OP HIERDIE BLAD

 

MOENIE, MOENIE NET HIER KOM AFKLIM NIE!! ASSEBLIEF!!

 

Ek weet nie hoeveel kere ek dit moet beklemtoon nie, maar ek sê weer: MOET ASSEBLIEF NIE NET 'N VLIEGKAARTJIE IN SA KOOP EN HIER KOM AFKLIM NIE!!

 

Dit kan die slegste besluit van jou lewe wees. Doen jou huiswerk BEHOORLIK! Jy kan jou hele toekoms opmors deur dit nie te doen nie. Wag eerder 'n bietjie langer en spandeer 'n paar Rand om jou navorsing behoorlik te doen voordat jy kom.

 

Ek besef terdeë dat die situasie in SA amper ondraaglik raak, maar die oplossing is nie om alles in SA op te gee om net weer uit NZ gedeporteer te word nie! Maak doodseker jy kan hier 'n werk kry en die BELAGRIKSTE van alles, maak doodseker jy sal kwalifiseer om Permanent hier te bly!

 

Ek WEET familie en vriende hier in NZ sê vir jou jy moet maar net kom, jy SAL 'n werk kry en met 'n werk sal jy die reg hê om permanent hier te bly. Laat ek nou vir jou sê dis 'n STRONT STORIE!!

 

Ek hoor daardie storie ELKE WEEK as mense vir my skryf wie hier in NZ aangekom het, nie werk of PR kan kry nie en nou in 'n ernstige penarie sit. Die einste familie en vriende wie hulle met hulle onverantwoordelike beloftes hierheen gelok het staan dan uit die water uit en haal net hulle skouertjies op! Dan is jy net 'n oorlas vir daardie familie en vriende en dink hulle nie aan die stront storietjies waarmee hulle jou hierheen gelok het nie!

 

DIT IS BAIE KERE NIE SO MAKLIK OM 'N WERK IN NZ TE KRY AS WAT ALMAL JOU VERTEL NIE!! BEREI JOUSELF VOOR!

 

 

PAPIER IS KONING!

 

Daar is, volgens my, maar net een manier om regtig suksesvol permanent na NZ (of na enige ander land for that matter...) te immigreer en dit is om die immigrasierëels te KEN voordat jy in SA op 'n vliegtuig klim en om dan daardie immigrasierëels te VOLG - EN as jy dit nie ken nie - VRA of gebruik 'n goeie immigrasieagent wat dit ken!!! Onder die "Skilled migrant category" word daar in 99% van die gevalle vereis dat jy 'n formele kwalifikasie van een of ander aard sal hê wat gelykstaande is aan, of beter is as die kwalifikasie wat jy in NZ moet hê vir daardie bepaalde werk.

 

Mense met ervaring en geen kwalifikasies kan deesdae vir hulle gebrek aan kwalifikasies opmaak deur die regte ervaring te hê soos omskryf in die "Australian and New Zealand Standard Classification of Occupations (ANZSCO)". In sommige gevalle kan ervaring die kwalifikasies wat vereis word vervang. Waar jy staat maak op jou ervaring om kwalifikasies te vervang maak asseblief DOODSEKER dat jy VOLLEDIGE diensrekords het van al die jare waarvoor jy ervaring eis en dat jou diensrekords 'n breedvoerige beskrywing gee van jou pligte en vaardighede.

 

Dit is ook nie 'n uitgemaakte saak dat jou ervaring wel aanvaar gaan word as voldoende om die vereisde kwalifikasies te vervang nie en dit is altyd 'n waagstuk om net op jou ervaring staat te maak.

 

Enigiemand wat bereid is om hard te werk staan 'n goeie kans om in NZ werk te kry en 'n werkspermit vir 'n jaar of twee, MAAR weereens as daai werkspermit sy vervaldatum bereik sal jy MOET aansoek doen vir PR (permanente verblyfreg) en SAL daar van jou verwag word om die vereisde kwalifikasies voor te lê of om te bewys dat jy die regte ervaring het om daardie kwalifikasies te vervang. Hulle gaan NIE net jou woord aanvaar dat jy die regte ervaring het nie, jy sal dit moet BEWYS.  PAPIER is KONING. Kry hom!

 

 

KWALIFIKASIES

 

Om verstaanbare redes dring NZ daarop aan om kwalifikasies te evalueer om die waarde daarvan te bepaal en die meeste Universiteite in SA se kwalifikasies word deur die Immigrasie-departement aanvaar, MAAR nie altyd deur die verskillende bedrywe nie. Oorsese kwalifikasies moet deur die NZQA (New Zealand Qualifications Authority) ge-evalueer word om te bepaal of dit op dieselfde vlak as soortgelyke  kwalifikasies in NZ is. NZQA evaluasie MOET deesdae saam met jou Permanente Verblyf-aansoek ingedien word (Kyk egter eers by die lys van Erkende Kwalifikasies of NZQA evaluasie nodig is vir jou kwalifikasie). Verpleegsters hoef nie hulle kwalifikasies deur NZQA te laat evalueer nie. Die NZ Nursing Council doen die evaluasie. Evaluasie vir geneeshere word weer deur die NZ  Medieseraad gedoen.

 

KLIEK HIER om 'n voorbeeld van 'n NZQA-sertifikaat te sien van kwalifikasies wat deur hulle ge-evalueer is.

Kwalifikasies waarvan ons die waarde in SA aanneem en as vanselfsprekend aanvaar word hier ernstig bevraagteken en soms selfs verwerp. Dit is baie vernederend en kan jou vêr terug sit. Mense wat veral onder hierdie sambok deurloop is vakmanne en ek het kennis van elektrisiëns en loodgieters wat weer al hulle vaktoetse in NZ moes kom skryf het om te kwalifiseer en te registreer.

 Daarby moet jy vir 'n magdom beroepe by beroepsliggame registreer voordat jy kan aansoek doen om permanente verblyf en werk. KLIEK HIER om vas te stel WIE moet registreer en WAAR en kyk ook sommer na die lys van Erkende Kwalifikasies (Recognised Qualifications) wat deur NZ Immigrasie aanvaar word. Besoek die webwerwe om presies die vereistes vas te stel  waaraan jy moet voldoen. Baie van hierdie registrasie prosedures is tydsaam en uitgerek en moet liefs afgehandel word voordat jy dit oorweeg om na NZ te kom.

