar vas te byt en 'n klein karretjie te koop. Vir 'n maand se karhuur gaan jy in elke geval hier by 'n $1000 betaal.

 

Daar is 'n plek in Auckland waar "Backpackers" ,wie 'n geruime tyd deur NZ gereis het, van hulle kar ontslae kan raak deur hulle karre te smous aan ander mense wie 'n goedkoop padwaardige karretjie soek. Dit word die BACKPACKERS CAR MARKET genoem, gaan kyk gerus daar. Die Backpackers Car Market is in 20 East Street, Central Auckland en is oop van 09:00 tot 17:00 elke dag.

 

 

VERVOER NA EN VAN LUGHAWE (Auckland & Hamilton)

 

Tensy jy een van daai manne is met die DIK beursies wat deesdae uit SA hier afklim gaan 'n Taxi-fooi in Auckland en Hamilton jou oë laat traan. Daar is ,myns insiens, maar net een bekostigbare manier om van die lughawe tot in die stad te kom en dit is met die "Shuttle service". Enige "airport shuttle" diens (daar is verskeie) is AANSIENLIK goedkoper as 'n Taxi. Die "shuttle service" laai jou voor jou blyplek se deur af en weer op as dit nodig is. Deesdae kry ek ook al hoe meer navrae van mense wat vanaf Auckland lughawe na Hamilton moet gaan en gelukkig is daar 'n "shuttle service" wat elke dag heen-en weer ry van Auckland lughawe na Hamilton en andersom.

 

WAAR KRY JY DIE "SHUTTLES" OP AUCKLAND LUGHAWE? As jy in die ontvangslokaal by Auckland lughawe inkom (dis nou nadat jy reeds deur Immigrasie en Doane is) hou jy LINKS. Jy sal sien daar is 'n dik Stainless steel pyp skeiding aan die linkerkant en aan die einde van daai pyp draai jy links en dan sal jy 'n uitgang voor jou sien (net na McDonalds). Gaan daar uit en jy sal die "Shuttles" aan jou linkerkant sien. As jy vergeet van die pyp soek net vir McDonalds.

 

Goeie "airport shuttle services" wat ek kan aanbeveel is:

 

STEDELIKE "AIRPORT SHUTTLES"

In die volgende stede kry jy op die lughawe die "Super Shuttle" : Auckland / Hamilton / Rotorua / Hawkes Bay / Wellington / Nelson / Christchurch / Dunedin en Queenstown. Op die Super Shuttle webwerf (http://www.supershuttle.co.nz) sal jy ook die fooie kry en besprekings kan maak. Hulle lewer 'n baie goeie diens en jy kan met vrymoedigheid van die diens gebruik maak.

   

AUCKLAND LUGHAWE NA EN VAN HAMILTON

Die Minibus Express (http://www.minibus.co.nz/) loop elke dag van die week tussen Hamilton en Auckland lughawe. Die fooie is ongelooflik billik - ongeveer $70 vir 'n eenrigting kaartjie en $130 vir retoer. Al hulle kontakbesonderhede is op die webwerf, asook hoe om besprekings te doen. Hulle lewer jou voor jou deur af in Hamilton en tel jou ook weer daar op.

 

 

STRAATKAARTE VAN STEDE IN NZ

 

Straatkaart van Auckland en voorstede is te vinde by: http://www.nzmaps.co.nz/

Kaart / Kaarte van ander stede en dorpe is te vinde by: http://www.wises.co.nz

 

Nog goeie kaarte is te vinde by:

http://www.smaps.co.nz/nz/

http://maps.google.co.nz/

 

 

BAIE MIN HULP

 

Die rooi mat van immigrasie na NZ eindig by die lughawe as jy daar afklim en daarvandaan is jy op jouself aangewese. Immigrante kan ook nie reken op die steun van hulle werkgewers nie, so sorg dat jy so vêr moontlik op jou eie stoom kan reg kom.

 

NZ werkgewers sal slegs in HOOGS UITSONDERLIKE gevalle jou hervestigskoste betaal en ek het in byna 9 jaar hier nog net van 'n hand vol mense gehoor wie se hervestigskoste (container met meubels en vliegkaartjies) deur die werkgewer betaal was en in alle gevalle was dit 'n groot maatskappy wat mense met uitsonderlike kwalifikasies of vaardighede gesoek het. Die beste waarop jy kan hoop (en dis 'n GROOT hoop) is dat die werkgewer jou vliegtuigkaartjie sal betaal en dis ook maar 'n "long shot" dat dit sal gebeur.

