SKOLE EN KINDERS

 

Kinders gaan in NZ  vir 13 jaar skool en begin op die ouderdom van vyf. Skoolbywoning is verpligtend tot 16 jr. Van jaar een tot jaar ses (Standerd 3 in die ou SA stelsel) is kinders in die "Primary School". Vir jaar sewe en jaar agt (Std. 4 & 5) is hulle in die "Intermediate School" en van jaar nege tot dertien (Std.6 tot 10) is hulle in die "High School". Skool standaarde is hoog en die opvoeding baie goed. Die skoolfonds of "donation" vir my kinders beloop NZ $150 per kind en hulle "activities & book fees" 'n verdere NZ $110 per kind. Gemiddeld kan jy dan so reken op NZ $260 per kind per jaar. My seuntjie het in die laerskool met gewone klere skooltoe gegaan, maar in die "Intermediate School" moes hy skooluniform begin dra. Die koste van 'n volledige nuwe skooluniform vir my dogter in Std.6 het ongeveer NZ $250 beloop. Van daar vul 'n mens mos maar die stukke aan soos dit nodig raak.

 

Skool begin gewoonlik so ongeveer 08:30 in die oggend en kom om ongeveer 15:20 in die middag uit. Die kinders pak gewoonlik kos in dat dit lyk of hulle vir 'n paar dae gaan wegbly, maar dit is net vir een dag. Hulle moet 'n eetding hê vir "morning tea" wat so by 10:40 is en vir "lunch" wat so by 12:50 is. So eintlik eet hulle meer as wat hulle leer! Hulle kry redelik huiswerk, maar sal hulle ook nie dood werk daaraan nie. Laerskoolkinders kry so 20 tot 30 minute se huiswerk vier dae van die week, "Intermediate" skool so tussen 30 en 40 minute se huiswerk vier dae van die week en Höerskoolkinders enigiets van 1 tot 3 ure per dag. Baie tyd en aandag word aan kinders met leerprobleme gegee en daar is baie hulp beskikbaar. Selfs kinders met ernstige probleme word op maniere gehelp wat altyd hulle menswaardigheid voorop stel. Ongelukkig is daar ook 'n groot klomp kinders (of ouers) wat maar net langs die pad opgee. Die Kiwi's is BAIE goed met kinders.

 

Die eerste kwartaal wat ons seun in die laerskool was het hy 'n bietjie probleme gehad met die Rooi Taal se uitsprake en sinsnedes. Sy klasonderwyser het hom toe op die redaksie van die skoolkoerant geplaas en onder hierdie dekmantel het die man BAIE oefening gekry in uitspraak en die samestelling van sinne en ook op hierdie manier baie ekstra klastyd in engels. Heelwat van sy werk het darem ook die koerant gehaal (ek sal nou nie aanbeveel dat hy joernalistiek as beroep oorweeg nie!) en hy het belangrik gevoel terwyl hy eintlik oortyd aan sy Engels gewerk het. Twee kwartale later kon jy nie die verskil tussen hom en 'n volbloed Kiwi-tjokker sê nie. Afrikaner kinders doen BAIE goed in die skole in NZ en dit behoort niemand af te skrik nie. 

 

Skolesport soos ons dit in SA ken bestaan nie hier nie en die skool bied die minimum sportontwikkeling aan. As kinders aan sport wil deelneem moet hulle by klubs, ens.  aansluit. Met die gebrek aan sportontwikkeling by skole staan ek eintlik verwonderd dat hulle so goed doen in die sportwêreld.

 

Verskillende Skole:

 

Laerskool (Primary School) - Jaar 1 tot 6 van die kind se skoolloopbaan.

"Intermediate School" - Jaar 7 en 8 van 'n kind se skoolloopbaan.

Höerskool (High School) - Jaar 9 tot 13 van 'n kind skoolloopbaan.

In sommige plekke kry jy ook 'n skool van hulle "Middle School" noem en daar kan 'n kind skool gaan van Jare 7, 8, 9 &10.

In jaar 7 van 'n kind se skoolloopbaan begin die standerds ook as "Forms" begend staan en in jaar 7 is hy/sy in "Form 1" en gaan die "Form" nommers elke jaar op totdat die kind aan die einde van sy skoolloopbaan in "Year 13" dan ook in "Form 7" is.

 

Universiteite en Voortgesette onderrig: As jy in NZ nie verder studeer nie is dit beslis net jou eie skuld, want studielenings/ beurse/ subsidies is vryelik beskikbaar, selfs vir volwasse (en ou) studente. Die regering subsidieer voortgesette onderwys met baie groot bedrae en verskeie kursusse by Universiteite/Polytechs (Technicons) is belaglik bekostigbaar. Ek het self verskeie kursusse by die Waikato Institute of Technology gedoen wat my normaalweg 'n paar duisend dollar sou gekos het vir slegs 'n paar honderd dollar. NZ is voorvaar 'n studente paradys met werêldklas opleiding en dis geen wonder dat oorsese studente hierheen stroom nie.

 

New Zealand is seker nog van die min lande in die wêreld waar jy kinders in groot veiligheid kan grootmaak en waar hulle 'n toekoms gaan hê. As daar een enkele rede is wat 'n mens kan uitsonder om na NZ te immigreer is dit vir wat NZ jou kinders bied. Dit is 'n fantastiese land om kinders in groot te maak en oor hierdie faset kan 'n mens ook ure lank uitbrei, maar ek gaan daarmee volstaan.

 

 

NOG 'N PAAR DINGE RONDOM KINDERS WAT JY BEHOORT TE WEET

 

  • Kinders onder 14 jaar oud mag NIE alleen by die huis gelaat word nie.

  • Kinders mag NIE lyfstraf kry nie. So om die goeie ou pak slae te gebruik om 'n kind reg te ruk is onwettig (ek is so bly my kinders is groot - ek sou permanent in die tronk gewees het!).

  • Kinders kan op 15jr 'n leerling bestuurderslisensiekry.

  • Kinders kan op 16jr wettig seks hê, met die toestemming van hulle ouers trou of saam bly, skool verlaat en sonder toestemming van hulle ouers 'n "tattoo" kry.

  • Kinders kan op 17jr 'n volle bestuurderslisensie kry.

  • Kinders kan op 18jr drank en sigarette koop, 'n bankrekenig oop maak en geld leen.

  • Op 19jr eindig 'n kind se reg op gratis skool onderwys.

  • Op 20jr word 'n kind as "mondig" beskou en kan trou sonder ouers se toestemming.

  • Meisies kan op enige ouderdom 'n aborsie laat doen SONDER die ouers se medewete of toestemming.

  • Kinders se verpligte skoolopvoeding begin op 5 jaar ouderdom.

'n Goeie bron is http://www.youthlaw.co.nz

 

 

^^ TERUG NA BO

 

 
 
Kopiereg 2001. Kiwiboer.co.nz. Goedgunstiglik gehuisves deur www.virafrikaans.com