Baie SAners maak die fout om te dink hulle is so uniek dat NZ sal dink hulle is 'n Godsgawe wat by hulle aan wal gestap het, net om baie wreed ontnugter te word! Moenie die fout maak om te dink daar is nie opgeleide mense in NZ nie. Oor die algemeen werk die Kiwi's hard en het 'n hoë vlak van opvoeding en in sommige gevalle is daar selfs 'n ooraanbod van goed gekwalifiseerde mense. Dit is nie ongewoon om mense met hoë kwalifikasies te sien pos aflewer of in parke werk nie. 'n Werk wat ons in SA miskien as 'n minderwaardige werk sien vereis soms 'n naskoolse kwalifikasie hier.

Tekorte in NZ beteken nie noodwendig dat 'n mens gaan werk kry nie. Daar is tans 'n tekort aan onderwysers, en tog sukkel SA onderwysers soms vir maande om poste te kry. 'n Gebied waar daar chronies tekorte is en waarin hulle verseker nie genoeg mense kan kry nie is sekere groepe in die gesondheidsdienste soos verpleegsters en radioloë. Die afgelope paar maande sien ek ook 'n groot vraag na gekwalifiseerde werktuigkundiges en ander vakmanne.

VERVALSING VAN KWALIFIKASIES:  SAners is vir baie dinge bekend (meestal goeie dinge), maar het ook nou bekend geraak daarvoor dat ons kwalifikasies vervals. Dit het geweldige implikasies vir alle voornemende immigrante. SAners wat na NZ wil immigreer kan verseker wees dat hulle kwalifikasies van nouaf onder 'n vergrootglas gaan deurloop en as jy nou alle hoop op immigrasie oorboord wil gooi moet jy sulke dinge doen. 'n Paar vrot appels het nou weer alles vir die ander bederf!!

Lees die berig oor vervalsing van kwalifikasies in die blad "Koerantberigte"

 

 

WERK IN NEW ZEALAND

 

HEEL EERSTE : STEL VIR JOU 'N BEHOORLIKE CV OP!!

 

Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie. As jy enigsins verwag om deur enige werkgewer ernstig opgeneem te word MOET jy vir jou 'n behoorlike CV (Curriculum Vitae) opstel of laat opstel. Dit klink vanselfsprekend, maar ek sien gereeld CV's wat jou sal laat huil. KLIEK HIER vir riglyne vir die opstel van 'n goeie "Kiwi" CV en om 'n voorbeeld te sien van 'n goeie en eenvoudige CV wat in NZ sal werk.

 

KLIEK HIER om die amptelike lys van beroepe te sien waarin daar tans tekorte ondervind word 

 

Die Kiwi's is in die algemeen professioneel en lewer diens van hoogstaande gehalte. Hulle werksomgewing is baie minder formeel as waaraan ons gewoond is, maar hulle vereis hulle pond vleis in die werksplek en jy moet jou kant bring. Politieke en rassekwessies vorm nie deel van die werksomgewing nie (tensy jy vir die Eerste Minister werk) en is 'n welkome verandering vir baie SAners.

Jy gaan jou nie sommer ryk werk hier nie, maar jy sal genoeg verdien om 'n goeie lewenstandaard te handhaaf. 'n Groot probleem in NZ is die klein verskil in die uurlikse loon tussen half-geskoolde arbeid en goed gekwalifiseerde mense. In Auckland kan 'n gewone arbeider gemiddeld tussen NZ $12 en NZ $15 per uur verdien terwyl 'n gegradueerde verpleegster met nagraadse kwalifikasies en 15-20 jaar ervaring maar NZ $22 - NZ $27 per uur verdien. NZ is bekend vir sy "Low wage economy" en jy kan in Australië gemiddeld ongeveer 25% - 30% meer verdien.

Verder is die woord "bonus" vir hulle maar net iets wat in 'n woordeboek staan en maak hulle nie veel daarvan uit nie. Die woord "salarisverhoging" het omtrent die status van 'n vloekwoord en word nie sommer in goeie geselskap gebruik nie, veral nie in jou baas se teenwoordigheid nie!

Gemiddelde salarisverhogings  (met baie moeite) beloop so in die omgewing van 1% tot 3% per jaar. In alle regverdigheid moet ek darem byvoeg dat inflasie baie laag is (tussen 1 en 3% per jaar) en dat groot salarisverhogings nie nodig is nie.

Bevorderingsgeleenthede is skaars en daar moet gewoonlik iemand bedank, aftree of dood gaan voordat 'n bevorderingsgeleentheid ontstaan (amper soos in die ou SA Staatsdiens!).

80% van die bevolking verdien minder as NZ $99 000 pj. (sien Koerantberig) en die gemiddelde inkomste van 'n Kiwi-gesin is in die omgewing van NZ$56 000 netto (na belasting, ens.) per jaar wat neerkom op 'n voorbelaste inkomste van so $68 000 per jaar.

Met die nuutste veranderings in die immigrasiebeleid MOET jy 'n werksaanbod vir 'n permanente werk hê voordat jy kan aansoek doen om 'n werksvisa of permanente verblyf.

 

KLIEK HIER OM UIT TE VIND HOE OM WERK TE VIND IN NZ AS JY NIE PERMANENT HIER BLY NIE.

 

Die artikel is 'n uittreksel uit die webwerf van die Immigrasiekonsultante Protea Pacific Ltd. en dis die beste uiteensetting wat ek nog op enige webwerf gevind het.

 

NB: Jy MOET hierdie artikel lees!

 

KLIEK HIER

 

(How do I get a job in New Zealand if I’m not a resident?)

 

 

Immigrante se verwagtinge soms onrealisties:

 

SAners verwag oor die algemeen om op dieselfde vlak van hulle beroep (as waarop hulle in SA was) te begin as hulle hier aanland en word feitlik deur die bank terleurgestel. Gewoonlik moet hulle spook om net eers ‘n werk te kry (wat ‘n nagmerrie op sy eie is), laat staan nog op dieselfde vlak as in SA. Werkgewers in NZ wil nie weet hoe ougat en slim jy in SA was nie, maar kyk hoe jy jouself hier bewys in die werkopset. Min praat en hard werk is beslis die sleutel, veral in die begin.

