Ek word gereeld gevra na die invoer van vuurwapens, velle, troeteldiere en tuingereedskap en baie mense verkeer verkeerdelik onder die indruk dat hulle die goeters nie mag saambring na NZ nie. Jy mag dit saam bring solank jy net die reëls volg en binne die wet bly. Hieronder volg kortliks wat jy te doene staan om die goed hier te kry.

 

Vuurwapens, Velle, Trofeë, Houtsneewerk, ens.

 

VUURWAPENS: In New Zealand lisensieër hulle die persoon en nie die wapens nie. As jy jou NZ Vuurwapenlisensie het wys jy net jou lisensie en jy kan die wapen koop en jy kan enige aantal aanhou. Daar is egter verskeie vuurwapens wat onwettig is of "restricted" is en wat jy net met spesiale magtiging en onder spesiale omstadighede mag besit. Handwapens soos pistole en rewolwers val in daardie kategorie en ek sal enige immigrant aanbeveel om maar eerder van handwapens te vergeet, want dis 'n nagmerrie om hulle te mag besit.

 

Om 'n NZ vuurwapenlisensie te kry moet jy 16jaar of ouer wees en reeds PR (Permanent Residence) hê. Vir jou vuurwapenlisensie moet by die Polisie 'n toets gaan aflê oor die "Arms Code" en hulle kom ook by jou huis besoek aflê om seker te maak jy kan die vuurwapens veilig bewaar. Jy moet ook die name van referente in NZ opgee wie die polisie SAL besoek om vas te stel of jy 'n geskikte persoon is om 'n vuurwapen te mag hou. Jy kan die "Arms Code" en volledige besonderhede oor aansoeke en lisensies op die volgende webblad hieronder kry:

http://www.police.govt.nz/service/firearms/#resources 

 

Invoer van vuurwapens: Jy mag jou vuurwapens uit SA invoer na NZ (los maar die handwapens). Om dit maklik te maak sit ek maar die stappe vir die invoer van vuurwapens puntsgewys:

  1. Los jou vuurwapens eers in SA totdat jy PR in New Zealand het en aansoek kan doen vir 'n vuurwapenlisensie.

  2. Sodra jy jou NZ Vuurwapenlisensie gekry het doen jy aansoek vir 'n invoerpermit by die NZ Polisie. Jy moet eers 'n invoerpermit in NZ kry voordat jy 'n uitvoerpermit in SA kan kry. Onthou daar is wapens wat jy nie mag invoer na NZ toe nie soos handwapens ,ens. Op die volgende webblad kan jy volledige inligting kry oor die invoerpermitte en watter tipe wapens jy nie mag invoer nie: http://www.police.govt.nz/service/firearms/importing.html .

  3. Met jou NZ invoerpermit in die hand kan jy nou aansoek doen in SA vir 'n uitvoerpermit vir jou vuurwapens en sodra jy dit gekry het kan jy jou wapens inbring. Dit klink na 'n vreeslike proses, maar dit is nie so moeilik nie en baie SAners doen dit.

  4. Jy moet binne 30 dae nadat die vuurwapens NZ binnegekom het die vuurwapens na die NZ polisie neem vir inspeksie sodat hulle kan seker maak dit is die regte tipe wapens.

  5. As jy die vuurwapens saam met jou bring as bagasie MOET jy ONTHOU om met jou lugredery te reël om die nodige permitte te kry vir ELKE land waardeur jy vlieg en doen dit LANK voor die tyd.

  6. Los maar jou ammunisie in SA, want jy kan dit hier ook kry en ammunisie kan vir jou oneidige kopseer besorg in sekere lande waardeur jy miskien mag vlieg. Dis net nie die moeite werd nie. Kom koop maar weer hier vir jou patrone.

VELLE, TROFEË ,HOUTSNEEWERK, ENS

 

Jy kan jou diervelle, dierkoppe, trofeë, afrika-tromme, houtsneewerk, ens. saambring, maar al hierdie goed word deur NZ gesien as 'n "Bio-hazard" en daar is streng reëls oor die invoer van diereprodukte. Ivoor en enige dier of produkte wat op die CITES-lys van bedreigde spesies is mag nie ingebring word nie.

 

Velle en dierlike produkte moet behoorlik berook (fumigate) word en elke artikel moet 'n voorgeskrewe berokingssertifikaat (fumigation Certificate) hê.

 

Jy kan volledige inligting kry oor die invoer van die bogemelde artikels op die NZ Departement van Landbou en Bosbou se webwerf by die volgende skakels:

 
 
 
 

http://www.maf.govt.nz/quarantine/contact/enquiries.htm

 

Wyn

 

Sover my kennis strek mag jy jou wynversameling saam bring solank dit nie in hout of/en strooi verpak is nie.

 

NB: Om doodseker te maak oor enigiets wat jy graag wil inbring skryf direk aan die mense by MAF se Biosecurity afdeling by info.biosecurity@maf.govt.nz en rig jou navraag aan hulle.

 

Troeteldiere

 

Ek ken verskeie mense wie hulle honde en katte na NZ gebring het, maar ek
weet regtig nie of dit die moeite werd is nie en dis 'n omslagtige proses wat DUUR is en 'n lang tyd vat. Ek verstaan dat die totale koste per hond/kat maklik in die duisende Rande kan beloop, tot soveel as R35 000 tot R40 000 per dier is nie ongewoon nie.

 

 

Vir my is daar net nie 'n kat of hond in die hele wêreld wat R35 000 werd is nie, jy kan eerder daai geld op jou gesin se hervestiging spandeer, maar nouja ek is nie die "diertjie" soort van ou nie en party mense sal mos eerder hulle arms by hulle elmboë afknaag as om hulle "dierekinders" in SA agter te laat.

 

Jy kan al die antwoorde op jou vrae oor die invoer van troeteldiere op die
volgende webwerwe kry:

http://www.emigratenz.org/moving-pets-to-new-zealand.html

http://www.maf.govt.nz/quarantine/live-animals/index.htm

http://www.biosecurity.govt.nz/your-pets

 

UITVOERDERS VAN DIERE:

 

Die volgende besighede in SA hanteer die uitvoer van diere na New Zealand en sal jou van al die inligting kan voorsien wat jy nodig het om jou troeteldiere na NZ te bring, skakel hulle gerus.

 

Kookaburra Kennels en Keringa International

 

 

Grassnyers, tuingereedskap en kampeertoerusting

 

Jy kan al jou tuingereedskap, grassnyers en kampeertoerusting saambring en jy hoef dit nie in SA te los nie. Maak doodseker dat alle tuingereedskap skoon gewas is en nie 'n korreltjie sand of modder of sade of plantmateriaal van enige aard op het nie.

 

Kampeertoerusting, stewels en waterstewels (gum boots) moet eweneens silwer skoon wees sonder enige sand, modder, sade, hare, bloed, ens. Daar moet NIKS, NIKS op of in wees nie, selfs nie eens 'n grassaad nie.

 

Dieselfde webblaaie wat handel oor hout en velle handel ook met tuingereedskap en kampeertoerusting. Kyk hierbo by VELLE, TROFEË ,HOUTSNEEWERK, ENS

 

Maak dit net skoon en verklaar dit, dan kan jy dit saam bring.

 

 

^^ TERUG NA BO

Kopiereg 2001. Kiwiboer.co.nz. Goedgunstiglik gehuisves deur www.virafrikaans.com