 

Sien die artikel:Bosses leave migrants to flounder

 

 

IMMIGRASIEAGENTE

 

Daar is min dinge waaroor ek so gereeld vrae en terugvoer kry as oor immigrasieagente en ongelukkig is min van die terugvoer positief. Ek het dosyne e-mails van immigrante en voornemende immigrante wat kla oor die dienste en fooie van immigrasieagente. 99% van klagtes gaan oor vals beloftes en die groot bedrae geld wat gereeld uit hulle "gemelk" word (soos hulle dit stel).

 

Ek het my vir lank uit die debat gehou, maar ek moet soveel vrae beantwoord daaroor dat ek besluit het om myself maar baie e-mails te spaar en tog 'n paar dinge op te klaar.

 

Soos met enige diens wat gelewer word is die oorgrote meerderheid van immigrasieagente doodgewone eerlike ouens wat maar net 'n diens lewer en daarvoor betaal moet word. Ongelukkig is daar altyd 'n paar vrot appels wat almal 'n slegte naam gee met die gevolg dat almal met dieselfde kwas geverf word - soos tweehandse motorverkoopsmanne en eiendomsagente (maar ek dink hulle verdien dit!).

 

Die toedrag van sake en kon beslis nie so voortduur nie, daarom het die NZ Regering nou ingegryp en die Immigration Advisers Authority (IAA) (http://www.iaa.govt.nz/)  geskep om Immigrasieagente te registreer en te beheer. Immigrasieagente kan reeds vanaf 4 Mei 2008 begin registreer en het 'n jaar grasie tot die 4de Mei 2009 wanneer ALLE immigrasieagente geregistreer MOET wees.

Op 4 Mei 2010 MOET alle agente in die buiteland ook geregistreer wees. Jy kan dan enige immigrasieagent om sy registrasienommer vra en dit gaan opkyk op die webwerf van die Immigration Advisers Authority (IAA).

Let egter op dat Prokureurs nie nodig het om te registreer as immigrasieagente nie. Hulle word reeds deur ander liggame beheer.

 

Hopelik sal die nuwe wet help om van die "cowboys" ontslae te raak.

 

Die meerderheid van klagtes wat ek ontvang is dat immigrasieagente die mense (voornemende immigrante) "MELK" vir geld en dat hulle gereeld groot bedrae (in Rand) moet betaal om die proses aan die gang te hou en die immigrasieagent sover te kry om iets te doen.

 

Die begrip "Melk vir geld" is feitlik altyd in 'n negatiewe sin, maar 'n mens kan dit ook sien as "progress payments" of 'n soort van paaiement. In alle regverdigheid teenoor die immigrasieagent moet 'n mens ALTYD in gedagte hou dat die immigrasieproses presies dit is - 'N PROSES.

 

Die negatiewe verbintenis van "Melk vir geld" kom in wanneer immigrasieagente nie die proses en kostestruktuur aan die voornemende immigrante verduidelik nie en voornemende immigrante hulle nie self op hoogte bring met die proses en kostes nie. In hierdie verwarring gebeur dit dan soms dat SOMMIGE immigrasieagente belaglike bedrae vra vir hulle werk en die proses onnodiglik uitrek om hulle winste te maksimaliseer.

 

Die kostes van die immigrasiedepartement is NIE 'n geheim nie en dit kan maklik gekry word deur net na NZ Immigrasie se webwerf  te gaan en die "SEARCH" blokkie te gebruik. Tik in  "FEES GUIDE" en kliek "GO" . By die soek resultate sal jy 'n dokument sien genaamd "Fees Guide INZ (1028)". Die dokument is in PDF formaat. Laai hom af en lees dit.

 

Nouja om terug te kom na die immigrasieagent wat jou "melk vir geld" laat ek dit so duidelik maak - daar is 'n paar maniere waarop hulle te werk gaan om die immigrasieproses aan te pak en ek raak net aan twee algemene maniere:

 

1. Die immigrasieagent werk uit wat die maksimum bedrag is wat die HELE proses gaan kos en vra jou dan een groot bedrag wat alles insluit (NZ immigrasie se kostes en sy fooi) en betaal dan pro rata geld aan jou terug indien die proses/aansoek misluk en ook afhangende van waar in die proses die aansoek misluk. Hoe verder die aansoek gevorder het voordat dit misluk het hoe duurder gaan die mislukking jou kos, natuurlik.