 

Die ekonomie is klein en bestaan grotendeels uit ‘n klomp klein maatskappye, so daar is geen plek vir “free rides” of wegkruipplek vir kansvatters nie - soos wat dit in die verlede in SA moontlik was in die groot korporasies. Aan die ander kant weet die Kiwi’s ook dat die SAners hardwerkend en intelligent is en dit gee jou soms ‘n voorsprong, maar daar sal definitief van jou verwag word om jou kant te bring en jouself te bewys. In NZ moet jy beslis jou vuiste sit waar jou bek is, want hulle kyk net na die resultaat en grootpraat het maar weinig om die lyf vir hulle.(Met dank aan Fritz Swart).

 

Kiwi's het min respek vir titels en range en ek sien heelwat CV's in 'n maand wat baie titels bevat en min onderhoude kry! Nie eens die Eerste Minister kry baie respek op grond van sy/haar titel nie en vir die Kiwi's gaan dit alles oor net een ding - KAN JY DIE WERK DOEN??! Finish en klaar!

 

As jy ernstig is om permanent in NZ te bly sal jy net MOET bereid wees om 'n "Indian" te wees, want hier is klaar OORGENOEG "chiefs" en NZ soek beslis "Indians" en nie "chiefs" nie. As jy graag 'n "CHIEF" wil wees moet jy miskien 'n ander land oorweeg.

 

 

 

 HOE BEGIN 'N MENS DIE IMMIGRASIEPROSES?

 

As gevolg van die hoeveelheid navrae wat ek ontvang het, het ek 'n blad geskryf - Immigrasie: Hoe om die proses te begin. Kliek op die skakel om soontoe te gaan. (Die blad is alles behalwe 'n handleiding ,maar dit gee jou 'n goeie idee waar om te begin en spaar jou 'n paar e-mails.)

 

 

 

 

SPESIALE WOORD AAN VERPLEEGSTERS

 

Verpleegsters  is van die min mense wat hier kan afklim en binne 'n paar dae 'n werk kan hê, MITS jy natuurlik voor die tyd by die NZ Verpleegraad ( http://www.nursingcouncil.org.nz/ ) geregistreer het en jou " practising certificate" het.

 

NB: Wees asseblief daarop voorbereid dat die NZ Verpleegstersraad jou mag vra om bewys te lewer van jou vermoë van jou vaardigheid in Engels deur die Akademiese IELTS toets of die Australiese Occupational English Test (OET) aflê voordat hulle kan aansoek doen om registrasie. Vir meer besonderhede gaan kyk asseblief op die NZ Verpleegstersraad se webwerf - http://www.nursingcouncil. org.nz/

 

 

PERSONEELAGENTE / KONSULTANTE & DIE "Hidden Job Market".

 

Sekerlik een van die beste maniere om werk te kry en jouself BAIE moeite te spaar is om van 'n BETROUBARE personeelagent of konsultant gebruik te maak. In sekere bedrywe is dit nou al moeilik om sonder 'n personeelagent 'n werk te kry.

 

Personeelagente verskaf 'n verskeidenheid van dienste. Sommige vind net vir jou 'n werk terwyl ander vir jou die volledige spektrum van immigrasiedienste bied soos Werksvisa-aansoeke, PR-aansoeke, Versekering, ens.

 

Dit hang maar af watter dienste jy verlang van watter een jy gebruik sal maak. Persoonlik sal ek aanbeveel jy gebruik 'n Personeelagent vir jou werk en 'n aparte Immigrasiekonsultant vir jou PR-aansoek, as jy dit nie self gaan doen nie. Dis suiwer maar net 'n persoonlike keuse wat ek op my ervaring grond.

 

Daar is basies twee soorte personeelagente / personeelkonsultante (soos sommige "agente" hulle self graag noem).

 

1.  WERKSOEKAGENT / MAATSKAPPY (Job search company)

  • Hierdie tipe agente / maatskappye werk vir jou en nie vir die werkgewer nie en jy kry 'n persoonlike diens.

  • Jy betaal hulle vir hulle dienste en hulle soek vir jou spesifiek 'n werk en op die plekke waar jy graag sal wil vestig.

  • Jy is verseker daarvan dat die agent / maatskappy AKTIEF vir 'n vasgestelde tyd (gewoonlik tussen 60 en 120 dae) vir jou gaan werk soek en dat jou CV nie net iewers op 'n databasis of 'n rak lê en stof vergaar nie.

  • Indien die maatskappy nie vir jou 'n werk kan vind nie sal hulle gewoonlik 100% van jou fooie terug betaal. Dit beteken dat hulle ernstig is om werk vir jou te vind, anders sal hulle nie 'n inkomste hê nie!

  • Meeste werksoekagente / maatskappye neem net 'n beperkte getal werksoekers per konsultant/agent (gewoonlik 10 kiënte per agent) in om te verseker dat hulle 'n goeie diens aan jou kan lewer.

  • Jy kry gewoonlik goeie terugvoer van hierdie agente en bly op hoogte met hoe die proses vorder.

2. WERWINGSAGENTE / MAATSKAPPYE (Personnel recruiters & Employment agencies)

  • Hierdie agente / maatskappye werk uitsluitlik vir die werkgewer om vakatures te vul wat hulle beskikbaar het en gevolglik is daar geen fooie wat die werksoeker hoef te betaal nie. Die werkgewer betaal hulle 'n komissie om geskikte persone te vind vir die pos.

  • Daar is geen verpligting op die agent / maatskappy om wel vir jou 'n werk te vind nie en ,tensy hulle 'n werkgewer het wat belang stel in jou vaardighede, kan jou CV op hulle databasis sit tot oom Kallie met die koeie huistoe kom, m.a.w 'n onbepaalde tyd.

  • Daar kan druk op jou uitgeoefen word om op 'n plek en onder omstandighede (en vir 'n salaris) te werk wat jou dalk nie pas nie of waarin jy nie gemaklik voel nie, omdat die agent/maatskappy sy kwota wil vul en sy komissie wil eis. Met ander woorde hulle gaan vir jou 'n job kry as hulle geld daaruit kan maak en nie omdat hulle beïndruk is met jou kwalifikasies of werkservaring nie (Which is fair, hulle is mos darem nie die "Welfare" nie en lewer 'n diens!).

  • Hier gaan dit oor die werkgewer se behoeftes en nie joune nie en hierdie maatskappy spits hulle gewoonlik net toe op poste wat in die "Long term Skills Shortage List" voorkom.

3. VRAE OOR DIE  "Hidden Job Market"

 

Nou wat is die "hidden job market"?

 

Die "Hidden Job Market" is werk/poste wat beskibaar is maar nie geadverteer word nie en om verskeie redes aan agente (Recruitment Agencies of Job Search Agencies) beskikbaar gestel word om te vul en daar kan te enige tyd honderde poste beskikbaar wees waarvan jy nie weet nie, tensy jy 'n agent gebruik. Te enige tyd word omtrent net 20% van alle poste in die "open job market" geadverteer.

 

Een van die hoof redes hoekom poste wat beskibaar is vir immigrante aan agente oorhandig word om te vul of om mense te werf is omdat die indiensneming van immigrante sy eiesoortige probleme het. Al die "red tape" met NZ immigrasie en ander staatsdepartemente is maar net 'n enkele voorbeeld daarvan. Dit neem baie tyd in beslag en verg meeste van die tyd ook 'n goeie kennis van die immigrasiewette en prosedures asook 'n goeie kennis van die arbeidsmark in beide lande.

 

Die meeste werkgewers in NZ is bereid om immigrante uit SA in diens te neem, maar wil NIE betrokke raak by die immigrasieproses en alles wat daarmee saamgaan nie soos NZQA-evaluasies, Visa/PR-aansoeke, IRD-registrasie, nagaan van referente, Polisiesertifikate, Gesondheidsondersoeke, ens, ens. Hierdie proses word deur agente hanteer en afgehandel en die werkgewer sal eerder die agent 'n komissie betaal vir sy werk as om met die Immigrasiedepartement deurmekaar te raak.

 

PS: MOENIE JOU CV NA TE VEEL AGENTSKAPPE STUUR NIE!

 

Baie immigrante gebruik die "shotgun approach" wanneer hulle vir werk in NZ soek en versprei tientalle CV's van hulle na elke moontlike agentskap waaraan hulle kan dink of die adres van kan bekom. Die gevaar hieraan verbonde is dat NZ 'n klein arbeidsmark het waarin heelwat agente en agentskappe  werksaam is en dieselfde poste word aan baie verskillende agente / agentskappe gegee om te vul. As jy jou CV na al die agente toe stuur is die kanse uitstekend dat 'n hele paar van hulle jou aan dieselfde werkgewer gaan bemark! Wat dan kan gebeur is dat jy tien werksonderhoude van tien verskillende agente kan kry vir DIESELFDE pos. Jy daag dan 10 keer by dieselfde werkgewer op vir DIESELFDE pos, tot groot verleentheid vir jouself en die agentskap.

 

Doen navorsing en vra 'n bietjie rond en kry vir jou 'n personeelagentskap met 'n goeie naam en reputasie en dien jou CV by hulle in. As jy wil kan jy jou CV by 3 of 4 verskillende agentskappe indien, maar ek sal nie aanbeveel jy gebruik meer as 3 of 4 verskillende agente nie.

 

WANOPVATTING OOR KOMISSIE VIR AGENTE

 

Sommige SAners met goeie kwalifikasies verkeer soms onder die wanindruk dat NZ werkgewers enigiets sal betaal om hulle te kry en dat werwingsagente reuse bedrae aan kommissie verdien as hulle hierdie mense kan werf. Dit is baie vêr van die waarheid en as jy so dink mag dalk jy in wees vir 'n moerse "surprise" en lank sukkel om werk te kry. Hoeveel komissie 'n werkgewer aan 'n werwingsagent sal betaal hang totaal en al af van hoe nodig hulle jou het en NIE van hoeveel kwalifikasies jy het en hoe belangrik jy dink jy is nie. Dieselwerktuigkundiges, verpleegsters en Ingenieurs staan op die oomblik voor in die ry!   

 

 

 KONTRAKTE MET PERSONEELAGENTE / KONSULTANTE

Waarna moet jy oplet in 'n kontrak en wat moet jy vra?

1. Elke personeelagent sal jou een of ander ooreenkoms / kontrak laat teken met voorwaardes en beperkings en dit is JOU plig om die dokument / kontrak DEEGLIK deur te lees VOORDAT jy dit teken. As jy eers klaar geteken het is dit te LAAT om oor die bepalings van die kontrak te huil. Sorg dat jy 'n AFSKRIF van die kontrak kry wat jy geteken het, al is dit net 'n fotostaat.

2. VRA pertinent VOORDAT jy teken wie verantwoordelik is vir die betaling van die agent / konsultant se fooie. Dit is BAIE belangrik. As jy verantwoordelik is vir die agent se fooie maak SEKER van die fooie en WANNEER jy dit moet betaal. By sommige agente moet jy betaal VOORDAT hulle jou bemark aan hulle kliënte en by ander betaal jy net as jy vir 'n onderhoud genooi word.

WEEREENS maak seker van die fooie VOORDAT jy teken.

3. Nog belangriker as die fooie is dat jy sal vra of daar 'n "straf" klousule is of self seker maak op die kontrak of daar 'n "straf" klousule is wat jou verantwoordelik maak vir die agent / konsultant se fooie sou jy "onttrek" uit 'n werk wat jy aanvaar het of nie opdaag vir die werk wat jy aanvaar het nie.

4. MAAK seker wat ingesluit is by die diens van die personeelagent. Vra of die agent jou gaan help met die verkryging van 'n werkspermit en of die agent net 'n werksaanbod (Job offer) gaan verskaf en dan moet jy self aansoek doen vir die werkspermit. Die meeste van die tyd verskaf hulle net die "job offer" en jy moet self die werksvisa kry.

As jy nie tevrede is met die bepalings in die kontrak met die personeelagent nie, MOENIE die kontrak teken NIE! Daar is baie ander agente wie jy kan gebruik, so moenie eers teken en agterna daaroor "bitch" nie, jy het 'n keuse.