 

2. Die immigrasieagent laat jou in paaiemente vooruit betaal vir elke deel van die proses wat afgehandel word (hierdie is die mees algemene metode). Net om argumentsonthalwe laat ek dit so verduidelik: sê maar jy het aansoek gedoen vir PR (Permanent Residence), dan begin die proses by die "Expression of interest" wat op die goedkoopste NZ $400 kos (aanlyn) plus die agent se fooi en gaan die agent jou daarvoor laat betaal VOORDAT hy/sy daarmee begin, want die agent moet die NZ immigrasiedepartement dadelik betaal by indiening van enige aansoek. Van die "expression of interest" af raak dit natuurlik al hoe duurder, MAAR jy kan die kostes kontroleer wat die agent vra deur te WEET wat die Immigrasiedepartement se kostes is en seker te maak die agent blaas nie die kostes op om jou te verneuk nie.

 

Om net die kostes 'n bietjie duideliker te maak - as jy 'n doodgewone PR-aansoek insit uit SA is die MINIMUM kostes van die NZ Immigrasiedept. in die omgewing van NZ $3400 (ongeveer R19 700) - NZ $400 vir 'n "online" Expression of interest + NZ $1800 ($1400 as jy reeds in NZ is) vir die "Residence Application" + NZ $1200 vir die "Migrant Levy". DAARNA moet die agent se komissie/fooie nog bykom. Die fooie hierbo is vir die "Skilled Migrant Category" en die ander kategorië is nog duurder - kyk die "Fees Guide".

 

Hierdie kostes is nou die minimum en sluit NIE koerierkostes, vertalingskostes, sertifiseringskostes, regsmenings, posgeld, ens. in nie. Baie min aansoeke is die eerste keer in orde en die grootste gros van aansoeke moet rondgestuur word met die pos of koerier wat die kostes vinnig die hoogte laat inskiet. Om dokumente van NZ na SA te koerier kos 'n moerse klomp geld. Jy kan jouself baie geld spaar deur seker te maak jou dokumentasie is reg voordat jy dit weg stuur. Luister na wat die agent vra en doen presies so.

 

'n Klagte wat ek ook gereeld kry is dat immigrasieagente net dokumente/aansoeke merk en terug stuur en niks voltooi nie. Maak net seker dat dit nie 'n vereiste van die NZ Immigrasiedept. is dat jy self die aansoek moet voltooi nie. Aansoeke vir PR kan die agent namens jou voltooi.

 

Om te verseker dat jy nie uitgebuit word nie vra voor die tyd 'n gespesifiseerde kwotasie van kostes en fooie en kry ook verskeie kwotasies. Moenie net die eerste (of goedkoopste) een aanvaar nie. Kyk na die maatskappy/agent se webwerf en rekord. Kyk hoe lank die persoon of besigheid al in die bedryf is en probeer praat met mense wat al van die agent se dienste gebruik gemaak het.

 

NB: Die eerste plek om te begin om 'n Immigrasieagent uit te kyk is om die agent se webwerf te besoek en te kyk of hulle besigheid 'n fisiese STRAATADRES het waar jy hulle kan gaan opsoek.

 

Sommige agente het op hulle webwerf net e-mail adresse, posadresse, telefoonommers en 'n vorm of twee op waar jy hulle kan kontak. As daar nie 'n fisiese adres op is nie moet dit klaar klokkies by jou begin lui. Dit gesê was ek 'n rukkie gelede by 'n "fisiese adres" van 'n "immigrasiemaatskappy" wat beweer hulle is een van die grootste en beste immigrasiemaatskappye in NZ en al wat ons by hulle "straatadres" gekry het is 'n "sekretaresse" wat jou by 'n groot kantoorblok se ontvangstoonbank kry en "onderhoude" met kliënte voer in die ontvangslokaal. Ons was nooit by enige kantoor in nie en weet nie eens of hulle regtig daar 'n kantoor het nie.   

 

Die enigste Immigrasiekonsultante wat ons met vrymoedigheid kan aanbeveel is PROTEA PACIFIC - hulle is beslis nie die goedkoopste nie, maar jy kan op 'n diens van hoë gehalte reken.

(LW - Ek is op geen manier verbind aan Protea Pacific nie en kry ook geen betaling of gunste van enige aard om hulle te adverteer nie, ek beveel hulle aan suiwer net op die positiewe terugvoer wat ek oor 'n lang tyd van immigrante ontvang het oor hulle goeie diens.)

 

Onthou, daar is geen voorgeskrewe fooie nie en die agent kan vra wat hy wil en as jy ingestem het vir die fooie sal jy betaal. Geen twee aansoeke is ook dieselfde nie en geen twee aansoeke sal dieselfde moeite en werk verg nie. As jy van jou kant af die dokumente verskaf soos gevra en aansoeke BEHOORLIK invul (en op tyd) sal jy die koste tot die minimum beperk. Moenie self bydra tot jou grief teen die immigrasieagent nie.