Omtrent alle kontrakte met personeelagente het een of ander "ontrekkingsklousule" wat jou gaan penaliseer as jy nie opdaag vir 'n werk wat jy aanvaar het nie. Die redes is eenvoudig. Die agent gaan sy/haar komissie verloor as jy nie opdaag vir die werk nie en teen daardie tyd het die agent waarskynlik al heelwat bestee om jou te bemark of vir jou werk te soek en IEMAND moet daarvoor betaal - die agent is nie 'n liefdadigheidsorganisasie nie en moet sy/haar koste iewers vandaan verhaal. As jy opdaag by die werk betaal die werkgewer waarskynlik die agent 'n kommissie wat sy/haar koste dek, maar as jy nie opdaag nie gaan jy betaal! ONTHOU dit.

LEES JOU KONTRAK!!

ONGELUKKIG is dit 'n feit dat daar heelwat SAners hier opdaag wat werk soek, werk kry en dan net VERDWYN omdat hulle koue voete gekry het of hulle omstandighede verander het en hulle nie meer kan immigreer nie. Niemand wen in so 'n situasie nie. Die werksoeker kry 'n sleg naam en sleep alle toekomstige werksoekers daarby in. Die personeelagent word in 'n groot verleentheid gestel en verloor sy/haar kommissie en die werkgewer moet weer die hele proses van vooraf begin om iemand te kry om die pos te vul. Dit mors tyd en kos HOPE geld!

As jy nie ernstig is om hierheen te immigreer of hier te kom werk nie MOENIE eens kom werk soek nie - gee iemand anders 'n kans wat werklik ernstig is en BAIE graag wil immigreer.

BAIE BAIE BELANGRIK: VOORDAT jy kom werk soek in New Zealand maak seker dat jy reeds 'n gebeurlikheidsplan in plek het in geval jy wel 'n werk sou kry en hier moet begin werk. Die meeste werkgewers wie immigrante werf weet dat die immigrant waarskynlik nie dadelik sal kan begin werk nie en is bereid om 3 tot 4 weke te wag sodat die persoon sy sake in orde kan kry. Die maksimum is gewoonlik so 6 weke ,maar langer as dit is 'n bietjie onredelik om te verwag. Moet nie van die werkgewer verwag om 3 maande vir jou te wag nie - om een of ander rede dink SAners gereeld 3 maande is in orde! Ek weet nie hoekom nie. Miskien omdat hulle nie hulle huiswerk behoorlik gedoen het nie.

MOENIE kom werk soek as jy nie eens weet wat jy gaan doen as jy die werk kry nie. Dis amper soos 'n hond wat 'n kar jaag, maar nie weet wat hy daarmee gaan maak as hy dit gevang het nie!! Jy gaan net jou naam (en ander SA immigrante) se naam GAT maak. Kom voorbereid en jy gaan 'n fantastiese lewe hê!!

 

 

 IS DAAR 'N "SLEGTE" TYD OM WERK TE PROBEER SOEK IN NZ?

 

BESLIS, JA!

 

Begin November (amper Middel Oktober sal ek sê) tot amper einde Januarie is 'n BAIE slegte tyd om in NZ aan te kom en 'n nuwe werk te begin of om te begin werk soek. Die land gaan amper in hibernasie en dinge gebeur baie stadig (veral by NZ immigrasie en ander Staatsdepartemente) ,vlugte is vol, akkommodasie is duur en moeilik om te kry. Ek wil so vêr gaan om te sê as jy nie voor die 1ste Oktober kan kom nie, moet jy die eers oorweeg om in die laaste week van Januarie te kom.

 

Nog een groot rede hoekom ek Desember glad nie sal aanbeveel nie is dat die meeste besighede vir minstens 'n week tot selfs 2 weke toe maak oor Krismis en Nuwejaar en dat personeel basies verplig word om verlof te vat oor daardie tydperk (soos die hospitaalgroep waarvoor my vrou werk) en as jy 'n nuwe werknemer is wat nog nie genoeg verlof opgebou het om jou verlof te dek oor daardie tydperk nie gaan jy nie 'n inkomste hê vir daardie typerk nie en gaan dit neerkom op onbetaalde verlof.

 

 

 "TYRE-KICKERS" , "REVOLVING DOOR EMPLOYEES" en probleme vir ernstige werksoekers

 

Die "TYRE-KICKER" is iemand wat aansoek vir 'n pos gedoen het ,die pos gekry het en daarna met een of ander lam verskoning nie opdaag om die pos te vul nie. Dit gebeur so gereeld dat dit oneindige probleme veroorsaak vir ander ernstige werksoekers, personeelkonsultante en werwingsagente.

 

As gevolg van "tyre-kickers" wil die oorgrote meerderheid van werkgewers nie meer onderhoude toestaan aan applikante wie nie reeds in NZ is nie of glad nie immigrante in diens wil neem nie. As gevolg van "tyre-kickers" gaan baie geleenthede vir immigrante verlore wie ernstig is om 'n werk in New Zealand te kry. "Tyre-kickers" veroorsaak ook dat personeelkonsultante / werwingsagente en werkgewers groot bedrae geld verloor as gevolg van verlore tyd, verlore komissie, heradvertering van poste, hou van nuwe onderhoude, ens, ens.

 

'n Pos is beskikbaar vir 'n applikant vir die eenvoudige rede dat daar NOU 'n behoefte bestaan daarvoor en dat die pos so gou as moontlik gevul moet word. Gevolglik moet die applikant besef dat indien hy die werk sou kry daar van hom/haar verwag gaan word om so gou as moontlik te begin werk. Werkgewers is nie ongevoelig vir die behoeftes van immigrante nie, hulle weet immigrante het gewoonlik nog 'n paar sakies om af te handel en is gewoonlik bereid om tot 3 weke, miskien 'n maand, te wag vir die immigrant om te begin werk. Daarom is dit UITERS belangrik dat jy reeds 'n plan van aksie in plek sal hê van wat jy gaan doen as jy 'n werk hier bekom het.

 

Moenie eers 'n werk kom kry en DAN eers dink wat jy gaan doen nie! Jou gat gaan vasdraai.

 

Ons hoor daagliks voornemende immigrante sê dat hulle nie hulle werk en lewe in SA kan opgee voordat hulle nie doodseker is dat hulle dit in NZ gaan maak nie en daarom eers 'n werk wil kry voordat hulle in SA bedank, die huis verkoop, ens. Dit is 'n geldige argument en omdat ons dieselfde paadjie geloop het verstaan ons dit, maar met goeie vooraf beplanning kan jy die vir jouself maklik maak en jou immigrasie baie glad laat verloop.

 

ONTHOU net met immigrasie gaan jy NOOIT, maar net NOOIT, 'n 100% waarborg kry dat alles gaan uitwerk nie en as jy daarvoor wag kan jy maar netsowel noual jou immigrasieplanne opgee. Iewers sal jy 'n "leap of faith" moet vat en met goeie beplanning behoort daardie "leap" nie te groot te wees om veilig oor te kom nie. BEPLAN net en doen jou HUISWERK deeglik!

 

As jy enigsins twyfel of New Zealand die immigrasiebestemming vir jou is, belê (ek glo dis 'n belegging) in 'n LSD-toer en KOM KYK eers en praat met immigrante wie lank reeds hier gevestig is. Of jy nou op een van ons LSD-toere kom of jou eie een aanpak kom kyk eers en verwyder alle twyfel voordat jy die groot sprong vat. As jy dan besluit om nie te kom nie, was dit nou ook nie 'n verlies nie, dan het jy ten minste 'n lekker vakansie gehad in 'n baie mooi land!

 

Die "Kangaroo", "Hopper" (soms die "Jack in a Box"" genoem) of "Butterfly" is iemand wat van die een werkgewer na die ander spring agter salaris aan of 'n bietjie beter werksomstandighede. Hierdie beskrywings het ek al baie gehoor as daar na CV's gekyk word en hoewel "job-hopping" deesdae as 'n baie goeie moderne manier gesien word om vinnig opgang te maak in die arbeidsmark is dit iets wat jou in NZ se klein arbeidsmark vinniger kan inhaal as wat jy dink.

 

'n Mens kan miskien in 'n groot arbeidsmark soos in die VSA en selfs Ozzie daarmee wegkom, maar in NZ kan dit jou sleg inhaal en jou in die gat byt. Ons vind dat werkgewers al minder kans sien om  immigrante wie werk soek te aanvaar ,omdat dit vry algemeen gesê word dat SAners "revolving door employees" is en hulle wag net dat hulle 'n voet in die deur kry met 'n werksaanbod en werksvisa het en dan kry hulle vir hulle ander werk. Hulle sê openlik ons gebruik hulle net om in te kom en is nie ernstige werksoekers nie.

 

'n Werkgewer wie al die moeite gedoen het om deur die "red tape" en probleme te gaan waardeur die NZ Immigrasiedepartement hulle sit om vir 'n immigrant 'n werk te gee en daarna deur die immigrant soos 'n warm patat gelos word laat 'n baie nare smaak in die Kiwi werkgewer se mond en laat hom volgende keer twee keer dink voordat hy 'n immigrant 'n werk aanbied. So maak ons die deure toe vir ander immigrante wie na ons kom.

 

Niemand sê enigiemand moet vir 'n vark van 'n baas werk wie jou soos 'n hond behandel nie en as dit met jou gebeur en jy onmenslik behandel word, moet jy BESLIS vir jou 'n ander werk soek en sal niemand jou blameer nie, maar dink voor jy sommer net "hop" oorlat dit vir jou lekker lyk!!

    

 

HOEVEEL MOET JY VERDIEN OM TE KAN OORLEEF IN NEW ZEALAND?

1. Op die platteland gaan jy 'n gesin van 4 mense NET NET kan onderhou as jy $24 per uur verdien (ongeveer NZ $50 000 per jaar). Dit is nou as jy ABSOLUUT GEEN skuld het nie en KONTANT kan lewe. Jy gaan dan ook NET die basiese dinge kan bekostig. $24 per uur gaan jou $730 per week in jou hand gee (na belasting). Trek daarvan af (per week) $350 tot $400 vir huishuur, $80 vir telefoon en elektrisiteit, $100 vir transport/petrol, $200 vir kos klere en toiletware (as jy BAIE gelukkig is). Net hierdie basiese dinge werk uit op $730 tot $780 per week en laat jou met NIKS oor nie. Dan het niks onvoorsiens gebeur soos siekte of skooluitstappies of sport nie! Met $16 per uur kry jy $512 in jou hand - doen maar self die somme! 'n Mens kan altyd sê jy sal jou inkomste aanvul deur ekstra werk en jou vrou te laat werk, maar dis nie so maklik nie en dit gaan dalk MAANDE vat voordat jou vrou (wettig) mag werk.

2. 'n Outjie wat so min of meer kan lees en skryf en die "STOP/GO" teken by die padwerke ronddraai kry $13 per uur.

Minimum loon:http://www.ers.dol.govt.nz/pay/minimum.html

3. Hoeveel belasting trek hulle af van jou Salaris? Jy kan die nuutste belastingkoers en formules om jou belasting uit te werk HIER kry.

Kortliks werk die persoonlike belasting so:

 

Vir die bedrag $0.00 tot $38 000 trek jy 20.9% belasting af (Sluit die ACC-heffing in).

Vir die bedrag tussen  $38 001 en $60 000 trek jy 34.4% belasting af (Sluit ACC-heffing in).

Vir die bedrag wat jy oor $60 001 verdien trek jy 40.4% belasting af (Sluit ACC-heffing in).

 

VOORBEELD:

 

As Mnr. B. Sakkie 'n inkomste van $70 000 per jaar het word sy persoonlike inkomstebelasting as volg bereken:

 

INKOMSTEBEDRAG KOERS BEDRAG AAN BELASTING
Vir jou inkomste van $0 tot $38 000

20.9%

$7942.00c
Vir die bedrag wat jou inkomste tussen $38 001 en $60 000 is 34.4% $7568.00c

Vir die bedrag wat jou inkomste meer as

$60 001 is

40.4% $4040.00c
TOTALE BEDRAG BELASTING OP $70 000 inkomste $19 550.00c
     

 

VAT-BELASTING (Value added Tax - voorheen GST)

 

Die koers vir VAT in NZ is op die oomblik 12.5%

 

LEWENSKOSTE-PRYSLYS: Op ons website SOUTH AFRICAN KIWI verkoop ons 'n lewenskoste-pryslys ($12.00) wat die pryse van meer as 300 verbruiksartikels het en wat dit vir jou makliker sal maak om 'n maandelikse begroting uit te werk.