 

LAASTENS: Jy KAN self jou aansoek hanteer, jy HOEF nie van 'n agent gebruik te maak nie en ONTHOU ook dat GEEN immigrasieagent op hierdie aarde jou kan waarborg dat jou aansoek suksesvol gaan wees nie. Hy kan met 'n groot mate van sekerheid sê jou aansoek KAN suksesvol wees, maar hy/sy kan dit NIE waarborg NIE!!

 

 

ALGEMENE VRAE WAT GEREELD GEVRA WORD

 

Hier volg 'n paar algemene vrae wat ons elke dag kry en die antwoorde daarop.

 

1. Moet ons immigreer?

Om nou sommer reguit te wees, ek voel dis sekerlik een van die k@kste vrae wat iemand oor immigrasie kan vra en as jy daai vraag vra is jy BESLIS nog nie reg om te immigreer nie! Bly gerus in SA tot jy geroof, vermoor (dan is dit te laat), verkrag, vermink, geskiet, gesteek, verbrand of gekaap word en dan sal dit vir jou BAIE DUIDELIK word dat jy LAAAAAANKAL moes geimmigreer het! Wil jy wag totdat jou kinders groot is en GEEN toekoms het nie? Moenie net aan jouself dink nie, dink aan jou kinders!

 

ONTHOU ALTYD:  In Afrika is die enigste verskil tussen 'n IMMIGRANT en 'n VLUGTELING net TYD!! Wag net lank genoeg en jy SAL uitvind ....... (vra gerus die mense uit Zim wie nou in NZ bly!).

 

2. Kan ons ons ouers saambring na NZ?

 

JA, jy kan jou ouers saambring na NZ, MAAR onder sekere voorwaardes en dit is nie gewaarborg dat jou ouers aanvaar gaan word nie. Die meerderheid van die kinders moet in NZ woon en jou ouers moet redelik gesond wees en 'n skoon polisieklaring hê en moet deur jou geborg word. Ongelukkig moet jy reeds 3 jaar PR (permanente verblyfreg) hê voordat jy jou ouers kan borg, d.w.s jy sal reeds meer as 3 jaar in NZ bly voordat jou ouers kan oorkom. Daar is ook nog ander voorwaardes en jy kan volledig daaroor oplees op NZ Immigrasie se webwerf. As jy op NZ Immigrasie se webwerf land gebruik die "search" funksie boaan die blad en tik in "parent", jy sal dan die blad kry wat oor ouers handel.

 

3. My man / vrou is hier op 'n werkspermit, mag ek ook werk?

 

JA, as jou eggenoot/eggenote of "partner" se werkspermit vir 'n tydperk van 6 maande of langer uitgereik is kan jy ook aansoek doen vir 'n werkspermit vir dieselfde tydperk. Gewoonlik word daar dan 'n "oop" werkspermit aan jou uitgereik. 'n "Oop" werkspermit beteken dat jy vir enige besigheid kan gaan werk en jy is nie beperk tot een werk of werkgewer nie.

 

4. Moet ons nog steeds retoer vliegkaartjies hê as ons op werkspermitte na NZ kom?

 

JA, jy word gesien as 'n tydelike besoeker as jy op 'n werkspermit in NZ is en jy moet 'n retoervliegkaartjie hê.

 

5. Moet ons kinders studentevisas hê voordat hulle kan skool gaan?

 

JA, as jy op 'n werkspermit in NZ is dan moet jy aansoek doen vir studentevisas vir jou skoolgaande kinders. Dit is nie 'n groot probleem nie en word geredelik uitgereik sonder veel moeite.

 

6. Wat is die "afsny" ouderdom vir immigrasie na NZ?

 

Onder die "Skilled Migrant Category" is die maksimum ouderdom vir immigrasie na New Zealand 55 jaar. Die NZ Immigrasie Departement se presiese bewoordig is: "Keep in mind that you must be aged under 56 to apply under the skilled migrant category".

 

 

e-Dokument

oor lewe in NZ

 

'n Omvattende dokument van 47 bladsye oor lewe in NZ. Die dokument sluit die  lewenskoste pryslys in ASOOK meer as 150 Webwerf skakels waar jy kan werk soek in NZ en Australië.

 

$29

 

^^ TERUG NA BO

 
Kopiereg 2001. Kiwiboer.co.nz. Goedgunstiglik gehuisves deur www.virafrikaans.com