 

LEES ASSEBLIEF OOK DIE ARTIKELS BY KOERANTBERIGTE

 

 

NB: WERKSPERMITHOUERS WAT VAN WERK VERANDER

 

BAIE BAIE BELANGRIK: As jy in New Zealand is op 'n werkspermit en jy verander van werkgewer MOET jy die immigrasiedepartement DADELIK in kennis stel van jou verandering van werk. Hulle sal dan jou werkspermit se voorwaardes so verander. As jy van werk verander en jy stel Immigrasie NIE in kennis nie is jy ONWETTIG in die land en kan jy gedeporteer word!!! As jy gedeporteer word is jou kanse NUL om permanent hier te bly!

 

Jou werkspermit magtig jou net om vir 'n SPESIFIEKE besigheid/persoon op 'n SPESIFIEKE plek te werk en is nie 'n ALGEMENE magtiging om in New Zealand te werk nie.

 

Lees asseblief die volgende koerantberig om die volle omvang van die situasie te sien.

 

 

WERKLOOSHEID IN NZ

 

Die amptelike werkloosheid syfer staan hier tussen 4% en 6% per jaar.

 

Die realiteit is dat daar dosyne hoogs gekwalifiseerde mense is wat werkloos is. Dit is net op melkplase waar jy nog met twee gesonde arms en bene en ervaring ‘n werk kan kry. Baie SAners werk baie hard op melkplase en maak ‘n reuse sukses daarvan, maar hulle sal jou ook kan vertel dat 12 tot 16 uur (en selfs langer) werksdae die reël eerder as die uitsondering is en dat uitbuiting van werknemers ook voorkom.

 

New Zealand het ook sy "Brain Drain" as gevolg van lae salarisse en hoë studenteskuld en verloor jaarliks amper net soveel mense aan die buiteland as wat hierheen immigreer en soms selfs meer. Besoek gerus die NZ Herald om die nuutste artikels oor immigrante en werkloosheid te lees (heelwat nuwe artikels het onlangs verskyn).

 

PLAASWERKERS!! - PASOP!!

 

Plaaswerk is geredelik beskikbaar in NZ, maar daar is ook 'n paar slaggate waarvoor jy moet oplet. Ongelukkig het sekere persone agtergekom dat SAners redelike goeie werkers is en desperaat is om uit SA weg te kom en werf nou werkers in SA (en selfs in NZ onder werklose immigrante) onder  allerhande vals voorwendsels en beloftes. Daar is 'n paar nare agente wie SAners werf vir werk op plase in NZ en nie omgee vir hulle werk-en woonomstadighede nie en selfs 'n persentasie "kommissie" van hulle salarisse aftrek voordat hulle dit uitbetaal. Wees versigtig vir die mense.

 

Kry asseblief jou feite oor plaaswerk in NZ reg voordat jy jou vasteken by enige agentskap of maatskappy wie plaaswerkers vir NZ werf. Wees ASSEBLIEF baie, baie versigtig voordat jy enige kontrakte teken vir plaaswerk in NZ en VIND UIT wat aangaan voor jy teken.

 

 

As jy nie bang is vir harde werk en lang ure nie en darem al so twee jaar of meer op 'n plaas met diere gewerk het kan jy vir Annalize du Plessis kontak vanaf haar webwerf by www.farmrite.co.nz. Sy weet wat op 'n NZ melkplaas aangaan en sal jou van die regte feite voorsien. Hulle is self melkboere en staan nog elke dag agter die koeie! Hulle het al dosyne SAners suksesvol op melkplase in NZ gevestig en ek kan hulle met vrymoedigheid aanbeveel.

 

 

PROBLEME IN DIE WERKSPLEK

 

Dit is seker maar orals in die wêreld 'n probleem dat mense nie meer verantwoordelikheid vir hulle gedrag/aksies neem nie en dit op iets of iemand anders blameer. New Zealand is beslis nie die uitsondering nie en Kiwi's is absoluut verslaaf daaraan om "victims" te wees van enigiets en enigiemand, dit kry hulle gewoonlik op die TV vir hulle "15 minutes of fame".

 

Kiwi's sal 'n duisend keer eerder iemand anders blameer as hulle self en as hulle gatte nou behoorlikl vasgedraai is sal hulle soveel mense as moontlik saam met hulle in die moeilikheid wil kry, want hulle staan nie alleen nie.

 

Ek weet sommige SA-Kiwi's sal na die bogemelde stelling weer hulle skirte moet uitwas en hulle speelgoed moet optel oor my growwe veralgemening, maar dis ongelooflik hoeveel terugvoer ek van immigrante kry oor probleme in die werkplek waar hulle so naiëf was om te dink die Kiwi's sal pa staan vir hulle besluite of gedrag.

 

'n Vriend van my (kom ons noem hom maar Koos, by gebrek aan 'n beter naam), wie by die plaaslike Distriksraad verantwoordelik is vir die wetstoepassing, sê hy het uitgevind dat daar so 'n ding is soos 'n "Kiwi salute". Die "Kiwi salute" is amper soos die Rooms Katolieke die "Hail Mary" doen waar hulle die teken van die kruis oor die bors doen. Koos sê as jy 'n Kiwi van 'n oortreding beskuldig sal hy sonder huiwering, met groot verontwaardiging, vra: "Who? ME?" terwyl hy na homself wys en dit sal onmiddelik gevolg word deur 'n vinger wat na regs gewys word met die vraag: "what about him?" en 'n vinger wat na links wys met die vraag: "and him?" gevolg deur 'n ophaal van die skouers. KLIEK HIER as jy 'n demonstrasie van die "Kiwi Salute" wil sien. 

 

Dit was sommer maar in ligter luim, maar 'n groot probleem wat Koos gehad het was dat oortreders van die regulasies en ook sy kollegas en meerderes soms sonder om te huiwer blatant gelieg het en hom tot leunaar gemaak het en hom groot hoofbrekings besorg het. Koos het toe vir hom 'n MP3-speler met ingeboude mikrofoontjie gekry en neem nou alle gesprekke met die publiek, sy kollegas en meerderes op en dit is soms al wat tussen hom en ontslag staan. Ek sê nie almal moet dit doen nie, maar as jou lewe of bestaan daarvan afhang, DOEN DIT!!

 

Toe ek 'n prokureursvriend daarvan vertel het het hy amper 'n aap met 'n goue gat gekraam en soveel besware daarteen aangeteken dat jy 'n tesis daaromtrent kon skryf, maar as dit die enigste manier is waarop jy jouself kan verdedig "go for it". Onthou "all is fair in love and war"!

 

SAners is baie trotse mense en ons laat nie sommer op ons vloek nie en as 'n man aan jou stamp kan hy seker wees hy gaan 'n plat hand of vuis op sy ete en drinke kry, MAAR dit werk ongelukkig nie hier nie en jou vinnige humeur kan jou 'n kriminele rekord en deportasie besorg. As jy hier by 'n bakleiery in die werksplek betrokke raak (al verdedig jy net jouself) kan jy VERSEKER daarvan wees dat jy summier ontslaan gaan word. Wees ASSEBLIEF baie, baie versigtig om jou ten alle koste van geweld te weerhou. Ek sê NATUURLIK nie jou moet jou laat vermoor nie, maar as jy kan weg stap van 'n geveg ,al is dit hoe vernederend, doen dit. Dit is net nie die moeite werd om jou tot geweld te wend nie. Wees maar die minste ter wille van jou (en jou gesin) se toekoms.

 

Daar bestaan in alle werksplekke 'n grieweprosedure en dissiplinêrerëels, gebruik dit om jou besware te lig of om jou "wraak" te neem. As jy natuurlik nou heel toevallig ook 'n ou opnametjie het van die gesprek / opdrag of teistering waaroor jy kla kan dit darem baie handig te staan kom om jou saak so 'n bietjie te help!!

 

KINDERS WAT WERK

 

Van 15 jaar af mag kinders wettig begin werk (behalwe as hulle natuurlik in die skool moet wees!). Volgens wet is die minimum betaling vir jeugdiges wat pas tot die arbeidsmark toegetree het NZ $9.60c per uur en na drie maande se werk gaan dit op tot $12.00 (Bronne: Dept van Arbeid & Employment Relation Service).

 

Dit word algemeen aanvaar dat skoolkinders na-ure en gedurende vakansies vir hulle werk kry en in ons klein dorpie word omtrent alle besigheidsplekke na skool deur skoolkinders aan die gang gehou en jy kry hulle ORALS. As dit nie vir die skoolkinders was nie weet ek nie hoe die supermarkte, KFC, Pizzahut, Subway en diesulke plekke saans sou kon oop bly nie. Die gevolg is dat kinders vroeg hulle eie karre, selfone en ander luukses kan bekostig wat ouers normaalweg nie sou kon bybring nie.

 

NOG IETS:

 

Kinders onder 16 jaar mag nie werk tydens skoolure nie. Kinders onder 15 jaar mag slegs beskermde werk doen, met ander woorde hulle mag nie met masjienerie werk of swaar goed optel of enige werk doen waar hulle beseer kan word of waar hulle gesondheid benadeel kan word nie.

 

Dit is selde dat enigiemand kinders onder 15 jaar in diens sal neem vir enigiets meer as koerante aflewer of pamflette uitdeel. Hier in ons dorp sal jy elke dag na skool die jonger kinders (so 11 tot 14 jaar) sien koerante aflewer en "flyers" uitdeel. Hulle maak goeie sakgeld daarmee.

 

Ouers moet PR (Permanent Residency) hê voordat die kinders wettig kan werk. 

 

Kinders kan nie apart aansoek doen vir werkspermitte nie.

 

 

PROBLEME OP AUCKLAND LUGHAWE EN SUMMIERE DEPORTASIE

 

Ek is seker julle het al almal die stories gehoor van SAners wie op Auckland lughawe voorgekeer is en met die volgende vlug uit NZ teruggestuur is na SA. Hoekom gebeur dit? KLIEK HIER om die redes te sien - die blad maak in 'n aparte venster oop.

 

 

GEREELDE VRAE OOR WERK, VERLOF EN WERKSPERMITTE

 

KAN DIE MAN / VROU VAN 'N PERSOON WIE 'N WERKSPERMIT HET OOK EEN KRY?

 

Ja. Indien jou man of vrou 'n werkspermit het wat vir langer as 6 maande geldig is kan jy ook aansoek doen om 'n werkspermit en gewoonlik word daar dan 'n "oop" werkspermit aan jou uitgereik. 'n "Oop" werkspermit beteken dat jy vir enige besigheid kan gaan werk en jy is nie beperk tot een werk of werkgewer nie.

 

En wat van die kinders op Skool?

 

As jy op 'n werkspermit in NZ is dan moet jy aansoek doen vir studentevisas vir jou skoolgaande kinders. Dit is nie 'n groot probleem nie en word geredelik uitgereik sonder veel moeite.

 

Kan jy as 'n vakleerling (apprentice) na NZ kom?

 

Die enigste persoon wie as 'n vakleerling (apprentice) na NZ kan kom is 'n jokkie (jockey - soos in resiesperdry). Jy kan net 'n vakleerling in NZ word as jy 'n "Permanent Resident" of 'n NZ burger is.

 

Hoeveel betaalde verlof kry 'n mens in NZ?

 

Werkers in NZ kry volgens wet VIER (4) weke betaalde verlof elke jaar. Hoe jy jou verlof kan neem en ophoop hang van die werkskontrak af wat jy met jou werkgewer het en verskil van maatskappy tot maatskappy.(Bron)

 

Hoeveel siekverlof kry 'n mens in NZ?

 

Gewoonlik is jy geregtig op VYF (5) dae siekverlof per jaar.(Bron)

 

Hoeveel openbare vakansiedae is daar in NZ?

 

New Zealand het ELF (11) openbare vakansiedae per jaar.(Bron)

 

Hoeveel kraamverlof kry 'n mens NZ?

 

Jy kan tot 14 weke kraamverlof kry, MAAR dis nie altyd betaalde kraamverlof nie en die Staat sal jou gewoonlik 'n toelaag gee wat so ongeveer 25% van jou salaris is.(Bron)

 

 

 

^^ TERUG NA BO

 
Kopiereg 2001. Kiwiboer.co.nz. Goedgunstiglik gehuisves deur www.virafrikaans.com